Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Ontleding: Tito ‘realisties’; ‘doen nie genoeg’

Tito Mboweni het die meeste ontleders in sy eerste toespraak as minister van finansies beïndruk, maar in almal se agterkop was die wete dat hy weinig insette in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) self gehad het.

Prof. Raymond Parsons van die sakeskool van die Noordwes-Universiteit.

Dié dokument was waarskynlik al gedruk toe Mboweni 15 dae gelede as minister aangestel is.

Die toespraak wat hy daaroor gelewer het, het hy wel die afgelope paar dae help skryf, het hy in ’n nuuskonferensie beklemtoon.

Peter Worthington, hoofekonoom van Absa, sê die toon van Mboweni se toespraak “was baie meer robuust as die MTBR self, en dit sinspeel daarop dat hy kan druk vir ’n sterker beleidstandpunt in die 2019-begroting.”

Mboweni het ’n onbenydenswaardige taak gehad, maar het ’n “realistiese assessering van Suid-Afrika se maatskaplik-ekonomiese uitdagings gegee en eerlik geïdentifiseer wat reggestel moet word,” sê prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool.

Parsons sê dis uit die MTBR baie duidelik hoe Suid-Afrika se geldsake oor die afgelope dekade agteruitgegaan het. Ekonomiese groei moet dringend versnel, maar daar is geen “kitsoplossing” nie.

“Aan die positiewe kant is dit welkom dat die klem gelê word op groter besteding aan infrastruktuur as aandrywer van groei; op die noodsaak dat die private sektor op ’n groter skaal gemobiliseer word om inwerkingstelling te versnel; en op groter verantwoordbaarheid by plaaslike regerings.

Jabu Mabuza, sameroeper van die CEO Initiative.

“Die herorganisering van staatsbeheerde ondernemings en die vemindering van hul las op die regering se geldsake is ’n stap in die regte rigting, maar moet dapper getakel word.”

Parsons sê die syfers wys hoe die staat se salarisrekening die fiskale balans versteur.

Hy sê heelwat pynlike besluite sal nog geneem moet word om die ekonomie uit sy strik van trae groei te verlos. Dit sluit in “beduidende strukturele hervormings”.

Worthington reken die tesourie se verwagting vir ekonomiese groei is steeds ooroptimisties. Die MTBR voorspel nou reële 2018-groei van 0,7%, teenoor 1,5% in Februarie, maar Absa verwag net 0,4%.

Die verskil tussen die tesourie se groeiverwagting en Absa s’n kan ’n verskil van R47 miljard in belastinginkomste beteken.

Die CEO Initiative, ’n organisasie wat met die regering saamwerk om werk te probeer skep, is bekommerd oor die styging van skuld as verhouding tot die bruto binnelandse produk (BBP).

Jabu Mabuza, medesameroeper van die CEO Initiative, sê gegewe die uitdagings in die ekonomie is hy bemoedig dat die regering “duidelik van plan is om meer te doen met die beperkte bronne tot sy beskikking”.

“Ons herhaal enige styging in die regering se skuldvlakke is ’n beduidende risiko vir die land se kredietgradering, wat ons dringend moet verbeter ten einde ’n omgewing te skep waarin volhoubare en inklusiewe groei behaal kan word.”

Die CEO Initiative is bekommerd oor die skerp styging in die salarisrekening, maar loof Mboweni dat hy nie ekstra geld beskikbaar stel daarvoor nie. Mboweni het aan nasionale en provinsiale staatsdepartemente gesê die verhoging in staatsamptenare se salarisse moet uit hul eie begrotings kom.

Die CEO Initiative is bemoedig deur die “groot klem op en politieke wil om korrupsie uit te wis en goeie korporatiewe beheer by sleutelinstellings te herstel”. Dit sluit die SAID in.

Die klem op die verbetering van munisipale infrastruktuur, sowel as die versterking van finansiële bestuur by munisipaliteite, word geloof.

Die CEO Initiative is bly Mboweni lê soveel klem op die rol wat die private sektor kan speel in projekbestuur, sowel as ’n teken dat hy vars dink oor die herstrukturering van staatsondernemings. “Ons herhaal dat enige bykomende finansiering vir staatsondernemings – insluitend die Suid-Afrikaanse Lugdiens – op ’n manier gedoen moet word wat fiskale dissipline verseker.”

Die SAL het ’n bykomende R5 miljard van die tesourie gekry om te keer dat hy agterstallig raak met lenings.

Die Mineraleraad van Suid-Afrika sê die “eerlikheid en openhartigheid” van Mboweni se toespraak het hulle die meeste beïndruk. Daar was geen poging om die erns van die ekonomiese krisis te onderspeel nie.

“Hoewel die ekonomiese voorspellings niemand gerusstel nie, ook nie die kredietgradeerders nie, word gehoop dat die herbevestiging van Ramaphosa se verbintenis tot die uitwissing van korrupsie en ondoeltreffendheid die land meer tyd sal koop. Die land kan beslis nie selfs hoër skuldterugbetalings bekostig nie, wat die gevolg kan wees van verdere afgraderings.”

Die Mineraleraad verwelkom dat die koolstofbelasting tot Junie uitgestel is.

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel.

Mboweni se uitspraak dat die mure tussen die openbare en private sektor afgebreek moet word, verteenwoordig ’n reuse-ommeswaai in die regering se benadering tot staatsondernemings, sê Maarten Ackerman, hoofekonoom en adviserende vennoot by Citadel Investment Services.

Hoewel die syfers swakker is as in Februarie, is die regte plan in plek, maar dit sal net tyd verg om dit uit te voer. Hoewel die ekonomie swakker lyk oor die medium termyn, sal die nuwe beleid vertroue herstel en beleggings na Suid-Afrika teruglok, meen Ackerman.

Die erkenning dat openbare-private vennootskappe deel van die oplossing vir staatsondernemings is, is ’n reuse-stap vorentoe.

Ackerman gee toe die boodskap uit Mboweni se mediumtermynbegroting is baie anders as Februarie se begroting en ’n jaar gelede se mediumtermynbegroting. Ondanks die swakker begrotingstekort en skerp laer groeiverwagtinge is dit volgens hom ’n waarskynlik meer positiewe mediumtermynbegroting as verlede jaar s’n. Verlede jaar was die regering nog op die punt om vir ’n kernkragprojek voorsiening te maak wat skuldvlakke tot 60% van BBP sou opdruk.

Die nuus dat belastingverhogings in die komende Februarie-begroting onwaarskynlik is, sal verligting bied vir vuisvoos verbruikers.

Mboweni se belangrikste taak was om ’n visie vir ’n kleiner begrotingstekort voor te lê, maar hy het nie daarin geslaag nie, sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga.

Le Roux wys egter ook daarop dat Mboweni waarskynlik min invloed op die MTBR gehad het. “Hy is maar skaars twee weke in die tuig, so daar is nie veel wat hy aan heelwat van die syfers sou kon doen nie. Hy sou byvoorbeeld nie sommer die voorsiening vir die staat se salarisrekening afwaarts kon aanpas nie, maar het ten minste gepoog om die groei daarvan binne perke te hou.

“Terselfdertyd is daar weer eens reddingsboeie vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens, SA Express en die Poskantoor belowe en Mboweni het hierin ongelukkig nes sy voorgangers opgetree.”

Le Roux spreek sy blydskap uit dat Mboweni klaarblyklik daarteen besluit het om voorbrand vir van sy meer omstrede beleidsvoorkeure te maak.

“Dis goed dat Mboweni nie dinge soos ’n staatsbank, ’n staatsfonds (sovereign wealth fund) en 40%-staatseienaarskap van mynmaatskappye in die vooruitsig gestel het nie. Hopelik sal hy permanent hiervan afsien.

“Uit sy eerste begrotingsrede is daar ongelukkig geen teken dat Mboweni tans oor die nodige visie vir fiskale stabilisering beskik nie.”

Meer oor:  Staatskuld  |  Mtbr2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.