Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Tito swyg nog oor NGV se finansiering
gesondheid
Belastingbetalers wat wil weet hoe vir die staat se gesondheidsplan betaal gaan word, sal nog langer moet wag want Tito Mboweni het niks daaroor in sy begrotingsrede verklap nie.

Dit gaan selfs langer as verwag neem voordat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ’n werklikheid word, maar dié plan word beslis nie geskrap nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, verwys in sy begrotingsrede slegs een keer na die NGV en laat die interpretasie daarvan oop: “Oordragte aan provinsies ondersteun skoolonderrig aan 13 miljoen kinders en gesondheidsorg aan 49,1 miljoen Suid-Afrikaners. Dis in dié konteks dat dit belangrik is om die gesprekke oor die NGV vorentoe te neem.”

Nietemin word die begroting van die departement van gesondheid oor die volgende drie jaar met R3,9 miljard besnoei. “Dit impliseer dat sekere bedrywighede wat met die NGV verband hou, oor ’n langer tydsraamwerk ingefaseer gaan word.”

Boonop word R800 miljoen, wat as ’n onregstreekse NGV-toewysing begroot is, weens “onderbesteding” vir die bekamping van MIV/vigs, tuberkulose, malaria en uitreikingsprogramme oor gesondheid hertoegewys.

Die tesourie sê die fokus is vir eers op die verbetering van staatshospitale en -klinieke sodat hulle vir die NGV geakkrediteer kan word.

’n Span wat pres. Cyril Ramaphosa saamgeroep het, het ’n plan opgestel vir die verbetering van gesondheidsorg. R25 miljoen word vir die nuwe boekjaar hieraan toegewys. “Die volgende toewysings sal gegrond wees op die vordering wat in 2020-’21 gemaak is.”

Oor die volgende drie jaar word tot R55,6 miljoen ook aan die departement van gesondheid toegewys om sy vermoë te versterk om die NGV te kan infaseer.

Die begrotingsoorsig bevat geen verwysing na die toekoms van private mediese fondse nie.

Hoewel die tesourie verlede jaar gewaarsku het dat mediese belastingkrediete dalk uitgefaseer gaan word soos wat die NGV in werking gestel word, kry belastingbetalers met mediese fondse egter weer vanjaar effens meer verligting.

Die belastingkrediete word egter met net 2,9% meer, minder as die verwagte inflasiekoers (4,4%) en heelwat minder as die styging in mediesefondstariewe (tussen 8% en 10%).

Die eerste twee begunstigdes op ’n fonds kry nou ’n belastingkrediet van R319 per maand (teenoor R310 in die lopende belastingjaar) en bykomende begunstigdes kry R215 per maand (teenoor R209).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.