Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Tito verlaag verwagting oor groei vir 2020

Die tesourie skat gewoonlik dat die plaaslike ekonomie veel beter sal vaar as wat private instansies verwag, maar sy nuwe beramings is buitengewoon negatief.

ekonomie
’n Jaar gelede het Tito Mboweni, minister van finansies, nog aangevoer dat die land se ekonomie met 1,5% in 2019 sou groei.

Die begrotingsrede wys Woensdag die tesourie verwag nou dat die ekonomie in 2019 met net 0,3% gegroei het. Die finale groeisyfers vir 2019 word wel eers op 3 Maart deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) uitgereik.

Die tesourie se nuwe skatting vir 2019 is laer as selfs die 0,4% wat die Reserwebank, Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds (IMF) verwag, maar wel in pas met Moody’s se pessimistiese voorspelling.

Die tesourie verwag dat die 2020-boekjaar ook nie veel beter gaan vaar nie.

Groei in die bruto binnelandse produk van slegs 0,9% vir 2020 word nou verwag – skaars genoeg om by te hou met die bevolkingsgroei en in ’n tyd waar die werkloosheidskoers nuwe hoogtepunte bereik.

Die amptelike werkloosheidskoers vir die vierde kwartaal van 2019 was op 11 Februarie onveranderd op 29,1% gehou, die hoogste vlak nóg.

Maar die uitgebreide definisie van werkloosheid het gestyg tot ’n rampspoedige 38,7%.

Dié skokkende syfers is grootliks veroorsaak deur enorme afleggings in 2019 soos wat ondernemings in die powere ekonomie sukkel.

Die tesourie se meer realistiese verwagtinge is wel verrassend, veral gesien dat die Centre for Development and Enterprise (CDE) aan die einde van 2019 in sy verslag “Running out of Road” verwys het na hoe die regering met elke begrotingsrede hom keer op keer “misgis” oor die groeiverwagtinge van die land.

Volgens die CDE is die tesourie gewoonlik met tussen een en drie persentasiepunte uit wanneer hy oorskat met hoeveel die ekonomie sal groei.

’n Jaar gelede het Tito Mboweni, minister van finansies, nog aangevoer dat die land se ekonomie met 1,5% in 2019 sou groei.

“Ons ekonomie het vantevore gewen, en dit sal weer wen,” het Mboweni Woensdag gesê.

Die begrotingsrede toon ’n groot oorsaak van die agteruitgang in die ekonomie is die mislukking van die “ratte” van die ekonomiese stelsel, soos kragtoevoer en die doeltreffendheid van hawens.

Mboweni se begroting beskou hierdie mislukkings, van onder meer staatsondernemings soos Eskom, egter as ’n geleentheid vir die private sektor om toenemend oor te neem.

Die minister draai nie doekies daaroor om nie dat die private sektor ’n groter en sleutelrol moet speel as die verswakkende ekonomie ’n keerpunt wil bereik.

Die private sektor se beduidende “vaardighede en vermoëns om beleggings te lok” moet ingespan word waar die staat daarin faal, sê die tesourie.

Meer oor:  Eskom  |  Tesourie  |  Tito Mboweni  |  Ekonomiese Groei  |  Bbp  |  Begroting2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.