Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Tito verwag nie nog afgraderings

“Ons is al genoeg gestraf en ek verwag nie verdere afgraderings nie,” het Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag gesê.

Die hoofkantoor van Fitch Ratings in Londen. Die agentskap het reeds Woensdagmiddag met die tesourie vergader oor die nuutste syfers. Foto: Simon Dawson, Bloomberg

Hy is op ’n mediakonferensie ná sy mediumtermynbegrotingsrede uitgevra oor die risiko van verdere kredietafgraderings vir die land.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van finansies, het gesê die tesourie vergader kort ná die mediakonferensie reeds met die kredietgraderingsagentskap Fitch Ratings.

“Maar moenie my op die brandstapel plaas hieroor nie. Ons praat met die agentskappe. Ons kan nie die syfers vir hulle wegsteek nie. Die syfers is wat dit is,” het Mboweni gesê oor die skerp toename in Suid-Afrika se skuld tot 95,3% van BBP teen 2026 voordat dit sal stabiliseer.

Hy het wel die res van die staatsektor gewaarsku dat die land op pad is na ’n skuldkrisis as dinge nie nou verander nie.

Mogajane en Edgar Sishi, hoofdirekteur van die tesourie se begrotingskantoor, meen die jongste mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) is ’n plan wat kan werk om die skuldtrajek te stabiliseer. “Ons neem die krisis ernstig op,” het Mogajane gesê.

Nie gekapituleer oor SAL

Mboweni het die R10,5 miljard wat aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) toegeken word, verdedig, en het die bewerings van die DA ontken dat hy kapituleer en swig onder druk.

“Die staat as aandeelhouer van die SAL het verpligtinge om na te kom. Dit is nie ’n reddingsboei nie,” het Mboweni gesê.

Tshepiso Moahloli, hoofdirekteur van die tesourie se lastebestuurseenheid, het verduidelik die R16,4 miljard wat in Februarie aan die SAL beloof is, is slegs om die lugdiens se historiese staatsgewaarborgde skuld en rente terug te betaal.

Die R10,5 miljard wat nou beloof is, is onder meer om verpligtinge na te kom rakende vliegkaartjies wat nie gebruik is nie, om van die SAL se filiale se skuld terug te betaal sodat hulle nie skuldbelaai is as deel van ’n nuwe lugdiens nie, om vir skeidingspakkette voorsiening te maak, en om ook sekere skuldbriewe en ander skuld af te los.

Die staat as aandeelhouer van die SAL het verpligtinge om na te kom. Dit is nie ’n reddingsboei nie.
Tito Mboweni, minister van finansies

’n Bedrag wat nodig is om ’n nuwe lugdiens te begin, is volgens Moahloli nog nie eens bygetel nie, want die regering soek nog ’n strategiese vennoot vir die SAL.

Eskom se skuld

Oor wanneer daar met ’n oplossing vir Eskom se enorme skuldlas van meer as R488 miljard vorendag gekom gaan word, het Moahloli gesê die skuld is ’n Eskom-probleem. “Dit is nie ’n tesourieprobleem nie. Dit is ’n simptoom van ’n klomp ander kwessies by Eskom wat eers moet regkom. Eskom moet sekere goed doen om te wys hy is besorg oor die skuld.”

Mboweni meen dit is nie raadsaam om te praat oor die omskepping van Eskom-skuld in aandele nie, want die verdeling van Eskom in drie afsonderlike entiteite moet eers afgehandel word.

Volgens hom is ’n groot denkskuif nodig. “Ons het gespog ons is een van die rykste lande in Afrika en ons gedrag en sielkunde was in daardie rigting, maar dinge het verander. Die wêreld het radikaal verander.”

Hy het verwys na hoe tegnologie die werkplek ingrypend verander het, soos dat banke mense aflê omdat tegnologie hul werk oorneem en jong mense nie meer banktakke besoek nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.