Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Twis oor salarisse in staat: Dié kind moet grootword

In ’n lesing oor kinderopvoeding vertel iemand van die ma wat kla haar driejarige kind laat haar nie toe om sy hare te was nie. ’n Ander opgeskote knaap vra toe: “Maar hoe groot is dié driejarige kind dan?”

Francois Williams

Dis omtrent hoe die staat se stryd met die staatsdiensvakbonde lyk. Toe regter Dennis Davis in die arbeidsappèlhof vir adv. Tim Bruinders vra waarom die staat dan nie in 2018 suksesvolle kostebesnoeiings as voorwaarde ingeskryf het in die driejarige loonooreenkoms met staatsdiensvakbonde nie, het Bruinders amper in soveel woorde geantwoord: “Maar hulle wou ons nie toelaat nie!”

Die hofsitting die afgelope Woensdag het behoorlik weer die wurggreep van vakbonde op die regering blootgelê, maar ook die pynlike krake in elkeen se mondering.

Aan die een kant was daar vier knap advokate wat verskillende staatsdiensvakbonde verteenwoordig het, met die twee ewe knap advokate aan die ander kant vir onderskeidelik Tito Mboweni as minister van finansies en Senzo Mchunu as minister van staatsdiens en administrasie.

Die vakbond-advokate se wesenlike argument klink uiteraard heel billik as jy jou in die skoene van ’n onderwyser, polisiebeampte of gesondheidswerker in diens van die staat plaas: ’n Ooreenkoms is in die openbare sektor se kollektiewe bedingingsraad bereik, en daardie ooreenkoms moet eerbiedig word. Die staat breek kontrak as hy nou skielik nie meer wil opdok waarvoor hy al in 2018 geteken het nie.

Om nou te wil omswaai, is mos ’n vertrapping van die hele beginsel en grondslag van kollektiewe bedinging. Waarom al die moeite doen met onderhandelinge as die werkgewer halfpad deur die verloop van ’n tydperk eensydig besluit dit pas hom nou nie meer nie?

  

Interne tweespalt

Wat nie in die staat se guns tel nie, is dat sy twee advokate, soos ’n spieëlbeeld van die regering se interne tweespalt en teenstrydige beleidstrome, verskil in hul interpretasie van die wettigheid en geldigheid van die gewraakte loonooreenkoms van 2018.

Bruinders, vir Mchunu, stem saam met die vakbonde dat die ooreenkoms heeltemal geldig en wettig was, maar net tot vanjaar, toe skielik besef is die bestedingsperk van R110 miljard gaan met sommer meer as R30 miljard oorskry word as vanjaar se verhoging betaal moet word – grootliks weens veel groter druk op die staatskas weens die swak ekonomie, kredietafgraderings wat rentekoste opjaag, en die ekstra geld wat die staat se Covid-19-ingrepe kos.

Helaas lyk dit of die Suid-Afrikaanse vakbondwese steeds soos ’n driejarige kind optree – gooi ’n vloermoer totdat jy jou sin kry.

Maar adv. Jeremy Gauntlett, vir Mboweni, voer aan die ooreenkoms was uit die staanspoor ongeldig. Hy het verwys na ’n brief van Malusi Gigaba, in sy laaste maand as minister van finansies, wat hy op 14 Februarie 2018 geskryf het om te waarsku oor die bekostigbaarheid van die beoogde loonooreenkoms.

Daar was volgens Gauntlett toe al duidelikheid dat die ooreenkoms sekere tesourieregulasies sou oortree.

Tito Mboweni, minister van finansies, het vroeër gewys op salarisverdieners in die private sektor wat nou in die Covid-19-pandemie skerp verlagings in vergoeding moes aanvaar. Wat maak staatsamptenare beter dat hulle niks hoef op te offer nie? Foto: Jaco Marais

Op die ou einde het die staat bloot ’n baie wilde kans gevat om wel die ooreenkoms te laat voortgaan, want die tesourie het toe al geweet hy sou net by die perk van R110 miljard kon hou as hy skerp kostebesnoeiings suksesvol kon deurvoer – soos die sny van poste, waarvoor die vakbonde natuurlik glad nie te vinde was nie.

Op die oog af: Die vakbondadvokate het ’n fine cheek, soos die Engelsman sê, om nou aan te dring om by die letter van die ooreenkoms te bly as dit deur hul eie kliënte se toedoen is dat die ooreenkoms onmoontlik is om toe te pas.

Davies het tereg aan die vakbondadvokate gewys op hoe selfsugtig hul kliënte werklik is as ’n mens gis oor waarop meer as R30 miljard beter bestee kon gewees het. Mboweni het vroeër gewys op salarisverdieners in die private sektor wat nou in die Covid-19-pandemie skerp verlagings in vergoeding moes aanvaar. Wat maak staatsamptenare beter dat hulle niks hoef op te offer nie?

Al is vakbonde al sedert die laat 1800’s in Suid-Afrika bedrywig, was dit maar eers sedert die 1970’s dat swart werkers wettig toegelaat is om te staak. Die apartheidsregering het drakonies neergekom op vakbondbedrywighede en op enige nywerheidsoptrede deur swart werkers.

Dis eers met nuwe wetgewing sedert 1995 dat die vakbondwese werklik legitimiteit gekry het. Anders as elders in die wêreld, is die georganiseerde arbeid hier dus nog ’n relatiewe tiener. Helaas lyk dit of die Suid-Afrikaanse vakbondwese steeds soos ’n driejarige kind optree – gooi ’n vloermoer totdat jy jou sin kry.

Maar dié kind sal een of ander tyd sy verstandtande moet kry, want soos Gauntlett gesê het: Ons hande is ongelukkig leeg.

  • Francois Williams is ’n senior sakeverslaggewer van Netwerk24. Punt van die Saak is ’n gereelde meningstuk.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.