Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Verhogings: Vakbonde briesend oor staat uitstel vra

Die regering en staatsdiensvakbonde stuur af op ’n harde koppestamp omdat die regering Woensdag wil vra vir uitstel in die hofsaak waarin vakbonde eis dat die regering hom by sy loonooreenkoms hou.

Empty classroom
Onderwysers en ander staatsamptenare moes ingevolge ’n loonooreenkoms vanjaar ’n verhoging van tussen 4,4% en 5,4% gekry het. Die staat het egter gesê hy kan dit nie bekostig nie.

Muhgwena Maluleke, sekretaris-generaal van die onderwysvakbond Sadtu en koördineerder van Cosatu se onderhandelingspan by die staatsdiens se kollektiewe bedingingsraad, sê hulle het ’n brief van die staatsadvokaat ontvang wat aandui die regering wil die saak tot Februarie volgende jaar laat uitstel. Die vakbonde is woedend hieroor, sê Maluleke.

Die arbeidsappèlhof sou Woensdag beslis het oor die staatsdiensvakbonde se eis dat die regering hou by die loonverhogings vir die laaste jaar van sy meerjarige loonooreenkoms.

Dit sou ’n verhoging van tussen 4,4% en 5,4% behels het wat al in Februarie in werking gestel sou word as gehou sou word by die oorspronklike meerjarige ooreenkoms.

Maar Tito Mboweni, minister van finansies, het al herhaaldelik gewaarsku die staatskas kan nie meer die verhoging bekostig nie. Hy het in Februarie al gesê die tesourie gaan probeer om die staatsdiens se salarisrekening oor die volgende drie jaar met R160 miljard te sny. In Oktober het hy aangedui die salarisrekening sal in die lopende boekjaar met net 1,8% verhoog, en oor die volgende drie jaar met ’n gemiddelde van 0,8% per jaar.

Matthew Parks, parlementêre koördineerder van die vakverbond Cosatu, het bevestig die regering het aangedui hy wil Woensdag vir uitstel vra.

Dr. Leon Schreiber, DA-woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê op sy beurt hy hoor die departement van staatsdiens en administrasie wil eerder ’n skikking met die vakbonde bereik. Dit sal volgens Schreiber die begin van die einde wees vir die regering se halfhartige poging om die staatsdiens se salarisrekening te verlaag.

“Weens die ANC se begeerte om ten alle koste aan politieke mag te klou, is Suid-Afrika nou op koers na ’n fiskale krisis waarvan ons vir minstens ’n generasie nie sal herstel nie,” meen Schreiber.

Die nasionale tesourie se jongste plan om staatskuld te stabiliseer en die staatskas van ’n fiskale afgrond weg te keer, is juis gegrond op die aanname dat die regering nie vanjaar ’n verhoging aan staatsamptenare hoef te betaal nie.

Intussen sê Maluleke die regering se besluit om vir uitstel te vra, is net ’n vertragingstaktiek. Gevra oor die moontlikhede van ’n skikking het hy gesê daar is geen sprake daarvan nie. Die regering wil bloot die hofsaak tot Februarie se begroting uitstel. Volgens Maluleke is dit die regering wat ’n teenaansoek in die Arbeidsappèlhof ingedien het, en het regeringsonderhandelaars uitgeloop uit vergaderings by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie. Hy glo dus nie enige bewerings dat die regering belang stel in een of ander skikking met die vakbonde nie.

Die regsfirma Bowmans, wat namens die vakbonde in die arbeidshofsaak optree, het Dinsdagmiddag gesê die saak gaan wel Woensdag voort, in teenstelling met Schreiber se bewering dat die regering besluit het om die hofproses te staak. Maar Maluleke sê die regter sal Woensdag die finale besluit neem of die saak wel uitgestel word en of dit voortgaan.

Schreiber voer intussen aan die regering oorhandig in effek die staat se beursie oor aan ’n paar honderdduisend vakbondlede ten koste van 60 miljoen Suid-Afrikaners, as hy sou toegee aan die vakbonde se eis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.