Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
‘Volg Biden se voorbeeld: Gee meer geld vir Jan Taks’

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal vir die volgende drie jaar steeds elke jaar ’n tekort van meer as R2 miljard hê.

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Die geld wat hy van die tesourie kry om sy bedrywighede te finansier, is sedert 2013 nog nooit met inflasie verhoog nie, het Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, Woensdag gekla.

Kieswetter het Amerika voorgehou as ’n voorbeeld vir die regering om na te volg. Dié land se pres. Joe Biden het onlangs gevra dat $80 miljard ekstra aan die Amerikaanse inkomstediens (IRS) gegee word om veral rykes beter te kan oudit.

Biden hoop om binne ’n dekade sowat $700 miljard se ekstra belasting in te vorder danksy dié belegging in die IRS.

Dit is volgens Kieswetter ’n vermenigvuldigingseffek van sowat nege, terwyl ’n belegging in die SAID ’n vermenigvuldigingseffek van minstens tien kan behaal.

“As ons belastingwetgewing voldoende kan afdwing en bloot die inkomste invorder wat betaalbaar is, hoef ons nie belastingkoerse te verhoog nie.

“Jy sal minstens tien keer die geld terugkry wat jy in die SAID belê,” het Kieswetter aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê.

Pres. Joe Biden lewer Dinsdag ’n toespraak in die eetkamer van die Withuis, met ’n portret van pres. Abraham Lincoln in die agtergrond. Biden het verlede week gevra $80 miljard ekstra moet aan die Amerikaanse inkomstediens gegee word om belastinginvordering te verbeter. Foto: Reuters
Loonooreenkoms

Die SAID verwag ’n tekort van R2,248 miljard vir die lopende boekjaar, en tekorte van onderskeidelik R2,256 miljard en R2,226 miljard vir die daaropvolgende boekjare, het Kieswetter gewaarsku.

Dit is ook waarom die SAID vir ’n derde agtereenvolgende jaar nie sy loonooreenkoms met vakbonde kan nakom nie, en hy sal van êrens geld moet kry om bonusse te betaal.

Die SAID kry net R11,3 miljard van die tesourie om sy werk te doen. Sy totale inkomste per jaar word op R11,7 miljard geraam – die ekstra byna R500 miljoen (afgerond) kom van heffings.

Maar sy bedryfskoste is naby R14 miljard per jaar.

Die onderfinansiering lei tot ’n wesenlik negatiewe impak op die institusionele integriteit van die SAID, het Kieswetter gemaan.

Geordin Hill-Lewis, DA-lid van die komitee, sê hy stem saam met Kieswetter, want dit lyk of die opbrengs op ’n belegging in die SAID beter is as om ekstra skuld aan te gaan of belastings te verhoog.

Kieswetter het wel die tesourie bedank vir die R3 miljard ekstra wat vir die volgende drie jaar beloof is.

Invordering het verbeter

Die SAID se voorlopige ramings is dat hy vir die afgelope boekjaar R1 238 miljard se belasting sal invorder, wat R38 miljard meer is as vorige teikens, het dr. David Masondo, adjunkminister van finansies, in sy spreekbeurt voor Kieswetter aan die komitee gesê.

Maar die besteding van R1 791 miljard in die afgelope boekjaar was ver meer as die inkomste. Dis goeie nuus dat die begrotingstekort van R552 miljard laer was as geskat, want ’n tekort van R603 miljard is verwag, het Masondo gesê.

“Maar dit is klein, bykans onbeduidend, so ons kan nie op ons louere rus nie,” het Masondo gewaarsku. Die staat se skuld is byna op R4 000 miljard en kan teen 2023-’24 tot R5 200 miljard styg, met skulddienskoste wat steeds sal styg.

“Om belastinginvordering te verhoog, moet die ekonomie groei, en daarom werk ons hard aan die ekonomiese herstelplan se strukturele hervormings. Die stryd teen Covid-19 en kragtekorte is egter die grootste onmiddellike risiko’s,” het Masondo gesê.

Hy het erken mense in die land is onwillig om belasting te betaal as hulle voel hul geld word deur bedrieërs gemors of dat die staat dit nie doeltreffend bestee nie.

Kieswetter het op sy beurt verduidelik die werk van die SAID word ondermyn as sy integriteit nie vertrou word nie. Vrywillige belastingvoldoening is belangrik, want die SAID het nie die hulpbronne om oral voldoening af te dwing nie.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens glo hy kan tien keer meer geld invorder as die geld wat die tesourie aan hom bewillig. Foto: Gallo Images
Personeel

Weens sy geldtekort kon die SAID nie die afgelope jare vakatures vul of personeel uitbrei nie, het Kieswetter gesê.

Vir die 570 vakatures wat hy wel onlangs geadverteer het, is meer as 88 000 aansoeke ontvang, wat wys hoe gretig Suid-Afrikaners is om werk te kry. Baie van die aansoekers het vir soveel as 17 poste aansoek gedoen, met 18 000 unieke eksterne aansoeke en 2 000 interne aansoeke vir die 570 poste.

Uit welwillendheid het die SAID onlangs 723 skoonmakers as SAID-werknemers aangestel wat voorheen uitgekontrakteer was. Een van dié skoonmakers het ’n meestersgraad en talle ander het naskoolse opleiding.

Van sy onlangse aanstellings is 100 IT-spesialiste, 170 ekstra doeanebeamptes, 90 ekstra beamptes om voldoening af te dwing en op rykes te fokus, en 200 poste vir jong gegradueerdes om hulle werkervaring te gee.

Ondersoeke

Die SAID is aktief betrokke om geld terug te kry wat weens bedrog of staatskaping weg is. Daar is 571 aktiewe ondersoeke wat R4 miljard behels.

In sewe staatskapingsprojekte word 85 siviele sake en 58 strafregtelike sake ondersoek.

Hiervan is sewe van die siviele sake al afgehandel en 32 van die strafregtelike ondersoeke is deur die SAID afgehandel, waarvan 27 aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oorhandig is.

Die SAID het juis volgende week ’n werksessie met die NVG om seker te maak strafregtelike ondersoeke kry prioriteitsaandag.

In ander belastingsake is al byna R2 miljard se inkomste in die afgelope jaar teruggewen, R223 miljoen se bedrogpogings is gekeer en R1,1 miljard se inkomste-lekkasies is opgetel en voorkom.

Op byna R5,5 miljard se bates is daar nege bewaringsbevele uitgereik waar die SAID ’n redelike vermoede het van ’n vlugrisiko. Die SAID het ook vyf klopjagte op persele gedoen, 1 661 ingrypings in onwettige handel gedoen, byna 500 ingrypings in doeane, en meer as 4 600 beslagleggings van onwettige goedere van R2,2 miljard.

Kieswetter sê dit is maar net die oortjies van die seekoei.

Buitelandse bates

Volgens Kieswetter weet die SAID van R400 miljard se bates van Suid-Afrikaners in buitelandse bankrekeninge, maar is nie seker of al dié bates wetlik gerapporteer is nie.

In ’n vorige vrywillige openbaarmakingsprogram het Suid-Afrikaners tot R44 miljard se bates verklaar en is sowat R4 miljard se belasting daaruit verdien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.