Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting 2018
Waar gaan staat R30 mjd. vir verhogings kry?

Ayanda Dlodlo, minister van staatsdiens en administrasie, gaan binne die volgende week of twee planne gereed hê om R30 miljard in die begroting te vind om oor die volgende drie jaar vir staatsamptenare se salarisverhogings te betaal.

Ayanda Dlodlo, minister van staatsdiens en administrasie. Foto: Kopano Tlape

Die verhogings is in Mei toegestaan, maar is hoër as waarvoor begroot is.

Dlodlo se planne sal skeidingspakkette van staatsamptenare insluit.

Arbeidsbesnoeiing is die neteligste van vyf metodes van besparing wat Dlodlo oorweeg.

Die ander is streng beheer oor:

  • Betalings vir oortyd;
  • Prestasiebonusse;
  • Verlofuitbetalings; en
  • Betalings ingevolge die beroepspesifieke bedeling.

Sy het verlede week ’n hersiene ministeriële handboek aan pres. Cyril Ramaphosa besorg met besparingsplanne om die uitgawes van kabinetslede te beperk, maar dit sal ’n druppel in die emmer wees.

“Dit gaan ook besparings meebring, maar dit sal hoofsaaklik simbolies wees. Die besparings in die kabinet sal nie veel verskil maak aan die R30 miljard wat ons nodig het nie,” het Mava Scott, Dlodlo se woordvoerder, gesê.

Die kabinet sal die belangrikste gedeeltes van die besparingsplanne, veral voorstelle vir arbeidsbesnoeiings, moet goedkeur, sê Scott.

Salarisverhogings beloop vanjaar 7% vir amptenare op die onderste posvlakke, 6,5% op die middelste posvlakke en 6% op die boonste twee posvlakke.

Die staat se salarisrekening het sedert 2009 gestyg met gemiddeld 10,3% per jaar en het toegeneem van 32,9% van totale staatsbesteding in 2008 tot net meer as 35,3% vanjaar – een van die hoogstes in ontwikkelende lande.

Personeelgetalle in die staatsdiens het in 2013 ’n hoogtepunt van 1,33 miljoen bereik, maar het sedertdien effens afgeplat tot 1,3 miljoen. Vergoeding per werknemer het egter aanhou styg – aansienlik meer as die inflasiekoers.

“Sowat ’n kwart van die groei in personeeluitgawes is vir indiensneming van nuwe aanstellings en die res vir hoër vergoeding,” het die tesourie verlede jaar in die mediumtermyn-begrotingsraamwerk gesê.

In vanjaar se begrotingsrede het die tesourie gesê die staat se salarisrekening het so toegeneem dat besteding aan ander items in die wiele gery word.

Dis veral die geval in arbeidsintensiewe departemente soos verdediging, justisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Die SAPD se personeeluitgawes het gestyg van 70% van die departement se totale begroting in 2009 tot 76,6% verlede jaar.

Die personeelkorps het skerp gestyg van 170 000 in 2008 tot 190 000, maar die getal polisielede het konstant gebly op sowat 150 000.

Die res is personeellede wat aangestel is om administrasiewerk te doen sodat polisielede hulle net op misdaadbekamping kan toespits.

“In die provinsies is salarisdruk veral hoog in die gesondheidsektor. In Limpopo het dit byvoorbeeld toegeneem van 58,9% van die gesondheidsbegroting in 2009 tot 71% in 2017,” het die tesourie gesê.

In die jongste loonskikking met vakbonde is ooreengekom dat staatsamptenare wat egpare is van wie albei vir die staat werk, in die toekoms albei huissubsidies sal kry, waar vroeër net aan een van die twee ’n huissubsidie toegeken is.

Net vanjaar gaan dít die belastingbetaler ’n bykomende R900 miljoen kos.

“Ons is egter van plan om huissubsidies voortaan baie streng te bestuur, selfs sodat dit ’n kleiner uitgawe word,” sê Scott.

“Ons is ook besig met omvattende werk om na die organisasiestruktuur van staatsdepartemente te kyk. Dit gaan uitloop op opdragte wat perke plaas op bykomende aanstellings,” sê Scott.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.