Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
‘Waar is die voorwaardes vir SAL-hulp?’

Dis “nie goed genoeg” dat Tito Mboweni, minister van finansies, bloot aan nasionale en provinsiale regerings gesê het hulle moet self die geld kry vir die hoër as verwagte verhogings in staatsamptenare se salarisse nie.

Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika.

So sê Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa), in sy kommentaar op die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR), wat Mboweni Woensdag by die parlement ingedien het.

Nagenoeg R30,2 miljard méér as wat in Februarie begroot is, gaan oor die volgende drie jaar vir staatsamptenare se salarisse nodig wees nadat vakbonde verhogings van tot 7% vir staatsamptenare beding het.

Coovadia sê gegewe die enorme salarisrekening, raak dit al hoe moeiliker om geld vir investering te vind.

Dít word kommerwekkend gegewe dat R27,4 miljard minder belasting vir die boekjaar tot einde Maart ingevorder gaan word as wat in Februarie voorspel is, met verdere tekorte in die volgende drie jaar.

Coovadia sê hy het ook veels te min gehoor oor die regrukplanne vir staatsondernemings.

“Ons is uiteraard bekommerd oor die plan om nog finansiering aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens en SA Express te gee, sonder ’n duidelike stel voorwaardes.

“Die minister het min gesê oor die ander staatsondernemings waarvan die gebeurlike verpligtinge die land se kredietgradering bedreig.”

Hoewel die MTBR gewemel het van verwysings na pres. Cyril Ramaphosa se stimulus-en-herstelpakket, reken Coovadia steeds daar was te min nuwe besonderhede oor ekonomiese hervormings wat groei sal laat versnel of oor die inwerkingstelling daarvan.

“Ons hoop die dringendheid wat hy getoon het om die krisis in die Vaalrivier-stelsel op te los, sal op ander stimulus-inisiatiewe toegepas word.”

Mboweni het die weermag ingeroep om te help om te verseker dat kraanwater weer drinkbaar word in die dele van Gauteng wat deur besoedeling geraak word.

Aan die positiewe kant is daar lof vir maatreëls wat die las op armes gaan verlig, soos die vrystelling van meel en sanitêre doekies van belasting op toegevoegde waarde (BTW).

Basa is uiteraard ook bly dat die minister sterk steun uitgespreek het vir die onafhanklikheid van die Reserwebank en dié se mandaat van inflasiebeheer.

Meer oor:  Cas Coovadia  |  Staatsondernemings  |  Mtbr2018  |  Basa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.