Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting 2018
Ware houer van tesourie-sleutels
Dr. Kay Brown, hoofdirekteur van bestedingsbeplanning in die Tesourie, in die indrukwekkende ou Reserwebank-gebou op Kerkplein, Pretoria, waar die ministerie deesdae gehuisves word. Brown sal op 3 April haar nuwe pos as uitvoerende hoof van die Finansiële en Fiskale Kommissie opneem. Foto: Deon Raath

Ministers van finansies kom en gaan, die regering se inkomste en prioriteite verander, staatsdepartemente kan soms soos kinders baklei oor húl deel van die beskikbare geld, maar die wiele van die tesourie bly draai.

Die minister is wel die een wat dit afteken, maar dit is byna bisar om te dink enige minister van finansies sal die insette van die tesourie geheel en al minag.
Dr. Kay Brown van die tesourie

Géén minister van finansies sal so agterbaks wees om die voorstelle wat die tesourie maak, heeltemal te minag nie, sê dr. Kay Brown, die vrou wat die afgelope 11 jaar as hoofdirekteur van bestedingsbeplanning daarvoor verantwoordelik was om die staatsgeld tussen die ontvangers te verdeel.

Dit is sy, die tesourie en die departement van beplanning, monitering en evaluering wat op die nippertjie miljarde rande in die 2018-’19-begroting moes vind vir gratis hoër onderwys.

Einde vandeesmaand kom haar loopbaan van 16 jaar by die tesourie tot ’n einde, net weke nadat Nhlanhla Nene weer as minister van finansies beëdig is (hy was ook in 2014-’15 in dié pos).

“Ons sal enige minister dien,” sê Brown oor die tesourie se amptenare, ’n span in wie sy geweldige vertroue het. Maar elke verandering skep uitdagings.

“’n Nuwe minister kom met sy eie personeel en adviseurs en ons moet met nuwe mense werk.”

Dr. Kay Brown was die laaste 11 jaar aan die hoof van bestedingsbeplanning in die begrotingskantoor. Foto: Deon Raath

Dit is die amptenare se plig om die minister te adviseer en die opsies eerlik voor te lê met al die voor- en nadele wat dit inhou.

“Die minister is wel die een wat dit afteken, maar dit is byna bisar om te dink enige minister van finansies sal die insette van die tesourie geheel en al minag. Jou land sal nie twee jaar hou nie.”

Brown sê wanneer sy haar nuwe pos as uitvoerende hoof van die finansiële en fiskale kommissie (FFC) opneem, sal sy veral die tesourie se mense mis.

“Die tesourie se krag is sy mense. Dit is professionele mense van wêreldgehalte.”

Dat Suid-Afrika se begroting nou vir die tweede keer in ’n dekade as een van die deursigtigste ter wêreld aangewys is in ’n interna­sionale onafhanklike indeks, volg op jare se harde werk en toewyding deur die hele span.

Die tesouriespan werk hard om deursigtig te wees en aanvaar die pluimpie nie as vanselfsprekend nie, sê sy. Daar is lande waar burgers nie eens die begrotingstoespraak kry nie.

“Maar dis rof om vir die tesourie te werk. Jy is nie gewild nie. Jy soek na waarde vir geld en vra daarom intense vrae oor hoe iets gefinansier gaan word. Word dit op die goedkoopste manier gedoen, lewer departemente wat hulle moet, is dit wat die burgers regtig wil hê?”

Maar dis rof om vir die tesourie te werk. Jy is nie gewild nie.
Dr. Kay Brown van die tesourie

Die begrotingsproses hou nooit werklik op nie. Die begroting wat jaarliks in Februarie in die parlement ter tafel gelê word, volg op ’n magdom van vergaderings regdeur die jaar op verskeie vlakke van regering, met verskillende departemente afsonderlik en as ’n groep (soos onderwys), ontledings, aanpassings, verslae indien.

Daar is ook hoëvlakvergaderings waarby die direkteurs-generaal van departemente, soos van die staatsdiens en administrasie en tradisionele sake, betrek word voordat dit finaal na die ministerskomitee oor die begroting (MinComBud) gaan.

Uiteindelik is dit Februarie en die begroting dien in die parlement. “Dit is ’n verligting as die markte goed reageer.”

Begrotingsdag vanjaar – enkele dae nadat pres. Cyril Ramaphosa sy eerste staatsrede gelewer het – was ’n goeie dag, want die markte was tevrede, sê die ekonoom in Brown. Die doel is om seker te maak alle departemente en entiteite kry net wat hulle nodig het. “Niks meer en niks minder nie.”

Sy glo nie enige land het al ooit daarop aanspraak gemaak dat hy dit perfek regkry nie, maar “hopelik kry jy dit nie verskriklik verkeerd nie”.

As ’n begroting net ’n tegniese oefening was, sou ’n rekenaar dit kon doen. Die menslike oordeel is belangrik, want dit gaan ook oor die uitvoering van ’n bepaalde beleid. Die werklike situasie op ’n gegewe tyd of ligging bepaal watte toepassingsopsie jy kies.

Augustus tot Oktober is die moeilikste tyd in die begrotingsproses, want dan word die werk vir die mediumtermynbegrotingsraamwerk gedoen, asook tussentydse aanpassings.

Sy is opgewonde oor die vordering met openbare deelname en die insette van die samelewing in die begrotingsproses. Sy was aan die hoof van uitreikprogramme na verskillende gemeenskappe, wat uitgeloop het op “vulekamali”, die interaktiewe aanlynplatform oor die begroting. Dit is ’n vennootskap met die samelewing se “Imali Yethu”-inisiatief.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.