Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Welvaarttaks kan Tito se begroting help klop

Tito Mboweni, minister van finansies, sal geld iewers moet vind om die ekonomie te help herstel van sy langste resessie in drie dekades, en om staatsondernemings te red met ’n begroting wat die grootste tekort sedert 1914 sal toon.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Getty Images

Mboweni sal Woensdag sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) lewer, vier maande ná sy aanvullende begroting wat genoodsaak is weens die behoefte om besteding aan te pas in die lig van pres. Cyril Ramaphosa se R500 miljard-stimuluspakket.

Die staat van inperking het belastinginvordering só geknou dat die regering die Internasionale Monetêre Fonds genader het vir ’n lening – al was die ANC jare lank daarteen gekant.

Met ’n begrotingstekort wat geskat word om 16% van die bruto binnelandse produk (BBP) vanjaar te haal, volgens die konsensusraming van 23 ekonome in ’n Bloomberg-peiling, sal Mboweni nou die pad moet voorberei vir stygings in belasting volgende jaar.

Die tesourie het vroeër vanjaar reeds die moontlikheid van ’n welvaartbelasting genoem, en 30% van die respondente in ’n Bloomberg-peiling verwag dat Mboweni sal Woensdag aankondig dat só ’n taks van Februarie af sal geld.

Dit is ten spyte daarvan dat Suid-Afrikaners reeds oorbelas is met ’n verhouding tussen belastinginkomste en BBP van 26% teenoor ’n wêreldgemiddeld van slegs 15%.

’n Paneel van adviseurs wat deur Ramaphosa aangestel is, het gesê ’n verhoging in die brandstofheffing en boedelbelasting behoort oorweeg te word, tesame met ’n driejaar-“solidariteitsbelasting”, wat inkomstebelasting vir rykes sal opstoot.

“Die ministerie van finansies bevind hom in ’n baie netelige posisie,” sê Nazrien Kader, belastinghoof van Old Mutual. “Hy kan nie net een ding doen nie; hy moet belasting verhoog, uitgawes beperk en ekonomiese groei stimuleer om daardie begrotingstekort te verklein.”

Die kabinet het Mboweni se plan om ’n primêre begrotingsoorskot teen 2023-’24 te teiken, gesteun, en die begroting van hierdie week sal na verwagting die planne uiteensit om die regering se besteding oor die volgende twee jaar met R230 miljard te besnoei.

Volgens ’n afsonderlike Bloomberg-opname kan besuiniging egter die herstel van ’n ekonomie wat vanjaar met 8,5% kan krimp, kniehalter. Daar sal waarskynlik ook groot weerstand wees van vakbonde wat met die ANC geaffilieer is.

Planne om die staat se salarisrekening, wat die afgelope 12 jaar met 40% gestyg het, te verklein, het ’n struikelblok teëgekom en die tesourie het al gewaarsku dat die eis van vakbonde dat die staat sy loonooreenkoms met vakbonde moet eerbiedig, daartoe sal lei dat nog R37,8 miljard se skuld aangegaan moet word.

Mboweni kom ook te staan voor die probleem om staatsondernemings met reddingsboeie aan die gang te hou.

Daar word onder meer reddingsboeie vir die SAL, Denel en die Landbank vereis.

“Die regering en die ministerie van finansies gaan ’n stortvloed van eise hê in die komende maande,” sê Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings  |  Mtbr2020  |  Inkomstebelasting  |  Belasting  |  Begroting  |  Tesourie  |  Mtbr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.