Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Wes-Kaap vrees minder geld van tesourie

Die Wes-Kaap verwag dat die toedeling wat dié provinsie by die nasionale regering kry oor die volgende drie jaar, waarskynlik R5 miljard minder sal wees as wat dit sou gewees het as die nasionale regering sy geldsake beter bestuur het.

David Maynier
David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede. Foto: Malherbe Nienaber

“Ons het nog nie al die feite nie, maar ons beraam die begrotingsvermindering sal ruweg dieselfde wees as die R5,5 miljard-reddingsboei wat vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) opsy gesit is in die nasionale regering se mediumtermynbegrotingsraamwerk,” het David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese ontwikkeling, gesê.

Maynier het die afgelope week die Wes-Kaap se eie mediumtermynbegroting in die provinsiale wetgewer bekend gemaak te midde van groot onsekerheid oor hoeveel minder die provinsies by die nasionale regering gaan kry wanneer Tito Mboweni, minister van finansies, in Februarie sy begrotingsrede lewer.

Mboweni het in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) gesê staatsbesteding sal met meer as R150 miljard oor drie jaar besnoei moet word om Suid-Afrika se skuldvlakke te stabiliseer.

Provinsies sal na verwagting ’n groot gedeelte van die R150 miljard moet “finansier” deur middel van besnoeiings.

Mboweni het voorts gesê daar word beoog om oor die volgende drie jaar altesame R20,3 miljard se toewysings – dit sluit voorwaardelike toelae en pro rata-toewysings in – by die nege provinsies weg te vat.

Die Wes-Kaapse tesourie het in die raamwerk die provinsies voorberei op die ergste scenario. Dit sal behels dat die provinsie sy begroting oor die volgende drie jaar soos volg besnoei:

  • 5% in 2020-’21;
  • 6% in 2021-’22 en
  • 7% in 2022-’23.

In die MTBR het die tesourie R55,5 miljard in 2020-’21, R59,6 miljard in 2021-’22 en R63,2 miljard in 2022-’23 voorlopig aan die Wes-Kaap bewillig.

Maynier het gesê die besnoeiings aan provinsiale toelae wat Mboweni in sy MTBR aangekondig het, kom daarop neer dat provinsies ’n reddingsboei aan die regering verskaf sodat die regering op sy beurt geld kan gee vir wanfunksionele staatsinstellings.

“Dit beteken ook ons gaan ’n tydperk van groot en ongeëwenaarde onsekerheid in.”

Toewysings van die nasionale regering is die tweede grootste bron van inkomste vir die Wes-Kaap, het Maynier gesê.

Hy het aan Rapport gesê die provinsie het danksy versigtige bestuur reserwes opgebou sodat noodsaaklike poste in die onderwys, gesondheid en maatskaplike dienste nie deur Mboweni se besnoeiings benadeel word nie.

“Ons sal die noodsaaklike infrastruktuur in stand kan hou. Maar uiteindelik sal dienslewering ly onder hierdie besnoeiings en elke begrotingspos sal met minder moet klaarkom.”

Minder onderwysers, verpleegsters of dokters sal aangestel kan word en besteding aan die opknapping van staatsgeboue en selfs provinsiale paaie sal verminder word.

Maynier het aan Rapport gesê die Wes-Kaap het geruime tyd al besuinigingsmaatreëls ingestel om sy personeelkoste te verminder.

Meer oor:  David Maynier  |  Wes-Kaap  |  Mtbr2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.