Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
15 miljoen mense per jaar by Mall of Africa verwag
Dié skets wys die enorme Waterfall City-ontwikkeling, met die Mall of Africa in die middel.

Net sewe weke voordat die enorme streekwinkelsentrum Mall of Africa in Waterfall City, Gauteng, oopmaak, het sy ontwikkelaar, Attacq, stewige tussentydse resultate bekend gemaak.

In die ses maande tot Desember het Attacq se netto batewaarde per aandeel met 24,5% opgeskiet vergeleke met die halfjaar tot Desember 2014.

Attacq het uit die baie suksesvolle Atterbury-groep ontstaan en het in Oktober 2013 op die JSE genoteer.

Attacq bestuur nou eiendom ter waarde van R27,1 miljard – ’n stewige 16,3% meer as in Junie 2015 – en byna ’n kwart daarvan in ontwikkelde lande. Die groep spesialiseer in winkelsentrums en kantoorgeboue.

Morné Wilken, uitvoerende hoof, sê hulle “leef hul visie” van “ontwikkel, belê en groei” uit.

Bouwerk aan die dak van die Mall of Africa.

Die juweel in Attacq se kroon is Waterfall City in Midrand. Dis ’n kombinasie van residensiële en kantooreiendom – en natuurlik die Mall of Africa. Van die totale oppervlak van 131 038 m² is nog net 1 400 m² nog nie verhuur nie, maar Attacq sê hy is in gevorderde onderhandelinge en daar sal waarskynlik nie oop ruimte wees wanneer die sentrum op 28 April oopmaak nie.

Attacq het ook eiendom in die res van Afrika, Duitsland, Switserland, Brittanje (deur sy belang in MAS Real Estate) en in Sentraal- en Oos-Europa.

Uitbreidings na Siprus en Serwië is die afgelope jaar afgekondig.

In Afrika besit die fonds onder meer die Manda Hill Mall en Achimota Mall in Zambië, die Ikeja City Mall in Nigerië en die Accra Mall in Ghana. Bouwerk aan die Kumasi City Mall, ook in Zambië, sal na verwagting in April 2017 voltooi wees.

Attacq se aandeelprys het Dinsdagmiddag met 8,38% tot R19,40 opgeskiet, maar die aandeel is steeds 28% minder werd as op sy hoogtepunt sedert notering, die R27,02 wat op 20 Maart 2015 behaal is.

'n Kunstenaarsvoorstelling van die Mall of Africa in Midrand, Gauteng.

Blitsfeite oor die Mall of Africa

* Geleë in Waterfall City, Gauteng

* Open op 28 April

* 15 miljoen mense – hoeveel besoekers elke jaar verwag word

* 131 038 m² se vloerruimte

* Die geglasuurde dakversiering is so ver bekend die grootste ter wêreld

* 24 toegangspunte

* Grasperke wat drie keer groter is as ’n rugbyveld

* ’n Interaktiewe waterorrel

* 269 winkels en 34 kiosks (altesame 303 verkoopspunte)

* 6 800 parkeerplekke

* H&M, River Island, Starbucks en Forever 21 is onder die internasionale handelsmerke wat hier oopmaak

* Nóg sowat 25 000 m² gaan later ontwikkel word

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.