Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
2020 was uitskietjaar vir huiskoop

Meer huislenings is in 2020 goedgekeur as in enige jaar in die voorafgaande meer as ’n dekade, selfs al het banke ’n kleiner persentasie van die aansoeke goedgekeur as in 2019.

Laer rentekoerse maak koop nou aanlokliker as huur.

Verkope het veral in die derde kwartaal van 2020 ’n hupstoot gekry soos baie mense wat tydelik afgelê is, teruggekeer het werk toe nadat inperkingsmaatreëls verslap is.

Siphamandla Mkhwanazi, senior FNB-ekonoom, skryf die oplewing in huiskoop toe aan laer rentekoerse, goeie waarde vir geld in huispryse, laer hereregte en omdat baie mense se behoeftes verander het noudat hulle meer gereeld van die huis af werk.

Die kombinasie van faktore maak koop nou aanlokliker as huur. Dis egter slegte nuus vir verhuurders, wat plek-plek sukkel om huurders te kry of groot verhogings in huur te vra.

Volgens FNB se maandelikse huisprysindeks het huispryse in Desember 2020 gemiddeld met 3,5% gestyg vergeleke met Desember 2019. Die jaarstyging in pryse was in November 3,3%, wat beteken huispryse het inflasie net-net geklop, wat in dié maand 3,2% was. Desember se inflasiekoers word Woensdag uitgereik en huiseienaars sal dan weet of hul eiendom die jaar werklik in waarde toegeneem het of nié.

Vir die hele 2020 het huispryse gemiddeld met 2,1% gegroei, teenoor 3,5% in 2019.

Mkhwanazi sê alleenstaande huise se pryse het in die vierde kwartaal van 2020 met 3,5% gegroei teenoor 2019, terwyl deeltiteleiendom se pryse met net 1,3% gestyg het. Alleenstaande huise het volgens hom gewilder geword vir mense wat van die huis af werk.

Tyd op die mark

Die gemiddelde tyd wat eiendom op die mark bly voordat dit verkoop word, het in die vierde kwartaal van 2020 met ’n hele nege dae verminder tot nege weke en vier dae. Dis teenoor tien weke en ses dae in die derde kwartaal.

Verskil tussen vra- en verkoopprys

Danksy die groter vraag na eiendom kon huiseienaars ’n klein bietjie vaster staan met hul vraprys. In die vierde kwartaal van 2020 het 72% van huise vir minder verkoop as die aanvanklike vraprys (wat byna altyd effens te hoog geplaas word, juis om onderhandeling moontlik te maak); dis teenoor 80% van huise in die eerste kwartaal van 2020.

Die persentasie waarmee eienaars hul prys moes verlaag om kopers te vang, het verminder tot 10%, van 13% in die eerste kwartaal.

Meer oor:  Fnb  |  Huismark  |  Huis Verkoop  |  Huiskoop  |  Huisprysindeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.