Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
8 foute wat keer dat jou huis verkoop
Jou huis se prys word nie nét bepaal deur die huis self nie, maar ook deur die eiendomsmark in jou omgewing. Foto: iStock

Klein foutjies kan veroorsaak dat jou huis nie vinnig deur ’n koper opgeraap word nie, maar eerder ’n baie lang ruk in die mark bly.

Elaine Chetty, die lisensiehouer van Seeff Richardsbaai, verduidelik dat indien ’n huis nie voornemende kopers se oog tref nie, is daar ’n geldige rede daarvoor.

“Miskien is jy vasgevang in ’n trae mark of jy het die weelderigste plek in die straat – dis eiendomme wat altyd moeilik is om te verkoop. Óf daar is ’n ander moontlikheid: Dit is dalk die simpel foute wat jy maak wat veroorsaak dat jou huis nie verkoop nie,” sê sy.

Volgens Chetty kan enigiemand ’n fout maak – selfs mense wat al ou hande is wat huisverkoop betref. Dit is egter belangrik om die foute te voorkom, of dadelik reg te stel.

Kyk uit vir die volgende agt foute as jy probeer om jou huis te verkoop:

  

1. Die verkoopprys is te hoog

Almal is wil graag hul huise teen die hoogste prys moontlik verkoop, maar die meeste oorskat die waarde van die eiendom.

Net omdat jou buurman se huis vir R1 miljoen verkoop is, beteken nie dat jou huis dieselfde waarde het nie.

Hier is ’n voorbeeld: Net omdat jou buurman se huis vir R1 miljoen verkoop is, beteken nie dat jou huis dieselfde waarde het nie.

Die verkoopprys is een van die grootste redes waarom huise nie verkoop nie. As jy van die begin af te veel vra, sal die huis lank in die mark bly. Indien ’n huis langer as vier weke in die mark is, neem kopers dikwels aan dat iets met die ­eiendom verkeerd is.

Luister dus mooi na die agent se aanbevelings oor die prys.

  

2. Jy hou voet by stuk oor jou prys

Selfs al is die prys van jou huis reg, moet jy bereid wees om buigsaam te wees.

Dus, indien jy ’n aanbod kry wat laer as jou vraprys is, moet jy dit ten minste oorweeg om ’n teenaanbod te maak. Om ’n bietjie minder vir die huis te kry is beter as dat die huis nie verkoop nie.

Gefrustreerd? Indien ’n huis nie voornemende kopers se oog tref nie, is daar ’n geldige rede daarvoor. Foto: Pixabay

3. Jou huis is nie ordentlik skoongemaak nie

Dit is belangrik dat jou huis silwerskoon is. Raak ook ontslae van al die rommel en wanorde.

Indien nodig, moet jy ’n pro­fes­sionele skoonmaker huur om die hele huis deeglik skoon te maak. ’n Skoon huis is ook ’n geleentheid om mooi foto’s van jou eiendom vir die verkoopadvertensie te neem.

   

4. Jy gebruik foto’s van ’n swak gehalte 

Tensy jy ’n fotograaf is, sal jy eerder ’n professionele fotograaf moet kry om jou huis af te neem – veral aangesien 70% van die huiskopers hul soektog aanlyn begin.

Mense lees nie altyd nie, maar kyk eers na die foto’s.

Lees ook: Huis in die mark? Foto’s kan maak of breek

   

5. Jou besittings lê oral

Jy weet nie watter tipe koper of persoon na jou huis kyk nie. Moet dus nie iets in die huis los wat hul aandag sal aftrek of sal afsit nie.

    

6. Jy sluip rond in jou eie skouhuis

Dit is om verskeie redes ’n groot fout om by jou eie ope huis te wees.

Indien die kopers weet die verkoper is daar, sal hulle dalk ongemaklik wees om eerlike vrae oor die huis te vra. Hulle kan ook voel dat hulle indring op jou privaatheid.

Kopers hou daarvan om kasdeure oop te maak en na die huis te kyk sonder dat iemand oor hul skouer loer.

   

7. Jy maak dit moeilik vir die agent om jou huis aan kopers te wys

Sodra die koop deur is, sal al hierdie ongerief die moeite werd wees.

Maak gereed vir min privaatheid wanneer jy jou huis verkoop. Wees ook buigsaam indien kopers op kort kennisgewing na jou huis wil kom kyk, want sodra die koop deur is, sal al hierdie ongerief die moeite werd wees.

   

8. Jou troeteldiere is die wêreld vol met besigtigings

Baie mense is bang of allergies vir diere en dit kan veroorsaak dat hulle nie na die huis wil kyk nie. Neem jou troeteldiere saam met jou as die agent die huis vir mense wys of los hulle by die bure.

Sit ook al die diere se speelgoed, bakkies en kussings in ’n kas en stofsuig enige hare voordat jy die huis verlaat.

Meer oor:  Huiskoop  |  Huis Verkoop  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.