Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Lephalale in Limpopo span die kroon
Huurgeld: Só lyk die duurste dorpe in die land
Seepunt in Kaapstad met sy rye en rye woonstelgeboue. Huur in dié woondeel is die derde hoogste in die land.

Hoewel die groeikoerse van huurgeld in Limpopo verlede jaar merkbaar afgeplat het, bly Lephalale die dorp waar huurders die meeste opdok vir verblyf.

Die gemiddelde maandelikse huurgeld in dié Bosveldse dorp was in die vierde kwartaal van verlede jaar R23 327, blyk uit PayProp se nuutste huurindeks. 

Bryanston in Johannesburg volg met gemiddelde maandelikse huurgeld van R22 450, Seepunt in Kaapstad met R20 381 en Musina met R17 634.

Die groei in huurgeld in Limpopo het in Desember tot 1,6% afgeneem van 9,9% in die eerste kwartaal. Dit het die maandelikse gemiddelde huurgeld in die provinsie op R6 288 te staan gebring.

Louw Liebenberg, uitvoerende hoof van PayProp, sê dit lyk of voortgesette onbestendigheid in die konstruksiebedryf in Limpopo sy tol eis en dat talle korporatiewe huurders voorlopig nie hul kontrakte hernieu het nie.

Noord-Kaap

In teenstelling daarmee het die groei in huurgeld in die Noord-Kaap opgeskiet tot 14,4% in die vierde kwartaal van 12,6% in die eerste kwartaal. Dit het die maandelikse gemiddelde huurgeld in dié provinsie op R6 680 te staan gebring. 

Liebenberg skryf dit toe aan voortgesette mynboubedrywighede in die provinsie.

Hy sê die Noord-Kaap is tans die liefling onder koop-om-te-verhuurbeleggers.

Dit bied ’n netto huuropbrengs van 6,27%, teenoor die landwye gemiddelde van 5,05%.

Mpumalanga

Die provinsie met die hoogste huurgeld is egter Mpumalanga, waar huurders gemiddeld maandeliks R6 779 betaal.

Liebenberg sê die swakker groei in huurgeld in sommige provinsies kan ook gekoppel word aan huurders se onvermoë om hoër huurgeld te betaal.

Skuldlas

Volgens PayProp se instrument wat huurders se vermoë meet om hul finansiële verpligtinge na te kom, het die gemiddelde huurder ’n skuldlas wat byna dubbel sy huurverpligting behels.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.