Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
rekening kan tot 50% daal
Só verbruik jy tuis minder krag
Met nog ’n koue winter wat nie ver weg is nie en kragonderbrekings wat deel geword het van Suid-Afrikaners se daaglikse roetine, moet ons doodeenvoudig maniere kry om elektrisiteitskostes te verlaag. Tony Clarke, besturende direkteur van die eiendomsgroep Rawson, het vir jou ’n paar wenke.
Foto: CLifford Roberts

Energiebesparing is makliker as wat baie mense dink, sê Clarke. “Sommige aanvaar dit as vanselfsprekend dat hulle hoë elektrisiteitstariewe moet betaal, maar dit is glad nie die geval nie.”

Hy het self ’n tyd gelede sy gesin uitgedaag om te sien wat hulle kan spaar en sy kinders belowe dat hy hul besparings by hul sakgeld sal voeg. Dit het daartoe gelei dat ’n elektrisiteitsrekening van nagenoeg R4 000 met 50% tot ongeveer R2 000 gekrimp het.

“Enigiemand wat vasberade is om die uitdaging te aanvaar,” sê Clarke, “moet begin by die toerusting wat die meeste krag gebruik.”

Hy sê dat geisers steeds boaan die lys is. Dit maak in sommige gesinne tot 39% van die elektrisiteitskoste uit. Volgende is kamerverhitting (16%), stowe en oonde (11%) en die swembad se pomp (ook 11%).

Isolasie

Wanneer ’n mens die lys in ag neem, sê Clarke, is raadsame stappe om te volg eerstens om die huis te isoleer (en veral aandag te skenk aan vensters, deure en ander openinge).

Indien die eienaar dubbele glas vir die vensters kan bekostig, sal dit tot aansienlike besparings lei en die huis warmer hou.

Omdat dit vir die meeste mense te duur is, is die volgende opsie om so veel moontlik isolasiemoontlikhede te vind.

’n Tweede laag op die plafon kan gewoonlik vir ongeveer R5 000 installeer word. Dit sal ’n verreikende effek hê op die hoeveelheid hitte wat in die huis bly en verhoed dat die koue van die dak deur die plafon kom.

Geisers

Om die geiser se koste te verlaag, sê Clarke, is dit nodig om te besef dat hittepompe of sonverhitting ’n noodsaaklike deel van enige eiendom se toerusting is.

Indien jy ’n stap verder kan gaan en ’n kragopwekker kan installeer wat met die wind of diesel werk, kan jy selfs sien dat jou elektrisiteitsrekening daal tot amper niks.

Die besparings wat jy behaal deur ’n sonverhitter te installeer maak dit logies om hierdie roete te volg.

Bespaar só

Clarke sê jy kan ook die volgende stappe doen:

 Maak yskaste en oonde se deure so kort moontlik oop. Verder is dit noodsaaklik dat hierdie toerusting nie by hittebronne is nie, byvoorbeeld verwarmers of direkte sonlig.

 Stel die yskas se temperatuur effens warmer, byvoorbeeld 3 °C.

 Ontvries die yskas twee maal per jaar.

Laat voedsel toe om vanself te ontvries. Moenie die mikrogolfoond of die gewone oond hiervoor gebruik nie.

Moenie die yskas oorlaai nie, aangesien dit die kostes aansienlik laat styg. Die deure se seëls moet sorgvuldig nagegaan en vervang word as dit nie meer doeltreffend is nie.

Gebruik lae-energie-gloeilampe. ’n Huis se ligte is net vir 6% van die energiekostes verantwoordelik, maar ’n mens kan ook hier verbeterings aanbring.

Skakel alle elektriese toerusting by die muur af wanneer dit nie gebruik word nie.

Clarke sê dat voorbeelde in Brittanje en die Europese vasteland daarop dui dat hierdie maatreëls altyd die moeite werd is.

Hy meen dit is onverantwoordelik en glad nie logies om nie energiebesparing te oorweeg nie om jou huishouding se uitgawes te beperk.

 Vir meer inligting kan die Rawson Property Group by 021 658 7100 genader word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.