Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Aansoek om Vineyard-hotel te likwideer ingedien

Die Vineyard-hotel in Nuweland word deur ’n likwidasie-aansoek in die gesig gestaar nadat hy glo versuim het om ’n krediteur se huurgeld te betaal.

OnShelf, ’n maatskappy in Maitland wat stoorplek uitverhuur, het twee weke gelede ’n aansoek om dié hotel te laat likwideer by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien.

Alan Lyons, eienaar van die maatskappy, vra die hof om die hotel voorlopig onder likwidasie te plaas sodat ’n likwidateur aangestel kan word om die hotel se skuld te bestuur.

Die ingang van die Vinyard-hotel in Nuweland. Foto: Google

Lyons voer aan dit is ’n regverdige versoek om die hotel te likwideer omdat hy nie meer sy skuld kan betaal nie.

Volgens Lyons het die hotel in 2018 twee eenhede van sy maatskappy gehuur en ’n huurooreenkoms is onderteken. In 2019 het die hotel die gebruik van een van die plekke nie meer nodig gehad nie, maar volgens Lyons het die bestuur nooit die ooreenkoms skriftelik beëindig nie.

Daarom het daar ’n dispuut ontstaan, waar die hotel een maand se huur nie betaal het nie.

In Maart 2019 het die hotel Lyons skriftelik in kennis gestel dat hulle die huurkontrak beëindig en op 31 Mei hul eiendom sal ontruim.

Dit het egter nie gebeur nie en Lyons het besluit om regstappe te doen. Hy voer aan die hotel het van April tot Julie nie die verskuldigde bedrag aan hom betaal nie.

In Augustus het die hotel ’n bedrag van R96 879, 94 betaal, maar volgens Lyons skuld die hotel hom nog R159 678,46.

Lyons het gesê hy weet die gasvryheidsbedryf het ’n erge knou gekry weens die Covid-19-pandemie en hy glo dit is waarom die hotel nie sy rekening kan betaal nie en insolvent is.

Die Vineyard-hotel, asook die Townhouse- en Oude Werf-hotel word deur Petousis Family Holdings besit.

George Petousis, uitvoerende hoofbestuurder van die groep, het gesê hy is bewus van die aansoek en staan dit teen.

Hy het gesê die aansoek is “ongegronde aantygings”, dra geen meriete nie en die hotel is beslis solvent.

Hy het gesê die hotel het die eenhede gehuur om meubels in te stoor.

“Ons meen hulle het ons te veel gevra en hulle stem nie saam nie,” het hy gesê.

“Dit is ’n gewone kommersiële dispuut en het niks te make met ons vermoë om te betaal nie.”

Hy het gesê die aansoek is “onbenullig en sonder enige meriete” en dit plaas die proses onder groot druk.

’n Proses is reeds buite die hof begin om die kwessie op te los.

Ná vyf maande wat ons gesluit was, is ons gedwing om met ’n afleggingsprosedure te begin wat 40% van ons werknemers oor al drie hotelle geraak het.

Hy het gesê alle onkoste wat die hotel moes betaal, is betaal en die bedrag wat OnShelf aanvoer die hotel hulle skuld, sal nou deur die prokureur hanteer word.

“Ons is ’n familieonderneming wat oor twee dekades strek en ’n goeie reputasie het. Dit is baie kommerwekkend dat die aansoek ons in ’n slegte lig stel,” het hy gesê.

Petousis het gesê die eiendom van die hotel is op sigself meer werd as die bedrag wat glo geskuld word.

Hy het erken die Covid-19-pandemie het die bedryf erg geraak met van hul werknemers wat hul werk verloor het.

“Ná vyf maande wat ons gesluit was, is ons gedwing om met ’n afleggingsprosedure te begin wat 40% van ons werknemers oor al drie hotelle geraak het,” het hy gesê.

Petousis het bygevoeg sedert die regulasies na vlak 1 geskuif is, werk hulle baie hard aan hul hotelle se finansiële herstel.

Meer oor:  Vineyard-Hotel  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.