Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Afrika se hoogste gebou amper klaar – en peperduur

Afrika se nuwe hoogste gebou, die Leonardo in Sandton, sal volgende maand sy deure oopmaak nadat hy nou sy amptelike, wolkekrabberhoogte van 234 m bereik het.

Die Leonardo-gebou in Sandton, Johannesburg, staan 234 m hoog met ’n uitsigte wat tot by die Magaliesberge strek. Foto: Getty Images

’n Hanetree vanaf die JSE en die Sandton City-winkelsentrum, sit die Leonardo-gebou oorgehaal om een van die luuksste residensiële persele in die stad te word.

Die R3 miljard-ontwikkeling is deur die Legacy-groep en Nedbank ontwikkel en sluit 254 woonstelle, ’n drieverdieping- ultraluukse dakwoning, vyf verdiepings se kantore en verskeie winkels en restaurante in.

Die idee agter die ontwikkeling is om ’n selfonderhoudende residensiële gemeenskap te skep waar inwoners die veiligheid van die perseel kan geniet vir al hul behoeftes: van inkopies tot uiteet.

Dit is deel van ’n tendens onder ontwikkelaars in veral die Sandton-gebied waar veiligheid nog heelwat beter is as in ander dele van Johannesburg. Sulke selfonderhoudende woonstelblokke word dus toenemend gebou vir mense wat tot dusver eerder in groter huise in die voorstede gebly het, maar waar veiligheid toenemend moeilik word om te verseker.

Binne die Leonardo-gebou, waar bouwerk byna klaar is. Foto: Bloomberg

Die Leonardo-gebou gaan onder meer ook met sy eie binnenshuise Montessori-kleuterskool spog.

Adrian Landry, hoofbestuurder van die Leonardo, het geweier om ’n prys vir die woonstelle te verskaf en ook nie bekend gemaak hoeveel eenhede reeds verkoop is nie.

By die nabygeleë Embassy Towers, ’n 12-verdieping-ontwikkeling, verkoop intreevlak-tweeslaapkamerwoonstelle teen R7,2 miljoen. Die Leonardo word as betreklik luukser bemark.

Landry sê wel dat die drieverdieping-dakwoonstel, wat deur die uiteindelike eienaar spesiaal ontwerp sal word en plek vir ses slaapkamers het, belangstelling gelok het van plaaslike sowel as Wes-Afrikaanse kopers.

Peet Strauss, verkoopsbestuurder van Johannesburgse ontwikkelings by Pam Golding, sê ontwikkelings soos die Leonardo is soos eilande in die stad en is geneig om suksesvol te wees vanweë hul unieke aanbiedings.

Die uitsig vanaf een van die boonste verdiepings van die 234 m hoë Leonardo-gebou. Foto: Bloomberg

“Ons is wel grotendeels afhanklik van kopers van noord van ons grens – kopers van elders in Afrika wat kinders op universiteit het,” sê hy.

Die gebou, ontwerp deur Co-Arc International Architects, is hoog genoeg om meer as 55 km ver te sien en die uitsig sluit dus vliegtuie in wat land op die O.R. Tambo- Internasionale Lughawe sowat 30 km weg. Selfs die Magaliesberge is op mooi dae sigbaar.

Uit die tien hoogste geboue in Afrika is vier nou in Johannesburg.

As jy nie self ’n woonstel kan koop nie, moet jy egter nie moed verloor nie. Meer as die helfte van die woonstelle gaan beskikbaar wees as eenhede wat net gekoop word om te verhuur. Dit sluit ook woonstelle in wat as hotelkamers benut sal word.

Vir ’n eenslaapkamerwoonstel wat as hotelkamer verhuur word, sal jy R7 250 per nag moet opdok, oftewel R54 000 per maand.

Kleingeld tog, of hoe?

– Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Nedbank  |  Legacy  |  Sandton  |  Woonstel  |  Residensiële Eiendom  |  Handelseiendom  |  Luukse Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.