Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Aktebesorger: Waarom koper opdok, maar verkoper kies
As die koper die aktebesorger kies, kan dit tot ’n belangebotsing lei. Foto: iStock

Hoekom moet ek die koste van die prokureur betaal as ek ’n eiendom koop, maar die verkoper mag die prokureur aanstel?

Die verkoper het die reg om ’n aktebesorger te benoem. Die verkoper en koper kan egter in die koopkontrak ooreenkom om ’n ander aktebesorger aan te stel.

’n Aktebesorger is ’n prokureur wat toesien dat die oordrag van ’n vaste eiendom vanaf ’n verkoper na ’n koper vlot verloop.

Hy is ’n toegelate prokureur wat ’n spesiale eksamen geslaag het en deur die hooggeregshof van Suid-Afrika toegelaat word om as transportbesorger te praktiseer.

Slegs ’n aktebesorger is daarop geregtig om sekere aktes en dokumente voor te berei, te teken en uit te voer. Hierdie dokumente word dan by die aktekantoor ingedien en geregistreer.

Die aktekantoor vorm deel van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming en is ’n staatskantoor waar die rekord van eiendomstransaksies en ander saaklike regte op onroerende goedere gehou en geregistreer word.

Hoewel die reg op die aanstelling van die aktebesorger tussen die verkoper en koper gewysig kan word, is dit normale praktyk en word dit gestipuleer deur die gemenereg dat die verkoper die reg het om die aktebesorger te nomineer.

In die saak van James versus Liquidators of Amsterdam Township Company 1903 TS653 het die hof beslis dat, ooreenkomstig die gemenereg, die verkoper daarop geregtig is om die aktebesorger te nomineer, al dra die koper die koste van die registrasieproses.

Hierdie beginsel is vandag nog van toepassing in al die provinsies in Suid-Afrika, met die uitsondering van sekere gevalle in Kwazulu-Natal.

In die destydse Natal het die hof in die saak Kothandan versus Arbuthnot 1920 NPD 223 erkenning gegee aan ’n bestaande gebruik in die provinsie ingevolge waarvan, by die weglating van ’n ander spesifieke bepaling, die koper die reg het om ’n aktebesorger te benoem.

Daar kan aangevoer word dat dit meer sin maak dat die verkoper die reg het om die aktebesorger te nomineer.

Die koper is verantwoordelik om die koopprys bymekaar te kry, te verseker dat die oordragskoste betaal word en toe te sien dat daar aan al die opskortende voorwaardes, byvoorbeeld die verkryging van finansiering, voldoen word.

’n Belangrike verantwoordelikheid van die aktebesorger is om te verseker dat die volle koopprys verseker is en beskikbaar is voordat eiendomsreg aan die koper oorgedra word.

Die verkoper word gerusgestel deur die wete dat sy prokureur beheer het oor die transaksie en na sy of haar belange sal omsien.

Die verkoper het ook die gemoedsrus dat daar nie onnodige vertragings met die registrasie sal wees nie.

’n Aktebesorger het ’n verantwoordelikheid om na sy kliënt, die verkoper, se belange om te sien.

Hy het egter ook ’n plig teenoor die koper om eerlik en hoflik op te tree.

Hoewel die aktebesorger teenoor sowel die koper as verkoper regverdig moet optree, is hy verplig om in die geval van ’n onoplosbare dispuut, die koper in te lig dat sy primêre plig teenoor die verkoper is en om die koper te adviseer om onafhanklike regsadvies in te win.

Daar word algemeen aanvaar dat die verkoper as eienaar van die eiendom wat oorgedra word, meer het om te verloor as dinge skeefloop en daarom ’n groter reg het om die aktebesorger te nomineer.

Die aanstelling van ’n aktebesorger deur die koper kan moontlik lei tot ’n botsing van belange en moontlike onetiese optrede deur die aktebesorger.

  • Ferdi Verryn is ’n eiendomsprokureur en stigtersvennoot van Verryn Matlhare Prokureurs in Pretoria.
Meer oor:  Ferdi Verryn  |  Huis Verkoop  |  Huisverband  |  Prokureur  |  Huiskoop  |  Registrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.