Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Al hoe meer sake-eiendomme te koop

Toenemend meer kommersiële eiendomme word te koop aangebied.

Dit geld veral eiendomme in die gasvryheidsbedryf, sê Chantel van Zyl, ’n agent van Re/Max op Worcester, wat onder meer eiendomme op Barrydale bemark.

“Dit sluit eiendomme in wat voorheen as airbnb’s gebruik is, en daar is ook gastehuise wat na ’n alternatief soek, soos om verblyf op ’n semipermanente basis uit te verhuur,” het sy aan Netwerk24 gesê.

Die bekende Karoo Art Hotel op Barrydale is ook in die mark, maar sy sê dit was reeds lank voor die Covid-19-pandemie te koop.

Dit is in 2019 deur Re/Max op die mark gesit en volgens die eiendomsagentskap se webtuiste is dit vir R7 950 000 te koop.

Van Zyl sê die eiendomsmark is stadig maar seker besig om te herstel. Dit is tans een van die beste kopersmarkte in dekades. Daar is ’n daling in die vrapryse, daar is ’n toename in kopers met kontant en mense wat die eiendomsmark vir die eerste keer betree. “Die verhuringsmark groei ook omdat mense vir nuwe werkgeleenthede verhuis.”

Ian Badenhorst, besturende direkteur van Seeff Platteland en Karoo, sê die pandemie het ’n beduidende invloed op gasvryheids- en sake-eiendomme op die platteland en op kleiner kusdorpe, waar sommige eiendomme van die hand gesit word. “Maar talle airbnb- en gastehuiseienaars byt vas, so dit is ’n bietjie van ’n mengelmoes.”

Volgens hom het die residensiële eiendomsmark verbeter met talle navrae uit die binneland asook van mense wat na die platteland of klein kusdorpe wil verhuis of in ’n vakansie- of aftreehuis wil belê terwyl pryse en rentekoerse laag is.

“Ons verwag wanneer die ekonomie en die mark herstel, sal daar ’n groter migrasie wees van mense na plattelandse dorpe en klein kusgebiede, op soek na ’n beter lewensgehalte.”

Richard Pratt, Seeff se kommersiële agent op Struisbaai, Agulhas en Suiderstrand, sê daar is nie hier ’n toename in gastehuise en kleinsakeondernemings wat te koop aangebied word nie omdat die gebied nie so erg geraak is soos groter toerisme-gebiede soos Kaapstad nie. “Ons sien nogal baie belangstelling in die residensiële mark met mense wat na die Suid-Kaap wil verhuis of in ’n vakansie-eiendom wil belê.”

Luidens First National Bank (FNB) se eiendom-barometer-verslag vir Julie, verwag die bank ’n daling van sowat 5% in eiendomspryse vanjaar.

https://www.fnb.co.za/downloads/economics/reports/2020/PropertyBarometerJuly.pdf

So lyk sake elders:


 Cradock: Anton Olivier, ’n Seeff-agent, sê daar is ’n toename hier van gastehuise en ondernemings wat in die mark kom. Die aanvraag na dié eiendomme is stadig, en daar is tans ’n groter aanvraag na residensiële en aftree-eiendomme.

• Napier: Elaine Hodgson, ’n Seeff-agent, sê ook hier word meer gastehuise en sakeondernemings van die hand gesit. Hoewel navrae oor die eiendomme ontvang word, is kopers versigtig in dié onseker tye. Mense wag om te kyk wat gebeur.

• Stanford: Diana Edmundson, ’n Seeff-agent, sê die meeste toeriste-eiendomme hier is kothuise wat geleë is op mense se eiendom. Daar is nie regtig ’n toename in eiendom wat van die hand gesit word nie.

• Upington: Marelize Swarts, ’n Seeff-agent, sê hulle het ’n groot opswaai gesien in gastehuise en sakeondernemings wat in die mark kom. Omdat mense nie weet watter rigting die ekonomie gaan inslaan nie, wil hulle eerder nou konsolideer.

• Kenton on Sea: Simon Oliver, Seeff se lisensiehouer, sê hier is restaurante wat hul deure gesluit het en sakeondernemings wat konsolideer. Daar is ook al hoe meer besoekers wat na Kenton on Sea kom om weg te kom van groot stede waar die koronavirus meer algemeen is. Ondanks ’n aanvraag na sakeondernemings van mense wat na die kus wil verhuis, is nuwe sakeondernemings nie onder die huidige ekonomiese omstandighede lewensvatbaar nie.

Meer oor:  Koop  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.