Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Al hoe meer verkoop huis weens finansiële druk

Die persentasie mense wat hul huis weens finansiële druk verkoop, is aan die styg. Die persentasie mense wat verkoop om te emigreer, bly egter min of meer onveranderd.

FNB verwag dat huispryse vanjaar met 5% gaan daal. Foto: iStock

Volgens FNB se peiling onder eiendomsagente vir die tweede kwartaal sit 18% van mense hul huis op die mark omdat hulle weens finansiële druk wil afskaal. Dis veral mense wie se huis minder as R750 000 werd is (23%), maar 14% van mense met eiendom van meer as R3,6 miljoen skaal ook af.

Nagenoeg 55% van die mense wat weens finansiële druk afskaal, koop wel weer eiendom. Die res (45%) word huurders of trek by familielede in.

Syfers oor emigrasie

Gemiddeld verkoop 17% van mense omdat hulle wil emigreer. In 2019 het gemiddeld 18% van verkopers geëmigreer, so dié syfer is nie beduidend aan die verander nie. Die meerderheid van die mense wat wil emigreer (70%), is tussen 35 en 44 jaar oud.

Die persentasie emigrante is die hoogste onder meer welvarende Suid-Afrikaners – dit beloop 26% van mense wat eiendom van R2,6 miljoen tot R3,6 miljoen op die mark sit en 25% van mense met eiendom van duurder as R3,6 miljoen.

Waarom die meeste verkoop

Die belangrikste rede waarom mense egter hul huis op die mark sit, is omdat hulle afskaal soos hul lewensfase verander. Dis gemiddeld 23% van alle verkope en 29% van mense met eiendom van meer as R3,6 miljoen

Slegs in die kategorie vir klein huise (minder as R750 000) is dit nie die grootste kategorie nie. In dié kategorie kom afskaal weens finansiële druk (23%) eerste, gevolg deur afskaal vir lewensfase (18%).

k

Mark staan stil

FNB waarsku dat die tweede kwartaal nie juis ’n goeie maatstaf van die huismark was nie weens die staat van inperking vir die Covid-19-pandemie. Dit word uitgestippel in die indeks oor markaktiwiteit, wat van 6,4 punte in die eerste kwartaal tot 3,4 punte gedaal het – die laagste in die 17 jaar wat FNB die peiling doen. Dis selfs laer as die 4,4 punte in die tweede kwartaal van 2008, tydens die finansiële krisis.

“Ten minste wat die volume verkope betref, impliseer dit dus dat die impak van die pandemie groter gaan wees as die vorige markskok.”

Die verlangsaming in verkope het oor alle pryssegmente gegeld, maar daar was meer aktiwiteit in die mark vir billike huise (minder as R750 000). Dié segment se indeks het van 6,9 punte tot 4,7 gedaal. Daarteenoor het die res van die mark saam van 6,02 punte tot net 2,9 punte geval.

Die daling in aktiwiteit word toegeskryf aan die perke op mense se beweging, veral in die eerste twee maande van die kwartaal; ’n daling in verbruikers se vertroue weens werkonsekerheid en onsekerheid oor die ekonomiese vooruitsig; sowel as die sluiting van die aktekantoor.

Hoe lank huise op die mark bly

Eiendom is nou gemiddeld 14 weke en 1 dag op die mark. Dis vergeleke met 13 weke en 4 dae in die eerste kwartaal.

Dit wissel egter skerp tussen die pryssegmente. Billike huise is gemiddeld 11 weke op die mark, maar huise van meer as R3,6 miljoen is gemiddeld 19 weke op die mark.

FNB waarsku weer eens dat dit net agente weerspieël wat wel in dié tyd eiendom verkoop het.

Haal mense hul vraprys?

Die bank sê dit lyk nog nie asof verkopers hul prys met meer as gewoonlik moet verlaag ten einde hul huis verkoop te kry nie. Die verskil tussen die vraprys en die finale koopprys was in die kwartaal 12% nadat dit in die eerste kwartaal 13% was. Die historiese gemiddelde vir die afgelope tien jaar is 9%.

“Dit kan wees omdat so min transaksies weens die inperking plaasgevind het, en dat dit beperk was tot gewilder gebiede. Sommige agente is van mening dat mense wat werklik wil koop, nie deur die pandemie geraak word nie.”

Sowat 79% van eiendom word vir minder as die aanvanklike vraprys verkoop, maar dit wissel baie volgens pryssegment. 92% van eienaars van eiendom van R750 000 en méér moes hul vraprys verlaag. Net 39% van mense met eiendom van minder as R750 000 – waar die vraag groter is as die aanbod – moes hul prys verlaag.

’n Gelukkige 5% van verkopers in die kategorie vir billike huise kon selfs méér kry as hul aanvanklike vraprys.

Eiendomsagente sê daar is wel ’n plafon vir pryse in die billike mark, selfs te midde van ’n tekort aan eiendom in dié segment. Huise wat onrealisties geprys word vir hul buurt, verkoop eenvoudig nie. Dié segment weerspieël baie gou maatskaplik-ekonomiese druk.

Vooruitsig vir die huismark

Net 44% van eiendomsagente verwag dat dinge in die derde kwartaal veel gaan verbeter, selfs met die ligter vlak 3-inperking wat heers.

Wat prys betref, verwag 70% van agente dat huispryse in die algemeen oor die volgende 12 maande gaan daal, maar net 46% verwag dat pryse van billike huise – waar die vraag die hoogste is – gaan daal. Die grootste daling in huispryse word verwag in die middel- en duurder segment.

FNB voorspel dat huispryse vanjaar met gemiddeld 5% gaan daal.

FNB verwag ’n matige styging in die vraag na huise in die herstelfase van die huismark, na verwagting vanaf 2021. Die huismark gaan egter nie sommer gou weer die vlakke van voor die Covid-19-krisis haal nie omdat soveel mense hul werk verloor het en die vooruitsig vir die ekonomie power ly.

Daar is reeds agente wat sê meer kopers nader hulle. Besoeke aan eiendomswebwerwe neem steeds toe.

Meer oor:  Fnb  |  Vlak 3  |  Huismark  |  Huispryse  |  Inperking  |  Covid-19  |  Huiskoop  |  Staat Van Inperking  |  Eiendomsagente  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.