Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
As jy wil verkoop in ’n kopersmark

As jy nog nie gehoor het nie: Dit is ’n kopersmark. Daar is tans glad nie ’n tekort aan eiendomme wat toenemend langer neem om ’n nuwe eienaar te kry nie. Hoe verkoop jy dus jou huis in só ’n taai mark? David Spence van Re/Max Living deel ’n paar wenke.  

Foto: VERSKAF

Hoewel dit dalk aanloklik mag wees om jou hele huis op te knap voordat jy dit verkoop, is dit belangrik om te onthou dat jy dalk nie al die geld gaan verhaal wat jy daarop uitgegee het nie.

Die koste van ’n opknappingsprojek kan vinnig groei – daarom is dit belangrik om perspektief te behou. Onthou: Die koper gaan waarskynlik veranderings van sy eie aanbring sodra die huis se sleutels oorhandig is.

Dit is dus belangrik om presies te weet wat jy moet regmaak en waarvan jy liefs moet vergeet, hoe om ’n plan op te trek en waar jy liefs die streep moet trek.

1. Eerste indrukke

Die eerste stap is om te verseker dat jou eiendom die verbeelding van potensiële kopers aangryp sodra hulle by die voorhekkie instap. Kopers hou van ’n huis wat binne en buite skoon en netjies is, en waar nie klomp onnodige goed rondstaan nie – ’n plek waarin hulle hulself dadelik kan sien leef.

As jy ’n tuin het, is dit uiters belangrik dat dit mooi netjies en aantreklik lyk. ’n Mooi grasperk, netjiese blombeddings en mure wat goed in stand gehou is, maak dadelik ’n goeie indruk.

’n Huis wat goed beveilig is, is ook ’n trekpleister vir baie kopers. As jy goed soos ’n alarmstelsel, kringtelevisiekameras en elektriese heinings het, móét dit werk. Baie voornemende kopers word sommer dadelik afgesit as ’n erf onnet en daar ooglopende veiligheidsrisiko’s is.

Net soos mense verskillende opinies het oor wat vir hulle mooi is, is styl ook uiters subjektief. Dit is egter belangrik om te onthou: Minder ís tog meer.

2. Die regte agent

Dit is nie noodwendig die eiendomsagentskap nie, maar eerder die regte eiendomsagent wat ’n suksesvolle eiendomstransaksie gaan verseker.

Doen navorsing oor watter eiendomsagente die meeste huise in jou buurt verkoop het, en vra jou familie, vriende en bure vir goeie verwysings.

Moenie net aanvaar dat die agent wat die eiendomsagentskap na jou huis toe stuur is die regte persoon om jou huis te verkoop nie.

As jy onseker is of sukkel om te kies, nooi ’n paar agente na jou huis om meer te hoor van hul suksesse in jou buurt en hoe hulle jou huis sal verkoop.

Vind ook meer uit oor hoe hulle potensiële kopers benader en watter bemarkingstrategieë hulle volg. Maak seker dat jy vrae voorberei het en vra die agente oor die marktendense en -aktiwiteit in jou buurt uit.

3. Hoe lyk dit binne?

Net soos mense verskillende opinies het oor wat vir hulle mooi is, is styl ook uiters subjektief. Dit is egter belangrik om te onthou: Minder ís tog meer.

As jy die binnenshuise voorkoms van jou huis wil verbeter, begin deur ontslae te raak van al die onnodige goed wat rondstaan. ’n Voornemende koper oordeel jou nie net op jou netheid nie, maar ook op die tipe huis wat jy probeer verkoop.

Dit is só dat jy lank jou eie stempel op jou huis afgedruk het en dat daar ’n sekere styl is wat jy volg. Jy moet egter onthou dat dit nou jou prioriteit is om jou huis te verkoop en nie om ’n sogenaamde modestandpunt te maak nie.

Die klein dinge
  • Die areas om ligskakelaars en deurhandvatsels verkleur oor die jare. Onthou om dit skoon te maak of oor te verf.
  • Gebruik olie om van deure en vensters ontslae te raak wat kraak en ander geluide maak as jy dit oopmaak.
  • Span ’n lugverfrisser of gegeurde kerse in as jy kos- of hondereuke wil verbloem.
  • Hou jou troeteldiere en kinders uit die pad as kopers jou huis besoek, sodat daar nie enige onderbrekings of onnodige afleidings is nie.
  • Wees eerlik oor enige ernstige huisdefekte.

Om ’n klein fortuin op die jongste muurpapier en ’n luukse borrelbad te bestee, behoort nie nou jou prioriteit te wees nie. Dit is belangriker om eerder jou huis oor te verf. Huise wat goed lyk verkoop teen hoër pryse.

4. Kombuise en badkamers

Die voorkoms van dié vertrekke is uiters belangrik wanneer jy ’n huis probeer verkoop. Dit is daarom slim om daarop te kapitaliseer en te verseker dat jou huis se kombuis en badkamers so goed as moontlik lyk.

Die vertrekke moet skoon en netjies lyk. As daar gekraakte en gebreekte teëls in jou badkamer is, vervang dit as jy kan.

As daar nog matte in jou badkamers is, vervang dit met teëls of gelamineerde vloere. As jou krane en stortkoppe oud is, vervang dit ook.

Kombuiskaste en werkoppervlakke staan die meeste in ’n kombuis uit. As klein veranderings nie genoeg gaan wees om jou kombuis tot sy volle glorie te herstel nie, oorweeg maar om byvoorbeeld die kombuiskasdeure te minste te vervang.

As jy die koste laag wil hou, oorweeg gelamineerde- of betonwerkblaaie in plaas van graniet of marmer.

Meer oor:  Re/Max  |  Huisopknapping  |  Huiskoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.