Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Attacq bou nou wooneenhede in Waterfall

Die Mall of Africa en PwC se nuwe hoofkantoor van 24 verdiepings in Midrand, noord van Johannesburg, was net die begin van wat Attacq vir dié omgewing beplan.

Die Mall of Africa in Waterfall noord van Johannesburg.Foto: Sunday Sun

Attacq, die eiendomsbeleggingstrust (reit) wat die Waterfall-uitbreiding in Midrand ontwikkel, gaan nou ook wooneenhede bou.

Giles Pendleton, hoof van ontwikkelings, sê Attacq gaan binne weke sy planne vir 550 wooneenhede in die vorm van vier woonstelblokke bekend stel. Dit sal as Ellipse bekend staan.

Pendleton het Dinsdagoggend met die bekendmaking van Attacq se resultate vir die jaar tot einde Junie meer oor sy planne vir die ikoniese Waterfall-ontwikkeling bekend gemaak.

“Die ontwikkeling van residensiële eiendom is die laaste stukkie van die Waterfall-legkaart. Die woonstelle gaan reg langs die hospitaal en baie na aan die Mall of Africa en skole wees.

“Die sentrale ligging gaan inwoners ook maklike toegang tot Sandton, Centurion en selfs die ooste van Pretoria gee,” sê hy.

Resultate

Attacq, wat op 29 Mei in ’n reit verander het, het ’n uitkering van 74c per aandeel verklaar nadat ’n uitkering van 73c verwag is.

Een van sy uitdagings in die oorskakeling na ’n reit was om die vereiste 75% van sy inkomste uit huur te verdien. Hy het voorheen op kapitaalgroei eerder as inkomstegenerering gekonsentreer. Reits keer ’n deel van hul huurinkomste as uitkerings aan aandeelhouers uit.

Attacq het in die boekjaar ’n huurinkomste van R2 miljard verdien vergeleke met R1,9 miljard in die vorige boekjaar.

Die netto batewaarde per aandeel het met 22,2% tot R24,24 gestyg.

Die waarde van Attacq se bates in Suid-Afrika beloop nou R21,1 miljard, waarvan 72,5% in Gauteng is.

Kleinhandel

Winkelsentrums is ’n kerndeel van Attacq se portefeulje.

Jackie van Niekerk, bedryfshoof, sê hoewel hul sentrums steeds goed vaar, is daar tekens van toenemende ekonomiese druk.

Sy sê huurders onderhandel aggressief oor die hernuwing van huurkontrakte. Huurkoste het in 2017 gemiddeld met 7,8% gestyg teenoor 7,2% in 2018.

Tans staan sowat 6,9% van sy winkelspasie in Suid-Afrika leeg.

Veral Edcon, wat Edgars besit, is die vlieg in die salf. Van Niekerk sê Edcon het die afgelope jaar sy vloerspasie in Attacq-sentrums met 25% tot 21 000 m² verminder. Daar is wel reeds ander huurders vir dié spasie gekry.

Attacq is tevrede met Mall of Africa se prestasie. Die gemiddelde inkomste uit verkope per vierkante meter het met 11% tot R2 832 gestyg.

Dit is egter nog beduidend minder as die R4 942 en R4 935 per vierkante meter wat huurders van onderskeidelik die Glenfair- en die Lynnwood Bridge-sentrum in die ooste van Pretoria genereer.

Kantore

Attacq het verskeie groot kantoorgeboue in sy portefeulje.

Dit nuutste is PwC se hoofkantoor wat in November 2017 voltooi is. Hy bou ook tans aan die hoofkantoor van nóg ’n ouditeursfirma, Deloitte.

Aan die einde van die boekjaar het 15,3% van sy verhuurbare kantoorspasie leeg gestaan.

Dit was hoofsaaklik omdat die konstruksiemaatskappy Group Five uit sy groot kantore in Waterfall na PwC se ou kantore in Sunninghill verhuis het.

Transnet het darem sedertdien ’n driejaarkontrak geteken om die ou Group Five-hoofkantoor te huur.

Res van Afrika, Europa

Attacq het ook belange in die res van Afrika en in Wes-, Oos- en Sentraal-Europa.

Attacq het ’n belang van 22,8% in MAS, ’n eiendomsgroep met belange in Wes-, Oos- en Sentraal- Europa. Attacq het dividende van R151 miljoen van MAS ontvang.

Dit verteenwoordig 21,5c per aandeel van die totale uitkering van 74c per aandeel wat Attacq verklaar het.

Beleggings in die res van Afrika het 3,2c per aandeel tot die uitkering bygedra.

Meer oor:  Group Five  |  Attacq  |  Midrand  |  Edcon  |  Mall Of Africa  |  Kantooreiendom  |  Genoteerde Eiendom  |  Winkelsentrums
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.