Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Blyplek in sakekern dalk nie só duur nie
Al hoe meer mense verkies om in die stadskern te woon. Foto: iStock

Die meeste mense glo dit is goedkoper om in die voorstede te bly as in die stad, maar dit is nie altyd waar nie. Dit hang af van die woonbuurt wat jy kies, die tipe huis wat jy koop en die soort lewenstyl wat jy soek, sê David Jacobs, streekhoof van die Rawson Property Group se noordelike streke en KwaZulu-Natal.

“As jy byvoorbeeld ’n woonstel in Sandown koop binne stapafstand van die sentrale sakegebied van Sandton, kan jy verwag om sowat R2,2 miljoen te betaal. Dit kom neer op ’n maandelikse paaiement van sowat R17 600 nadat jy ’n 20%-deposito betaal het.

“Jou vervoerkoste gaan baie min wees as jy werk toe stap en na die meeste ander plekke waar jy wil wees, maar eiendomsbelasting, heffings en ander rekeninge gaan jou ongeveer R2 500 tot R3 000 per maand kos vir ’n totale koste van R20 100 per maand.”

Woonstelle verder van die sentrale sakegebied, maar steeds binne ’n radius van 10 km en maklik bereikbaar met openbare vervoer, kos tussen R1 miljoen in Woodmead en gemiddeld R2,8 miljoen in Hyde Park, volgens die eiendomsdatamaatskappy Lightstone.

“Die gemiddelde prys in gewilde gebiede soos Illovo, Morning­side en Parkmore is tans sowat R1,6 miljoen, wat ’n maandelikse paaiement van R12 800 ná ’n 20%- deposito beteken. Bykomende koste soos munisipale rekeninge en heffings sal sowat R2 500 beloop, terwyl vervoer waarskynlik nog R500 gaan kos. Dit beteken ’n totaal van R15 300 vir dieselfde tipe verblyf.”

As jou plan egter is om van ’n woonstel in die stad te trek na ’n losstaande huis in ’n woonbuurt wat nie verder as 10 km van Sandton se sentrale sakegebied is nie, wissel die gemiddelde prys wat jy kan verwag om te betaal tussen R2,75 miljoen in Woodmead en R8 miljoen in Hyde Park.

In dié gebiede, sê Jacobs, kan jy ’n maandelikse paaiement van R22 000 ná ’n 20%-deposito te wagte wees en R3 500 vir koste soos heffings, rekeninge en versekering, plus jou vervoerkoste wat die totaal op sowat R26 000 te staan sal bring.

“Dit is duidelik dit is goedkoper om in nabygeleë woonbuurte te bly – hoewel minder gerieflik – as jy in ’n woonstel bly, maar heelwat duurder as jy ’n huis verkies. Vir ’n losstaande huis is die voorstede goedkoper, maar die besparing gaan in langer en duurder pendeltye verlore.”

Jacobs sê die patroon vir alle inkomstegroepe is dieselfde.

“Ons berekeninge toon as jy ’n woonstel in Johannesburg se middestad of Braamfontein sou koop, sal jou maandelikse verblyf-en-vervoerkoste R9 000 wees.

“Die vergelykende maandelikse totaal vir ’n woonstel in ’n bekostigbare woonbuurt binne ’n 10 km-radius en bereikbaar met openbare vervoer soos Melville, Richmond, Westdene of Kensington, is ongeveer R7 000, terwyl die totaal vir ’n losstaande huis in die gebiede R14 000 sal wees.”

    Meer oor:  Sandton  |  Richmond  |  Johannesburg
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.