Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Buitelandse bates help Redefine

In die sukkelende plaaslike ekonomiese omgewing het Redefine Properties se buitelandse beleggings ’n gesonde bydrae tot die groep se resultate vir die ses maande tot 28 Februarie 2019 gemaak

Andrew König, uitvoerende hoof van Redefine.

Die groep se uitkering het in die oorsigtyd met 4% tot 49,19c per aandeel toegeneem, wat die moeilike plaaslike ekonomiese omgewing weerspieël, sê Andrew König, uitvoerende hoof.

Die groep se bates in onder meer Pole, Brittanje en Australië het 25,4% tot die inkomste bygedra.

Die totale bates onder bestuur het met R500 miljoen tot R99,2 miljard toegeneem.

Daarvan beloop die waarde van die Suid-Afrikaanse eiendomsportefeulje R72,9 miljard, die waarde van die internasionale eiendomme wat Redefine regstreeks besit R7,3 miljard en die waarde van sy belegging in internasionale genoteerde aandele R11,8 miljard.

Redefine besit kantoorgeboue en winkelsentrums landwyd, onder meer die Blue Route en East Rand Mall.

König sê om groei aan te wakker, is dit van kernbelang dat die vertroue in Suid-Afrika herstel moet word. Hy sê die uiters lae sake- en verbruikersvertroue plaas veral druk op die kantoor- en die kleinhandeleiendomsektor.

“Vertroue sal eers verbeter sodra daar verbeterde beleidsekerheid is en gevolge vir korrupsie.”

Hy sê indien daar enige voordele uit die resultate van die algemene verkiesing sal voortspruit, sal dit eers in die 2020-’21-boekjaar wys.

“Die verkiesing gaan egter nie die toweroplossing wees wat dinge oornag positief gaan verander nie.”

Hy sê om bedryfsmarges in die huidige omgewing te handhaaf, is uitdagend en om die gehalte van die inkomste te verbeter, is ’n voortgesette tema.

Gevolglik ondersoek die groep voortdurend alternatiewe beleggings om die risiko te diversifiseer. Die gebruik van hernubare energie in sy geboue is een area waar Redefine geleenthede vir groei sien, asook om die druk van Eskom se beurtkrag en tariefverhogings die hoof te bied. In die oorsigtyd het die groep sy totale sonkragkapasiteit tot 23,5 MW verhoog.

König sê Redefine is ook besig om sy belegging in studentebehuising verder uit te brei. Tans het sy ontwikkelings saam met Respublica, waarin hy ’n belang van 54% hou, ’n bedvermoë van 8 378. Dit sluit in Hatfield Square in Pretoria met 2 331 beddens, Lincoln House in Bloemfontein met 469 beddens en Roscommon House in Kaapstad met 582 beddens. Die oogmerk is om tot 10 000 beddens landwyd te groei.

Redefine verwag dat sy uitkering vir die volle boekjaar soortgelyk sal wees as die groei van 4% in die eerste helfte, mits toestande nie verder agteruitboer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.