Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Buitelandse winkels blaas aftog in SA

Van die vlaag buitelandse kleinhandelaars wat die land die afgelope paar jaar met groot trompetgeskal binnegekom het, is talle gedwing om die aftog geblaas.

Die speelgoedwinkel Hamleys in die Greenstone-winkelsentrum oos van Johannesburg. Die Suid-Afrikaanse maatskappy Ensolor, wat Hamleys plaaslik bedryf, is in Februarie in sakeredding geplaas en twee Hamley-winkels het reeds hul deure gesluit. Foto: Deon Raath

Vanjaar alleen het Baskin-Robbins en Dunkin’ Donuts druipstert hul deure gesluit ná ’n powere vertoning, terwyl die toekoms van die wêreldbekende speelgoedwinkelgroep Hamleys ook hier onseker is. Die groep het reeds sy winkels in Nelson Mandela Square en in die Mall of Africa toegemaak nadat die Suid-Afrikaanse maatskappy Ensolor, wat Hamleys plaaslik bedryf, in Februarie in sakeredding geplaas is.

Daar was 11 Dunkin’ Donuts- en vyf Baskin-Robbins-winkels in die Kaapstad-omgewing en van die handelsname se aanvanklike ambisieuse uitbreidingsplanne het niks gekom nie.

Daar is tans byna geen belangstelling van nuwe buitelandse kleinhandelaars in ruimte in die land se winkelsentrums nie. Van dié wat relatief suksesvol handel dryf, is ook besig om in te kort deur hul ruimte te konsolideer.

Stephan le Roux, die president van die Suid-Afrikaanse Raad van Winkelsentrums (SACSC), sê een van die redes hoekom so min kleinhandelaars ’n oog op Suid-Afrika het, is omdat die plaaslike kleinhandelmark piepklein is, vergeleke met ander ontluikende markte. “Elke buitelandse kleinhandelaar wil eerder ’n teenwoordigheid in China hê.”

Luukse handelsname soos onder meer Christian Dior, wat in 2018 tot die land toegetree het, brei nog uit, maar Le Roux reken dit is bloot ’n bemarkingsoefening om ’n teenwoordigheid op elke vasteland te hê.

Hy sê die omsette in Afrika is baie klein en die probleem is dat dié kleinhandelaars nie aggressief kan groei nie. “Sandton City in Johannesburg en die V&A Waterfront in Kaapstad is die enigste twee winkelsentrums in die land wat luukse handelsname suksesvol kan akkommodeer, hoofsaaklik danksy die Afrika-toeriste wat Johannesburg besoek en die internasionale toeriste wat Kaapstad aandoen.”

Le Roux is vol vertroue dat die belangstelling van die buitelandse kleinhandelaars weer sal kop optel indien die ekonomie sou verbeter, maar nie op dieselfde vlakke as voorheen nie.

Hoewel talle internasionale kleinhandelaars omvattende navorsing doen voordat hulle tot die Suid-Afrikaanse mark toetree, beteken dit nie noodwendig dat hulle dié mark verstaan nie, blyk uit Broll se nuutste kleinhandelverslag, “The Evolution of Retail”.

“Die Suid-Afrikaanse kleinhandelmark moet benader word met ’n nommerpas-model, waar pryse en aanbiedings pasgemaak word vir die land se verbruikers,” sê Marion Plint, portefeuljehoof by Broll.

Greg Stephenson, eiendomsbestuurder by Famous Brands, sê die korrekte prysmodelle vir die plaaslike verbruikers is ’n kernfaktor vir buitelanders wat ’n winkel in die land wil open of ’n internasionale handelsnaam hier wil vestig.

“Internasionale kleinhandelaars moet sterk fokus op unieke bemarkingstrategieë wat die kulturele nuanses en verskillende LSM-groepe in die land in aanmerking neem,” sê Theresa Terblanche, ’n afdelingsdirekteur by Broll.

Meer oor:  Hamleys  |  Dunkin' Donuts  |  Baskin-Robbins  |  Sacsc  |  Kleinhandelaars  |  Winkelsentrums  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.