Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Canal Walk se besoekers 23% minder

Die winkelsentrum Canal Walk in Kaapstad se besoekersgetalle het met amper 23% gedaal in die halfjaar tot einde Desember vergeleke met die ooreenstemmende tyd die vorige jaar.

Die winkelsentrum is die grootste wat deur die genoteerde eiendomsmaatskappy Hyprop besit word in terme van die verhuurbare ruimte.

Die Canal Walk-winkelsentrum in Kaapstad is een van die winkels in Hyprop se portefeulje.

Hyprop het Dinsdag in sy halfjaarresultate getoon die persentasie ruimte by Canal Walk wat leeg staan, het 4,7% in die tydperk beloop vergeleke met 0,9% in die ooreenstemmende tydperk.

In die halfjaar het 8 miljoen besoekers die winkelsentrum besoek, vergeleke met 10 miljoen in die ooreenstemmende halfjaar.

Morné Wilken, uitvoerende hoof van Hyprop, sê die impak van die pandemie op die maatskappy sedert die uitbreking daarvan beloop R750 miljoen. Dit sluit in huurverligting wat gebied is, dividende wat nie ontvang is nie, die daling in bemarking- en parkeringsinkomste en groter uitgawes vir die nodige veiligheidsmaatreëls wat weens die virus ingestel moes word.

Sowat R104,4 miljoen se huurverligting is gebied.

Die impak in Suid-Afrika van die pandemie was R430 miljoen; die grootste deel daarvan voordat die halfjaar begin het.

Besoekers in al Hyprop Suid-Afrikaanse winkelsentrums is af met gemiddeld 20% vergeleke met die ooreenstemmende tyd in 2019.

Hy sê hoewel klante winkelsentrums minder besoek, word meer bestee per kop. Die besteding per kop is meer as wat dit in die ooreenstemmende tydperk was.

Sy inkomste in Suid-Afrika het van R1,4 miljard in die ooreenstemmende halfjaar tot R1,1 miljard gedaal.

Die persentasie eiendom wat leegstaan in sy kleinhandelportefeulje het in die ses maande van 2% tot 3% gestyg, wat volgens hom die hoogste nog is.

Die agterstand in huurgeld het van R137 miljoen einde Junie tot R107 miljoen einde Desember gedaal.

Verhuring was steeds onder druk in die halfjaar. Nuwe en hernude huurkontrakte se huur is gemiddeld 22% laer as voorheen. Dit het maandelikse huurinkomste met R5 miljoen verlaag.

“Daar is ook ’n merkbare toename in die aantal huurders wat langer huurkontrakte wil sluit totdat die ekonomiese toestande verbeter.”

Hy sê een van die inisiatiewe wat begin is, is om aan aanlyn kleinhandelaars spasie te verhuur. Die eerste spasie wat daarvoor opsygesit word, open in die Rosebank Mall in Johannesburg in Junie.

Om besoekergetalle te verhoog, is hulle ook besig met inisiatiewe soos om oplaaiplekke vir aanlyn winkels en parkeerterreine op buigsame wyse te verhuur en in selfstoorplekke te omskep.

Dele van Rosebank-winkelsentrum se onbenutte parkeerplek word omskep in sulke geriewe, en dit word ook vir Canal Walk, Clearwater en The Glen beplan.

Meer oor:  Hyprop  |  Handelseiendom  |  Genoteerde Eiendom  |  Winkelsentrums
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.