Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Churchill min gepla oor naaktheid

Gustaf Pienaar skryf oor die Nederlanders se sogenaamde gordynlose samelewing, en bespreek dan ook ’n lesersvraag oor die reg op privaatheid in ’n beveiligde oord langs die see met wandelpaaie. 

Eiendomme
Eiendomme. Skets: Hanlie Malan

Eiendomme se redakteur, Samantha van den Berg, het vroeër vanjaar die eer te beurt geval om vir twee maande in die prestigeryke Zuid-Afrikahuis in Amsterdam as Naspers-joernalis te woon en te werk. 

Sy het uit Nederland talle interessante artikels gestuur waarvan een – “ ’n Koekeloerder in ’n gordynlose samelewing” – my nou nog bybly. Dit handel oor die vreemde gewoonte van Nederlanders om nie agter die privaatheid van gordyne voor hul vensters te skuil nie. Jy sien áls wat binne hul wonings aangaan.

Samantha skryf: “Saans sien jy hoe gesinne aan die etenstafel sit; hoe ’n ou tannie haar gunsteling-televisieprogram kyk, hoe groepies vriende met glase wyn kuier, en hoe ’n jong vrou agter ’n rekenaarskerm sit en werk. 

“Jy sien hoe kinders in die voorkamer op die mat speel, ’n huisvrou haar potplante vertroetel, en ’n man agteroor sit en homself in ’n boek verdiep. Jy kry ’n idee van hoe mense hul huise meubileer en versier, en waar die troetelkat se gunsteling-lêplek is.” 

Hoe ook al, dit lyk my Europeërs het minder inhibisies oor spesifiek naaktheid as ons.

Daar is ’n paar verklarings vir dié verskynsel: Nederlanders trek juis nie hul gordyne toe nie om aan verbygangers te wys dat hulle óral – in hul huise en in die publiek – dieselfde optree.

Ander mense – skryf Saman­tha, die selferkende koekeloerder, – meen weer die Nederlanders hou hul gordyne oop om die paar uur se flou sonlig wat hulle in die wintermaande kry ten volle te benut.

Ek wonder of dit anders gesteld is wanneer ’n Nederlander ander klere aantrek; saans kooi toe gaan; die badkamer besoek – dáárdie soort dinge. Hoe ook al, dit lyk my Europeërs het minder inhibisies oor spesifiek naaktheid as ons.

Die Victoriaanse karakter van die Engelse – wil dit vir my lyk – maak dat hulle weer meer as die vastelanders benoud oor naaktheid is. 

Daardie ou rakker Winston Churchill het hom egter nie veel dááraan gesteur nie. 

In William Manchester se wonderlike biografie oor sir Winston lees ek dat hy gedurende die Tweede Wêreldoorlog by sy goeie vriend – die gestremde Franklin D. Roosevelt – in die Withuis gaan kuier het. “One day,” skryf Manchester, “Churchill stepped naked from his bath­room just as Roosevelt was wheeling his chair into the room. This was always happening to him; the maids in his household at No.10 had grown accustomed to his nudity. 

“In this case FDR apologized and turned to go, but Churchill held up a detaining hand. He said solemnly: ‘The Prime Minister of Great Britian has nothing to hide from the President of the United States.’ ” 

Die destydse trustees van die oord het dwarslêers op die roete geplaas asook ’n stel trappe af see toe gebou.

Samantha se storie het my laat dink aan ’n lesersbrief wat ek ook al ’n ruk gelede ontvang het. 

Ek verswyg versigtigheidshalwe die leser se naam asook dié van die veiligheidsoord waar hy woon. 

Die leser skryf: “Daar het oor ’n periode van 10 tot 15 jaar ’n gebruik gevestig dat huiseienaars wat nie seefronthuise het nie op ons privaat parkeerterrein mag parkeer en ’n sekere roete strand toe mag stap. 

“Die destydse trustees van die oord het dwarslêers op die roete geplaas asook ’n stel trappe af see toe gebou. Die roete loop verby ’n bestaande huis asook ’n leë erf, waarop mettertyd gebou sal word. 

“Beide eienaars kla nou dat die wandelpad inbreuk maak op hul bestaande (of toekomstige) reg op privaatheid. Die vraag is of – ná verloop van so ’n lang tyd – die sogenaamde ‘vergunning’ ’n permanente karakter verkry het, en of die inwoners wat kapsie maak gronde het vir hul aanspraak dat die roete gewysig moet word ten einde hul privaatheid te beskerm.”

Op my vraag of die eienaars van die twee persele dit aangeskaf het voor of ná die wandelpad gebou is, het ons vriend bevestig dat hulle in albei gevalle daarná gekoop het. 

Die inligting wat verstrek is, is te skraps vir my om ’n mening te waag. 

’n Mens weet byvoorbeeld nie of die trustees van die oord binne hul reg opgetree het toe die “vergunning” gemaak is nie: Dit mag wees dat dit strydig met die skemaregulasies geskied het. 

Op die aanname, egter, dat die trustees wel regtens bevoeg was om die vergunning te maak, het ek ’n spesmaas dat die twee eienaars wat skrikkerig is dat daar by hul vensters ingeloer gaan word, nie ’n sterk saak het nie: Hulle het immers met volle kennis van die bestaan van die wandelpad hul eiendomme gekoop. 

Om dit eenvoudig te stel: Daar is ’n Latynse spreuk wat in ons reg inslag gevind het en wat lui: Qui prior est tempore potior est iure. Dit beteken: Persone (in dié geval die eienaars in die oord wat nie seefrontwonings het nie) wat tydgewys eerste is, staan ook eerste by die uitoefening van hul regte.

Hulle vertel van ’n onvergeetlike besoek aan een van die oudste wynplase in die land, Babylonstoren.

Die toring van Babel

Verlede week had ons besoek van dierbare vriende uit Gauteng. Hulle is wynkenners; gesofistikeerde mense wat nie met hul kennis te koop loop nie. 

Hulle vertel van ’n onvergeetlike besoek aan een van die oudste wynplase in die land, Babylonstoren. Ons word aangemoedig om daardie juweel self te gaan besigtig. 

Om ons daaraan te herinner laat hulle die poeierblou toegangskaartjies tot die plaas (weekdae kos dit maar R10 per persoon) op ons eetkamertafel toe ons die oggend afskeid neem.

Die kaartjies interesseer my: Die plaas se embleem – ’n voëltjie, tabakpyp en ’n blommetjie – is daarop afgedruk. Ek wonder wat die simboliek daarvan is.

Die keersy is net so interessant: Afgesien van inligting oor die toegangsgeld en wie daardeur bevoordeel word (’n trust vir die opvoeding van plaaslike kinders) is daar ook ’n betreklik lang klousule waarin die eienaar, bestuur en werknemers van die “werkende plaas” gevrywaar word van enige aanspreeklikheid wat mag spruit uit ’n besering of ander skade wat besoekers kan opdoen. 

Dis als maar uit oormatige versigtigheid.

In ons reg word die geldigheid van sulke bedinge op toegangskaartjies erken. Dit het hierheen uit die Engelse reg oorgewaai en gedinge wat daaruit voortgespruit het staan as “ticket cases” bekend. 

Of sulke bedinge (“bepalings”) op ’n kaartjie afdwingbaar is, sal daarvan afhang of die besoeker gewéét het dat daar skrif op sy kaartjie verskyn en of hy geweet het die skrif bevat bepaalde bedinge waaraan hy gebonde is. 

Indien enige van dié twee vrae ontkennend beantwoord word, is daar ’n derde vraag wat beantwoord moet word: Of die persoon wat die kaartjie uitgereik het, redelike stappe gedoen het om die besoeker bewus te maak van die bestaan van sulke bedinge op die kaartjie. 

Normaalweg sal bevind word dat die bedinge wel afdwingbaar is; die kaartjiehouer sal maar sukkel om te bewys dat hy van níks geweet het nie . . .

Dis als maar uit oormatige versigtigheid: Ek kan nie dink dat daar buitengewone risiko’s bestaan vir besoekers aan enige van ons land se voortreflike wynplase nie. 

  • Bronne: William Manchester: The Last lion – Winston Spencer Churchill (Londen: Micheal Joseph Ltd, 1983); Van der Merwe en andere: Kontraktereg – Algemene Beginsels (Juta, vierde uitgawe, 2012).
  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. 
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.