Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Covid-nadraai kan mark vir kantore baie verander

Terwyl meer as 10% van kantoorruimte landwyd leegstaan, sal verhuurders van daardie eiendom agteroor moet buig as hulle nuwe huurders wil lok, sê eiendomskenners.

Kantoorruimte te huur in Bryanston, Johannesburg. Foto: Elizabeth Sejake

Die vereniging vir eiendomseienaars, Sapoa, se jongste verslag oor die leegstaankoers van kantore toon dit was in die eerste kwartaal van 2021 die ergste in Johannesburg – 15,8%. In Kaapstad was die leegstaankoers 12,8%, in Durban 15,3%, in Tshwane 10,6% en in die Nelson Mandelabaai-metro 10,7%.

Evan Robins, eiendomsportefeuljebestuurder by Old Mutual Investment Group, het aan Rapport gesê enersyds is die leegstaankoers so hoog omdat so baie mense van die huis werk. Andersyds is dit ook tekenend van die swak ekonomie en hoë werkloosheidskoers.

“Die getal kantore wat leegstaan is nie eens omdat daar nuwe kantore gebou word nie. Dit is bestaande ruimtes, wat dit veral kommerwekkend maak.”

Hy sê die ekonomie sal eers moet kop optel voordat daar ’n mate van herstel in die kantoorsektor van kommersiële eiendom is.

Pieter Strydom, kommersiële batebestuurder by Redefine Properties, sê die leegstaankoers is nie oral ewe sleg nie. Dit het trouens afgeneem in Redefine se kategorie vir meer uitgesoekte kantore.

Huurders maak gebruik van die gunstige huurmark om hul kantoorruimtes te verbeter, sê Strydom.

Die verhuurders van kantoorruimtes maak daarop staat dat mense in groot getalle sal terugkeer werk toe namate hulle teen Covid-19 ingeënt is.

Strydom sê in sektore soos konsultasiewerk, argitektuur en ontwerp is dit nie gunstig om van die huis te werk nie omdat hierdie beroepslui veral staatmaak op die uitruil van idees en samewerking. “Maar maatskappybase in hierdie sektore sal werkplekke aanloklik moet maak vir hul werkers.”

Kantoorruimte te huur in Bryanston, Johannesburg. Foto: Elizabeth Sejake

Emma Luyt, besturende direkteur van Tétris Design & Build, sê daar sal nuwe vereistes wees waaraan kantore moet voldoen. Dit sluit in minder lessenaars wat verder van mekaar staan vir groter afstand en private hokkies (booths) waar werkers byvoorbeeld virtuele vergaderings kan hou of bywoon.

“Hierdie nuut ontwerpte kantore sal moet buigsaam wees om in werkers se nuwe behoeftes te voorsien,” sê Luyt.

Nie alle kantore wat leegstaan, sal vir dieselfde doel bly voortbestaan nie, selfs al keer mense terug werk toe soos die risiko’s om Covid-19 op te doen afneem.

In ander gevalle word kantore wat reeds geruime tyd leegstaan herontwerp om ’n ander doel te dien, soos pakplek vir individue of nuwe aanlyn winkels wat bergplek vir hul voorraad nodig het, klein verspreidingsentrums en in sommige gevalle residensiële eiendom.

Robins sê die hoë leegstaankoers maak dat die huur van kantoorruimtes nou ’n “kopersmark” is en huurders kan aandring op laer tariewe of selfs korter huurtydperke.

“Huurders sal definitief ’n groter sê hê – dit werk so in enige mark waar daar ’n ooraanbod is.”

Die leegstaankoers sal ook veroorsaak dat meer kantoorgeboue te koop sal wees. Dit skep goeie geleenthede vir entrepreneurs wat slim planne vir die eiendom het. “As jy vandag ’n kantoorruimte kan koop teen die huidige gunstige rentekoers en jy wil dit in iets anders omskep – of verhuur as jy reeds ’n huurder het – is daar goeie geld te maak,” sê Robins.

Kenners is dit egter eens dat kantoorruimte waarskynlik kleiner sal wees omdat daar meer werkers is wat voortaan meer gereeld van die huis sal werk.

’n Peiling deur Tétris toon 66% van werkers wil op ’n plek weg van hul tradisionele kantoor werk en 50% wil die buigsaamheid hê om tuis of op kantoor te werk.

Tuiswerk is nie vir alle Suid-Afrikaners moontlik nie weens geen of onbetroubare internet. Sporadiese beurtkrag noop werkers om op kantoor te wees, sê Strydom.

Meer oor:  Sapoa  |  Redefine  |  Verhuurders  |  Kantooreiendom  |  Werk Van Huis Af  |  Beroepe  |  Genoteerde Eiendom  |  Kantore  |  Loopbane  |  Afstandswerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.