Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Daarom maak skoudag nog sin – kenner

Die vinnige vooruitgang van tegnologie het ’n ommekeer in talle bedrywe veroorsaak – so ook in die eiendomsektor.

Met dié dat mense deesdae amper alles aanlyn kan doen, krap baie dikwels kop oor of ’n skoudag nog regtig nodig is as jy jou eiendom wil verkoop.

Foto: VERSKAF

Volgens Joel Harris, verkoopsbestuurder van Jawitz Properties Bedfordview, is daar egter steeds ’n paar ouskool­bemarkingstrategieë wat die verkoopsproses kan aanhelp.

Al kan voornemende kopers ’n eiendom aanlyn gaan besigtig, is daar niks soos om ’n huis self te besoek nie, verduidelik hy in ’n verklaring.

“Ons het onlangs ’n beduidende toe­name in besoekers aan skouhuise waargeneem – ’n positiewe teken vir die bedryf. Die ander interessante faktor is dat die kaliber kopers ook ernstiger is. Dít gee verkopers nóg meer rede om ’n skoudag te oorweeg om die regte koper op die regte tyd te lok.”

Volgens Harris maak ’n skoudag om dié drie redes nog sin:

1. Dit is gratis!

Dit verg dalk ’n bietjie ekstra moeite om jou huis op te ruim en skougereed te maak, maar dit is uiteindelik moeiteloos en kos jou ook niks.

Dit kan ook geriefliker wees om een skoudag aan te bied sodat voornemende kopers jou huis kan besigtig, as om hulle gedurende individuele besoeke regdeur die week te moet akkommodeer.

2. Spog met wat jy het

Dit is belangrik om soveel as moontlik aandag op jou eiendom te vestig en voete te lok as jy dit verkoop wil kry.

Volgens Harris is ’n skoudag steeds een van die beste taktieke wat ’n verkoper in sy arsenaal het. Meer as 60% van eiendomstransaksies word as ’n direkte resultaat van skoudae beklink, sê hy.

’n Skoudag laat verkopers ook toe om met hul eiendomme te spog.

“Onthou, eerste indrukke maak saak. As jy ’n suksesvolle skoudag wil aanbied, moet jou huis skoon en netjies wees, lekker ruik en keurig gemeubileer wees. Dit kan kopers help om hulself in jou huis voor te stel en kan hulle dalk aanmoedig om ’n aanbod te maak,” verduidelik Harris. ’n Mooi tuin wat goed in stand gehou is, help ook baie.

3. Kry die ‘ware gevoel’

’n Skoudag laat voornemende kopers toe om ’n eiendom self te verken. Só kan hulle ’n ware gevoel kry van wat die eiendom alles bied, pleks van net na foto’s op ’n webwerf kyk.

’n Koper wat ’n skouhuis besoek, is ook op sy gemak en in die regte gemoedstoestand, voeg Harris by.

Meer oor:  Huiskoop  |  Wenke  |  Huis Te Koop  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.