Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Die huismark het weer lewe

Daar is lewe in die huismark.

’n Eiendom van R4,41 miljoen in The Wilds, in die ooste van Pretoria. Foto: Rawson Faerie Glen/Waterkloof

Vir die eerste keer in meer as vyf jaar groei huispryse nou teen ’n vinniger pas as inflasie en banke het die laaste paar maande meer huisverband-aansoeke as gewoonlik ontvang en goedgekeur, sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB).

Meer as 35% van huisverband-aansoeke word nou goedgekeur teenoor sowat 27% in die eerste helfte van 2020 kort nadat Covid-19 in Suid-Afrika geland het, lui die SARB se jongste verslag oor finansiële stabiliteit (FSR) wat einde Mei gepubliseer is.

Geoffrey Lee, uitvoerende bestuurder van Absa-huislenings, kleinhandel- en besigheidsbankdienste, sê daar is nou sowat 20% meer nuwe aansoeke vir huislenings as ’n jaar gelede.

Luidens die FSR was nominale groei (sonder die effek van inflasie) in huispryse in April en Mei verlede jaar op ’n laagtepunt van 1,2% op ’n jaargrondslag. Dit is nou sowat 4% en is gelykstaande aan vlakke voor Covid-19.

Verbandmakelaars sien ook ’n styging in die waarde van huisverband-aansoeke. Ná ’n historiese laagtepunt van R1,4 miljard in April 2020, het die waarde van nuwe verbandaansoeke wat makelaars verseker het, in November tot R22,4 miljard gestyg. Dit is die hoogste in drie jaar, lui die FSR.

Lee sê laer rentekoerse het die vraag na residensiële eiendom gestimuleer omdat leningterugbetalings bekostigbaarder is.

Nuwe en eerstekeerhuiskopers kan die mark makliker betree, huurders sien meer waarde daarin om hul eie eiendom te besit en eienaars wat iets groters wil koop, vind almal baat by die lae rentekoerse.

Die prima uitleenkoers staan op 7% teenoor 9,75% begin 2020.

Lee sê met dié verlaging is ’n nuwe kliënt met ’n huislening se terugbetaling 20% minder op dieselfde leningsbedrag, of hy kan ’n eiendom van sowat 25% meer bekostig.

“Met die groot verskuiwing in koopkrag sien ons ’n styging van 12% in die gemiddelde waarde van nuwe verbandlenings wat geregistreer word. Dié syfer kan nog verder styg.”

Steven Barker, hoof van alledaagse bankdienste, kontant en lenings by Standard Bank, sê ná die streng inperkings in die eerste helfte van 2020 en die verlaging in rentekoerse het die residensiële eiendomsmark weer begin lewe kry.

Teen R1,36 miljoen kan ‘n eenheid in die Boardwalk Meander in Pretoria joune wees. Foto: Rawson Faerie Glen/Waterkloof

Eerstekeerhuiskopers was voor in die ry, maar aktiwiteit het stelselmatig na ander segmente van die mark uitgebrei.

Tony Clarke, besturende direkteur van die Rawson-eiendomsgroep, sê 2020 is gekenmerk deur lae rentekoerse en so baie residensiële voorraad dat dit tot ’n stortvloed van kopers in feitlik alle streke en prysklasse gelei het.

Veral die mark vir intreevlak-eiendomme goedkoper as R1 miljoen is bedrywig, gevolg deur eiendomme van tussen R1 miljoen en R2 miljoen.

Hy sê die groot belangstelling het voorraadtekorte veroorsaak en agente werk hard om veral intreevlak-eiendomme te kry wat hulle kan verkoop.

Rawson verwag wel heelwat eiendomme van huiseienaars wat finansieel sukkel en nie meer hul leningverpligtinge kan nakom nie, sal binnekort in die mark kom.

Lee stem saam dat voorraad nie noodwendig tred hou met die hoër vraag nie. Die groter vraag beteken dus eiendomme is vir korter tye in die mark voordat dit opgeraap word en verkopers kry ’n beter prys.

Hy beskryf die herstel in die huismark as K-vormig. Die boonste been van die K vaar goed: Die wenners hier is eiendom vir eerstekeerhuiskopers, goedkoper deeltiteleenhede, vakansiehuise en groter huise – deels vanweë bekostigbaarheid en mense se behoeftes omdat hulle van die huis af werk.

Daarenteen is duur deeltitels, beleggingseiendom vir verhuring en die toppunt van die mark die onderbeen van die K wat minder aanloklik is.

Bertie Lombard, ’n Rawson-franchisehouer in Faerie Glen/ Waterkloof in die ooste van Pretoria, sê die hoogste vraag is na duet-eenhede en vrystaande huise van tussen R1,2 miljoen en R2,5 miljoen, en eiendomme in veiligheidskomplekse en -landgoedere van tussen R2,5 miljoen en R3,5 miljoen.

Groter eiendomme met ’n tuinwoonstel word ook vinnig opgeraap omdat talle grootouers intrek om hul kleinkinders te help versorg terwyl die ouers van die huis werk, sê Lombard.

Jonger kopers en dié wat in residensiële eiendom belê, koop graag deeltiteleenhede goedkoper as R1,5 miljoen, sê hy.

Luidens die FSR was sowat ’n derde van nuwe huislenings wat in die tweede helfte van 2020 goedgekeur is, vir 100%-lenings. (Die waarde van die huislenings is dus gelykstaande aan die koopprys van die huis.) Daarteenoor was die gemiddeld die afgelope vyf jaar 22%.

Lee sê met soveel nuwe toetreders tot die huismark word ’n laer gemiddelde deposito betaal en daar is ’n hoër vraag na 100%-lenings.

Barker sê hoewel daar baie voornemende huiseienaars is wat om 100%-lenings aansoek doen, is dit voordelig om ’n deposito van 20% of meer neer te sit omdat dié kopers vir ’n laer uitleenkoers in aanmerking kom.

Standard Bank bied kliënte ’n glyskaal met rentekoerse wat verminder soos hul leningsbalans verminder. Dit is gewild onder kliënte wat die aansporing gebruik om ekwiteit in hul eiendom op te bou terwyl hulle minder rente op hul lenings betaal, sê Barker.

Rentekoerse sal na verwagting nog geruime tyd laag bly, maar Absa waarsku huiseienaars om seker te maak hulle kan steeds ’n hoër maandelikse terugbetaling bybring sou rentekoerse op mediumtermyn styg.

Lee sê hoewel huispryse teen ’n vinniger pas as inflasie styg, moet dit gesien word in die lig daarvan dat huispryse in reële terme die afgelope dekade gestagneer het. Ekonomiese groei, en nie net rentekoersverlagings nie, is nodig voordat huispryse op lang termyn sal groei.

Kredietverlening aan die private sektor was in April 1,8% laer op ’n jaargrondslag. Dit bestaan uit krediet toegestaan aan die korporatiewe sektor en huishoudings.

Lara Hodes, ’n ekonoom van Investec, sê krediet aan huishoudings was in April 4,7% hoër as in April 2020. Die groei kom meestal van finansiering vir bates, met verbandlenings wat 5,6% hoër was as ’n jaar gelede.

Die huismark trek voordeel uit histories lae rentekoerse en omdat soveel meer mense van die huis werk, sê Hodes.

Meer oor:  Krediet  |  Huislenings  |  Banke  |  Huismark  |  Huise  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.