Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Die huweliksbedelings in SA

In Suid-Afrika het ons ’n uiteenlopende samelewing. Gevolglik is daar verskillende keuses van huweliksbedelings, as dit kom by trou.

’n Persoon kan trou ingevolge ’n burgerlike huwelik, ’n gebruiklike huwelik, burgerlike verbintenis of ’n godsdienstige huwelik.

Voor jy trou, raak jy gewoonlik verloof. ’n Verlowing is ’n ooreenkoms tussen twee partye en is dus bindend. Die partye kom ooreen om met mekaar verloof te raak. Daar is geen formele vereistes vir ’n verlowing nie.

Daar is verskillende maniere om in Suid-Afrika af te haak.Foto: iSTOCK

Daar is sekere algemene vereistes by ’n huweliksluiting:

  • Albei partye moet toestem tot die huwelik;
  • Albei partye moet ouer as 18 jaar wees;
  • ’n Persoon onder 18 jaar moet die toestemming van sy/haar ouers of voog bekom;
  • Die huwelik moet wettig wees (sekere verwantskappe is nie toelaatbaar nie, ’n persoon mag slegs met een persoon getroud wees op ’n tyd – maar laasgenoemde is nie van toepassing op gebruiklike huwelike nie);
  • Daar is sekere formaliteitsvereistes, soos die huwelik moet deur ’n huweliksbevestiger in die teenwoordigheid van twee getuies voltrek word;
  • Die huwelik moet geregistreer word by die departement van binnelandse sake.

Burgerlike huwelike

Dit is ’n monogame huwelik tussen ’n man en ’n vrou wat gesluit is ingevolge die Wet op Huwelike (Wet 25 van 1961).

Slegs huweliksbeamptes wat ingevolge die wet aangestel is, is by magte om so ’n huwelik te bevestig.

Die partye kan soos volg trou:

  • Binne gemeenskap van goedere,
  • Buite gemeenskap van goedere met insluiting van die aanwasbedeling; of
  • Buite gemeenskap van goedere met uitsluiting van die aanwasbedeling.

By enige huwelike buite gemeenskap van goedere word ’n huweliksvoorwaardekontrak vereis. Hierdie kontrak moet voor ’n notaris opgestel word en by die aktekantoor geregistreer word.

Gebruiklike huwelike

Dit is ’n huwelik gesluit tussen ’n man en vrou, onderhandel en gesluit ingevolge die heersende gebruiklike wette van die inheemse Afrika-gemeenskappe van Suid-Afrika.

Hierdie huwelike vorm deel van die kultuur van die gemeenskappe.

Die Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike (Wet 120 van 1998) wat op 15 November 2000 in werking getree het, maak voorsiening vir die erkenning van sowel monogame as poligame gebruiklike huwelike.

Alle gebruiklike huwelike gesluit voor 15 November 2000 is geldige huwelike. Hierdie huwelike word gereguleer deur die spesifieke gebruike en tradisies wat gegeld het ten tye van die sluiting van die huwelik.

’n Gebruiklike huwelik gesluit ná 15 November 2000 is ook ’n geldige huwelik. Gemelde huwelik ontvang volle beskerming onder die reg ongeag of dit ’n monogame of poligame huwelik is.

Burgerlike verbintenis

Die Wet op Burgerlike Verbintenisse (Wet 17 van 2006) reguleer hierdie huwelike. ’n Burgerlike verbintenis word gesluit tussen twee persone van dieselfde geslag. ’n Burgerlike verbintenis is outomaties ’n huwelik binne gemeenskap van goedere, tensy dit anders aangedui word in ’n huweliksvoorwaardekontrak.

In teenstelling met die Wet op Huwelike van 1961 word daar nie voorsiening gemaak vir persone wat onder 18 jaar is om te trou ingevolge dié wet nie.

Godsdienstige huwelike

’n Godsdienstige huwelik is ’n huwelik gesluit in ’n geloof soos die Islamitiese of Hindoe-geloof.

Al word hierdie huwelike nie deur ons reg erken nie, word daar wel in sekere gevalle sekere beperkte beskerming verleen aan die partye. ’n Godsdienstige huwelik moet beskou word as ’n huwelik buite gemeenskap van goedere met uitsluiting van die aanwasbedeling.

Meer oor:  Huwelike
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.