Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Dié keer vanuit ’n regsperspektief

Gustaf Pienaar kyk na ’n nuwe boek oor Dimitri Tsafendas, Hendrik Verwoerd se moordenaar, wat deur Harris Douse­metzis geskryf is en bespreek spesifiek die interessante regsposisie. 

Skets: Hanlie Malan
Skets: Hanlie Malan

Harris Dousemetzis – ’n Engelse akademikus van die Durham-Universiteit – beweer in sy boek oor die lewe van Dimitri Tsafendas, The Man Who Killed Apartheid, dat Tsafendas regtens toerekenbaar was toe hy die eerste minister Hendrik Verwoerd in 1966 om die lewe gebring het. 

Die apartheidsregering sou gevolglik die daaropvolgende regsproses gemanipuleer het om die “beskamende waarheid” te onderdruk dat ’n rasionele kommunis daarin kon slaag om ’n “geliefde leier” soos Verwoerd koelbloedig te vermoor. 

Die boek is met gloeiende entoesiasme ontvang – onder andere deur Theunis Engelbrecht (Rapport 16.12.18) en Max du Preez (Die Burger 18.12.18).

Dousemetzis bestempel die ondersoek oor Tsafendas se toerekenbaarheid in die hooggeregshof in Kaapstad voor regter-president Andrew Beyers hovaardig as “more like a Soviet-style show trial of the 1930s than an interes­ted search for truth in the Anglo-Saxon [Engelse] juridical tradi­tion”. 

Dis ’n ernstige aanklag wat myns insiens spruit uit die skrywer se klaarblyklike onbegrip van die onderliggende regsbeginsels wat geld wanneer oor ’n beskuldigde se toerekenbaarheid al dan nie beslis moet word. Van hierdie sleutelaspekte lees ons níks in die boek nie. 

Net kortliks iets oor terminologie: Aan die einde van sy ondersoek – hy het vier dae lank die getuienis aangehoor van psigiaters, sielkundiges en mense wie se paaie met dié van Tsafendas gekruis het – het regter Beyers bevind dat hy “geestelik siek, geestelik versteurd” was. Dis verouderde begrippe. 

Regsgeleerdes verkies deesdae die term “patologies ontoerekenbaar” wat dui op ’n gediagnoseerde geestesiekte. Ons reg erken egter ook die moontlikheid dat iemand tydelik, nie-patologies dus, ontoerekenbaar kan wees (soos wanneer ’n persoon ten tyde van ’n epileptiese aanval ’n misdryf pleeg). 

Terwyl Dousemetzis die voortreflikhede van die Engelse “juridical tradition” besing, kan ons sommer dáár, in Engeland, begin in aanloop tot ons bespreking van die posisie in die Suid-Afrikaanse reg. 

In 1843 het ’n paranoïese Daniel M’Naghten vas geglo dat die Britse regering – en by name die eerste minister, sir Robert Peel – hom vervolg. 

M’Naghten het die premier met sy private sekretaris verwar en hóm doodgeskiet. Hy is van moord aangekla, maar op grond van patologiese ontoerekenbaarheid onskuldig bevind. 

Vanweë hewige openbare reaksie het die Britse hoërhuis regsvrae daaroor na die regters van die hooggeregshof (sogenaamde Justices of the Queen’s Bench) verwys. Die resultaat was ’n stel reëls oor hoe ’n verweer van patologiese ontoerekenbaarheid deur die Britse howe hanteer moet word. 

Dié reëls – bekend as die M’Naghten-reëls – geld sedert 1843 bykans onveranderd in die Engelse reg. Eenvoudig gestel, word ’n persoon as ontoerekenbaar beskou wanneer hy nie oor die vermoë beskik om tussen reg en verkeerd te kan onderskei nie, en/of dat hy nie ooreenkomstig daardie insig kan handel nie. 

Die bewyslas rus op die party wat ontoerekenbaarheid aanvoer en die bewysmaatstaf is die “ligter” sivielregtelike oorwig van waarskynlikhede.

In die Engelse reg is ’n beskuldigde se morele oortuigings oor die reg of verkeerd van sy daad irrelevant. Hoofregter lord Goddard het dit in 1952 treffend soos volg in ’n uitspraak gestel: “The law cannot embark on the ques-tion?.?.?. whether some act was morally right or wrong. The test must be whether it is contrary to law. 

“[In] the M’Naghten Rules ‘wrong’ means contrary to law and not ‘wrong’ according to the opinion of one man or of a number of people on the question whether a particular act might or might not be justified.” 

Die vraag is: Wat het die Engelsregtelike posisie met Suid-Afrika te doen? Wel, álles: Die M’Naghten-reëls is in 1878 in ons reg opgeneem in R v Booth. 

In 1953 is die geldigheid van daardie reëls in ons reg deur die appèlhof in R v Koortz bevestig en enigsins uitgebrei.

Die implikasie hiervan is dat Beyers, Tsafendas se regspan en die staatsaanklaer in 1966 aan die M’Naghten-reëls gebonde was. Húlle het dit verstaan; Dousemetzis en sy pryssangers klaarblyklik nié. 

Dat Tsafendas ’n toegewyde kommunis kon gewees het, was dus regtens irrelevant by die ondersoek na sy toerekenbaarheid.

Dít slaan na my beskeie mening die bodem uit onder Dousemetzis se teorie dat Tsafendas se kommunistiese bande leuenagtig van die publiek weerhou is in (volgens hom) “one of the greatest cover-ups in apartheid history?.?.?.” 

Dousemetzis is ook erg krities oor die getuienis wat Tsafendas se regspan aangebied het ten einde die hof van sy patologiese ontoerekenbaarheid (as gevolg van paranoïese skisofrenie) te oortuig. Hy steun onder meer op die hoorsê-verhale van mense – omtrent almal leke – wat Tsafendas glo goed geken het. 

Een van sy vernaamste bronne was ’n Grieks-Ortodokse geestelike, vader Minas Constandinou, met wie hy eenmalig op 6 Februarie 2013 – 14 jaar ná Tsafendas se dood – ’n onderhoud gevoer het. 

Wat dié geestelike hom op één dag oor Tsafendas vertel het, moes Dousemetzis mateloos beïndruk het, soos blyk uit die 224 voetnotas waarin sy naam as bron vermeld word. 

Constandinou (en ander) het vertel dat Tsafendas van die wêreld se voorste psigiaters en sielkundiges telkens geflous het toe hy tussen 1943 en 1959 in minstens 11 psigiatriese inrigtings in die VSA en Europa opgeneem en behandel is. Hy sou die kuns om mense om die bos te lei deur “kranksinnig te speel” glo vervolmaak het. Regtig? 

Vir Henk van Woerden – skrywer van Domein van glas – het Tsafendas aan die einde van sy lewe persóónlik (eerstehands, dus) gesê dat hy spyt was oor sy aanslag op Verwoerd: “Ek is nie daardie soort mens nie! Dis nie my ware aard nie,” het hy gesê, en bygevoeg: “En afgesien van alles, ek was siek.” 

Vir Tsafendas sou daar toe géén risiko meer gewees het om met die “waarheid” – waarvan Dousemetzis ons nou járe later probeer oortuig – vorendag te kom nie. Dit het nie gebeur nie.

’n Mens wonder wat Dousemetzis verlang regter Beyers moes gedoen het. Hy had mos nou geen ander keuse as om Tsafendas ontoerekenbaar te bevind nie, maar nou word hy – én die Suid-Afrikaanse regstelsel – daarvoor verguis. 

Kan jy jou egter die herrie voorstel as die galg oplaas Tsafendas se lot was? “Damned if you do; damned if you don’t.” 

Die skrywer en ’n groepie geesdriftige ondersteuners versoek nou die staat om die geskiedenis oor Tsafendas te laat herskryf. En natuurlik moet Verwoerd verder gedemoniseer word as ’n “tiran” en “Hitler se beste student” – skelwoorde wat aan Tsafendas toegedig word. 

Ek kan egter nie sien hoe enig­iemand Beyers se beslissing dat hy ontoerekenbaar was op ’n regtens geloofwaardige wyse tersyde kan stel nie. 

Samevattend: Dousemetzis verdien erkenning vir sy argivale navorsing. Hoewel dit wemel van foute en verstommende aannames, verhelder dit tog plek-plek ons kennis van ’n donker periode in ons geskiedenis. Wat hy daarmee wil bereik, is egter ’n ander storie. 

Die woorde van Dalene Matthee se onvergeetlike karakter, Fiela Komoetie, kom by my op: “Hier word visgevang in ’n pispot.” Met permissie. 

  • Bron: James Grant – The Responsible Mind in South African Criminal Law (Juta, 2018). 
  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. 
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Regte  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.