Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Die (nuwe) vreugde van langspeelplate

Gustaf Pienaar het onlangs ’n nuwe platespeler aangeskaf en skryf oor die bekoring van langspeelplate en sy dae by die SAUK.

Skets: Hanlie Malan

’n Mens mag jouself darem so af en toe bederf – veral in ’n jaar wanneer jy ’n bepaalde ouderdomsdrumpel oorsteek. My nuwejaarsbederf was ’n goeie platespeler en hoëtroustel wat hier in my studeerkamer ’n staanplek gekry het. Dis alte lekker om na een van my ou plate te luister terwyl ek werk. Tans, by die skryf hiervan, speel my nuwe draaitafel Beethoven se vierde klavierkonsert in G-mol-majeur wat in 1962 deur Wilhelm Kempff en die Berlynse filharmoniese orkes onder leiding van Ferdinand Leitner opgeneem is. 

Ek het die plaat in die vroeë 1970’s aangeskaf en altyd soos ’n baba opgepas. Dit is ’n opname van die Deutsche Grammophon Gesellschaft met die bekende geel etiket – steeds ’n simbool van voortreflikheid.           

Waarin lê die bekoring van langspeelplate? Dalk ’n soort egtheid wat “skoon” en “puur” kompakskywe (cd’s) nie kan bied nie? In my geval is dit net pure nostalgie: die vae oppervlakgeruis van ’n plaat voer my met heimwee terug na sorgvrye kinderdae; gesellige kuieraande; ’n altyd verrassende ontdekking van die klassieke meesters en die talle briljante vertolkers van hul werke. 

Die mikrofoon het aan ’n kabel uit die plafon gehang. Regs was die ateljeetelefoon wat nooit gelui het wanneer die ateljee “op die lug” was nie: Daar was ’n liggie wat geflits het ter aanduiding van ’n inkomende oproep.

Min van ons plaatopnames is op cd gedupliseer; óns cd’s en langspeelplate is twee totaal verskillende versamelings. Noudat ons plate uit die motorhuis studeerkamer toe verhuis het, is die luister daarna vir my en vroulief, Corlina, ’n terugreis na die eerste jare van ons huwelik. Corlina sal so deur die plate blaai en Frida Boccara se wonderlike album Cent mille chansons te voorskyn bring: “Onthou jy ek het dié een vir jou gekoop toe ons in Durban vakansie gehou het?” 

Op my beurt haal ek dan Nat King Cole (ons albei se gunsteling) se Greatest Love Songs uit die rak: my geskenk vir haar (hoeveelste nou weer?) verjaarsdag. “Die kinders was nog klein,” mymer sy. Ons plate word met vreugde herontdek: daar’s baie klassieke musiek, maar ook terugverlang-opnames van Al Martino, Ray Conniff, Waldo De Los Rios, Jannie du Toit, Coenie de Villiers, Laurika Rauch, Mynie en Jan. 

Vergeet ook nie My Fair Lady nie: Rex Harrison en Julie Andrews. Daar is ’n paar plate op my rak wat my herinner aan ou Uitsaaihuis in Commissionerstraat, Johannesburg, waar ek in 1972 my loopbaan van 11 jaar by die SAUK begin het. ’n Voorbeeld is die album van opera-overtures deur die New York Filharmoniese Orkes onder leiding van Leonard Bernstein – in die besonder Hérold se Zampa-overture. Naby die einde van die snit is daar ’n melodie wat baie van die ouer lesers sal onthou: die kenwysie van Esmé Euvrard (1919-1993) se halfuurlange versoekprogram, Aan die pasiënte, wat Maandagmiddae om twaalfuur oor die destydse Afrikaanse radiodiens uitgesaai is. Ek had die voorreg om dié formidabele uitsaaier goed te leer ken.                                   

Maar eers moet ek vertel hoe die Afrikaanse radiodiens se ateljee toe daar uitgesien het. Die omroeper het by ’n u-vormige werkstasie gesit. Weerskante was daar vier draaitafels, twee aan elke kant. Agterlangs was daar bandmasjiene vir die speel van programme wat vooraf op band “verpak” is: “U eie keuse”, “Vrouerubriek”, “Jongspanateljee”, “Rekenskap”, die weeklikse voortreflike hoorbeelde – noem hulle maar op. Die mikrofoon het aan ’n kabel uit die plafon gehang. Regs was die ateljeetelefoon wat nooit gelui het wanneer die ateljee “op die lug” was nie: Daar was ’n liggie wat geflits het ter aanduiding van ’n inkomende oproep.

En dan was daar die “gonserknoppie” wat gemonteer was teen die rand van die tafelblad vanwaar uitgesaai is. Daarmee kon die omroeper uit die klankdigte ateljee met die tegnikus agter die “glasgordyn” kommunikeer. Een kort drukkie daarop het ’n gonsgeluid by sy instrumentebank gemaak. Dit het beteken jy vra die rooi lig sodat jy op die lug kon gaan “om met die volk te praat.” (Nic de Jager se geliefkoosde sêding.) Twee kort drukkies het beteken die tegnikus moet jou van die lug afhaal, waarna die groen lig in die ateljee aangegaan het. Drie drukkies was die kode vir die oranje lig, sodat jy en die tegnikus regstreeks met mekaar kon praat – sonder dat die gesprek uitgesaai sou word.       

Laastens sou jy een van die snitte van “Die Stem” speel: die keuse was joune.

Maar terug by Esmé Euvrard. Sy was aan die korterige kant en het telkens ’n dik telefoongids op die omroeperstoeltjie geplaas om ’n raps hoër te kan sit, ter wille van die regte posisie voor die mikrofoon. Dan het sy begin om die kranklikes met haar simpatieke stem en keurige musieksnitte beterskap toe te wens. 

Esmé was voorlangs – hoe sal ek dit stel – “goed bedeeld”, tot so ’n mate dat haar bolyf die hele tyd wat sy op die lug was teen die “gonserknoppie” gedruk het. As jy dus in ou Uitsaaihuis se gange op die vierde verdieping – waar die Afrikaanse diens gehuisves was – gestap het, en jy hoor die ateljee se gonser onafgebroke sy aaklige geluid maak, is jy daaraan herinner dis Maandag ná twaalf en Esmé is besig met Aan die pasiënte. Nog ’n plaat in my versameling wat my aan ou Uitsaaihuis herinner, is die SAUK-transkripsiediens se opnames van Die Stem van Suid-Afrika wat spesiaal gemaak is vir 1960 se Uniefees.

Dit behels ’n voortreflike vertolking van al vier strofes van die destydse volkslied deur die ASAF-koor, in kombinasie met die Cantare-mannekoor, en begelei deur die SAUK-simfonieorkes onder leiding van Anton Hartman. Daar is ook uitvoerings (sonder sang) deur, onderskeidelik, die Simfonieorkes en die Lug­mag­orkes. Les bes word al vier strofes van die Langenhoven-gedig deur Jan Schutte met sy mooi radiostem voorgedra. Als word op kant twee van die plaat in Engels herhaal. 

Gedurende my eerste jaar  by die SAUK moes ek dikwels die aandskof in die ateljee behartig. Dit het bestaan uit “verpakte” programme op band wat jy maar net inleidend moes aankondig. Elfuur moes jy die laataandnuus lees, gevolg deur weervoorspelling, die laataandoordenking en dan stasiesluiting. Jy sou iets sê soos: “Dit is die Afrikaanse diens van Radio Suid-Afrika wat uitsaai op FM, mediumgolf en kortgolf. Hierdie sender sluit nou tot môreoggend om sesuur. Goeienag, luisteraars – wel te ruste.” (Om gewoon te sê “lekker slaap” is destyds beskou as “minder keurige radiotaal”.)

Laastens sou jy een van die snitte van “Die Stem” speel: die keuse was joune. Ek het gewoonlik die kooropname van die eerste strofe of die bekende vierde strofe, “Op U almag vas vertrouend…” gekies. Ek was ook lief vir die voortreflike uitvoering – sonder sang – deur die simfonie-orkes.Ek verlang dikwels terug na daardie dae – nie vanweë apartheid se valse gerusstelling nie, maar vanweë die onvermengde trots waarmee ons die volkslied gesing en gespeel het. 

Iets van daardie hoendervleiservaring beleef ek hedendaags wel as die Springbokke iewers uitdraf en “Nkosi” word dan gesing. Dit gebeur egter gáns te min, wil ek waag om te sê.

  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. 
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Omroeper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.