Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Die swaard oor muur tussen bure

Gustaf Pienaar bespreek weer lesers se vrae oor grensmure en ’n huiseienaar se onmiddellike bure, sowel as familiegrafte op plase. Hy deel ook ’n kort storie wat hy by ’n buurman gehoor het oor ’n luislang genaamd Oupa.

  

Skets: Hanlie Malan

Miskien onthou jy dat ek verlede week die vraag behandel het van ’n leser oor die grensmure tussen sy eiendom en dié van sy onmiddellike bure.

Hy het vertel dat die mure sekuur binne die grense van sy eiendom gebou is en dat hy dit daarom as sy eksklusiewe eiendom beskou.

Daar is mettertyd op die aanliggende eiendomme gebou en nou maak sy bure met “sy” mure wat hulle wil – verf dit, boor gate daarin, bring ligte daarteen aan, ensovoorts. Wat hom eintlik vies maak, is dat sy bure hom nie in hul aktiwiteite ken nie.

Die oplossing, meen hy, is dat hulle maar hul eie grensmure moet oprig.

Nou vra ’n skerpsinnige leser, Rikus Kloppers, of die werklike eienaar van die mure daarop geregtig sou wees om dit af te breek.

Rikus praat nie van as die mure op die punt staan om ineen te stort nie; eerder of die eienaar daarvan dit sou kon afbreek uit “enkel spijt en kregelheid”, soos ons privaatreg 1-proffie dit altyd gestel het – bedoelende om iets met ’n kwade gesindheid te doen. (Laat ek dit tog duidelik stel: kwade bedoelings het ek nie in die anonieme leser se korrespondensie agtergekom nie; hy wou bloot ’n antwoord hê oor die teoretiese vraag hoever sy eiendomsregte ten aansien van die grensmure strek.)

Ek het daarop gewys dat ’n grensmuur minstens teoreties altyd presies óp die grens gebou word sodat die een helfte op die een eiendom staan en die ander helfte op die buureiendom. Die eindresultaat is ’n besondere verskyningsvorm van mede-eiendomsreg wat regte en verpligtinge aan albei partye toedig.

Rikus se vraag is wat die buureienaars se regte sou wees as die werklike eienaar van die mure egter sou besluit om – bygesê, met kwade bedoelings – “sy” mure af te breek. Mag hy dit sommer doen?

Ek dink die antwoord lê in die indruk wat die eienaar van sulke mure oor hul “status” by sy bure wek.

Dit sou myns insiens nie onredelik van die bure wees om aan te neem dat die mure gemeenskaplike eiendom is nie, soos ek hier bo verduidelik het.

Ek sou reken dat daar ’n regsplig op die werklike eienaar rus om sy bure by die vroegste moontlike geleentheid in te lig oor die ware toedrag van sake – dat die mure volledig sy eiendom is.

Doen hy dit nie, en sy bure aanvaar tot hul nadeel dat dit gemeenskaplike eiendom is, kan hy hom nie agterna op die ware toedrag van sake beroep en die mure afbreek nie.

’n Nadeel vir ’n buurman sou byvoorbeeld daarin geleë wees dat hy nie in sy boubegroting voorsiening maak vir die bou van ’n bykomstige grensmuur aan sy kant nie.

Daar rus nie ’n algemene plig op mense om wanindrukke uit die weg te ruim nie. Volgens watter norm sal die reg die eienaar van die mure dus gebonde hou aan die verkeerde indruk wat hy gewek het?

Die toets is die “normale handelspraktyk”, soos die appèlhof dit by geleentheid gestel het.

Toegepas op die burereg: as redelikheid en billikheid van hom sou vereis om te praat, en hy versuim om dit te doen, sal hy met die gevolge moet saamleef: die mure – en die gepaardgaande regte van sy bure – is nie meer sy eksklusiewe eiendom nie.

Die swaard is egter tweesnydend: as die buureienaars óók saamgaan met die indruk wat gewek is – die betrokke grensmure is gemeenskaplike eiendom – en hulle begin om geesdriftig daarin gate te boor, dit te verf en ligte daarteen aan te bring, kan hulle myns insien nie later hul plig om by te dra tot die instandhouding van die mure ontken nie.

Om in so ’n geval vir die eienaar van die mure te sê: “O, ons hoor nou eers dis jóú mure; hou jy dit maar op jou koste in stand,” sal hulle nie ver bring nie.

Bron: McWilliams v First Cons. Holdings (Pty) Ltd 1982(2) SA 1 (AD).

Familiegrafte op plase – ’n laaste woord

’n Paar weke gelede het ek die mening uitgespreek dat ’n mens daarop geregtig is om die grafte van jou geliefdes wat op ’n vorige familieplaas geleë is te besoek.

Bygesê, mits sulke besoekregte nie die veiligheid of werksaamhede op die plaas in die wiele ry nie. (Sien art. 6[4] van die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyf van 1997.)

Nou vra Mike Ferreira of die wet dit toelaat om familielede steeds in plaasbegraafplase te begrawe as die plase intussen van eienaars verwissel het. “Hang dit van die nuwe eienaar se diskresie af of is ’n mens outomaties geregtig daarop om familielede nog daar te begrawe – met dien verstande dat die plaasbegraafplaas se grense nie vergroot word nie?” vra Mike.

Dit lyk nie so nie. Die reg om op ’n plaas begrawe te word geld net vir ’n “okkupeerder” van die betrokke eiendom ten tyde van sy afsterwe.

“Okkupeerder” word wyd omskryf, maar dit strek nie sover as die familielede van mense wat jare gelede daar begrawe is en geen bande met die plaas meer het nie.

Die nuwe eienaar van die plaas mag so iets natuurlik uit blote medemenslikheid toelaat.

Van Oupa tot president

Glenda Kemp het in die 1970’s beroemdheid – en berugtheid – verwerf as ’n skraps geklede danseres wat met haar luislang met die naam Oupa veral jong mans laat swymel het.

Vertel Buurman nou die aand sý Kemp-storie en ek vra permissie om dit in Eiendomstories te vertel. “Ja wat”, antwoord hy gelate, “op voorwaarde dat jy nie my naam noem nie en skryf dit was vóór my troue”.

Buurman en ’n vriend is as jong sakemanne verlei om so ’n Glenda-cum-Oupa-vertoning iewers aan die Oos-Rand by te woon. Die probleem was die koste – R50 per kaartjie. Destyds was dit báie geld.

Die vertoning was ten bate van die Oos-Randse Jaycees – ’n beweging vir jong sakelui wat van die VSA oorgewaai het.

Buurman en sy pel het uitgevind as hulle by die Jaycees sou aansluit (R25 ledegeld per jaar), hulle die Kemp-Oupa-vertoning teen halfprys (’n verdere R25) kon bywoon. Die lekkerte was dat hulle die verskuldigde R50 oor ’n jaar kon afbetaal.

Buurman sê die vertoning was nogal ’n teleurstelling. Die hoogtepunt was toe Glenda vir Oupa soos ’n ampsketting om die plaaslike burgemeester se nek loop hang het en dié waardige heer gebloos het dat jy dit wie weet waar kon sien.

Die Jaycees het egter onder Buurman en sy vriend se velle ingekruip en hul lidmaatskap – wat volgens beplanning van korte duur sou wees – het jare aangehou. Hy het oplaas president van die Oos-Randse sirkel van die Jaycees geword, en sy pel het hom later in daardie hoedanigheid opgevolg. 

  • Gustaf Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. Hy gee nie persoonlike regsadvies nie, maar beantwoord algemene vrae. Stuur e-pos vir hom na guspienaar@gmail.com. 
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Muur  |  Eiendomme  |  Eiendomstories
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.