Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Edcon se probleme laat sentrums les opsê

Die kombinasie van verbruikers wat sukkel en ’n ooraanbod van winkelsentrums in metropolitaanse gebiede eis sy tol op winkelsentrumeienaars en kleinhandelaars.

Die nuwe restaurant-gedeelte in Hyprop se The Glen-winkelsentrum in die suide van Johannesburg. Dié sentrum word negatief geraak deur nuwe mededinging in sy handelsomgewing.

Winkelsentrums se omsetgroei – ’n kernaanwyser van verbruikersbesteding – neig al hoe laer en leegstaansyfers klim al hoe hoër namate sukkelende kleinhandelaars afskaal deur van hul kleiner winkels te sluit en hul groot winkels te verklein.

Winkelsentrumeienaars wat nog skaars die ruimtes gevul het wat in 2017 deur Stuttafords se ondergang leeg gelaat is, word opnuut gekonfronteer met die sukkelende Edcon Group. Die groep het reeds heelwat van sy winkels toegemaak en wil nóg 500 000 m² se winkelruimte binne die volgende 12 tot 18 maande sluit.

Eiendomsmaatskappye het groot blootstelling aan Edcon.

Estienne de Klerk, uitvoerende hoof van die reus Growthpoint, wat onder meer 50% van die V&A Waterfront in Kaapstad en die Northgate Mall in Johannesburg besit, sê die groep se blootstelling aan Edcon beloop 116 000 m². “Ons werk ten nouste saam met hulle om oplossings te kry.”

Hy sê om nuwe huurders vir van Edcon se kleiner winkels te kry, is makliker as vir die groot Edgars-winkels.

Die gemiddelde groei in die handelsdigtheid (omset per m²) van Growthpoint se winkelsentrumportefeulje het aan die einde van Junie 2018 op 1,3% gestaan.

Volgens Hyprop, die land se genoteerde spesialis-winkelsentrumfonds, wat onder meer die Rosebank Mall, The Glen en die Clearwater Mall in Johannesburg besit, asook Canal Walk in Kaapstad, het Edcon aan die einde van Junie 2018 67 300 m² se ruimte in sy winkelsentrums opgeneem. In 2017 was dit 70 102 m².

Pieter Prinsloo, uitvoerende hoof van Hyprop, sê in die 2019-boekjaar gaan Edcon-huurkontrakte vir 1 380 m² se ruimte wat hernieu moet word, nie hernieu gaan word nie. “ ’n Verdere 8 600 m² is onder oorsig met die oogmerk om vervangingshuurders te kry.”

Die gemiddelde groei in die handelsdigtheid van Hyprop se winkelsentrumportefeulje het aan die einde van Junie tot 0,5% afgeneem van 1,4% die vorige jaar. Prinsloo sê die Kaapse sentrums het beter vertoon as dié in Johannesburg, waarskynlik omdat daar nie so ’n ooraanbod van sentrums die laaste paar jaar opgeskiet het nie.

Volgens die syfers van die Vereniging van Eiendomseienaars van Suid-Afrika (Sapoa) was die gemiddelde groei in die handelsdigtheid vir die kleinhandeleiendomsektor aan die einde van Maart -0,2%.

Die leegstaansyfer in sentrums styg toenemend en aan die einde van Maart het 5,5% van superstreeksentrums, dié groter as 100 000 m², leeg gestaan.

Die leegstaansyfer van Growthpoint se kleinhandeleiendomsportefeulje het aan die einde van Junie onveranderd gebly op 3,6%. Hyprop se leegstaansyfer het in die jaar tot einde Junie afgeneem tot 1,9% teenoor 2,4% die vorige jaar.

“Die kleinhandeleiendomsektor, wat die afgelope 50 jaar die liefling van beleggers was, is nou vir die eerste keer op ’n strukturele grondslag onder druk, ’n duidelike simptoom van die swak ekonomie,” sê Erwin Rode, eiendomsekonoom en -waardeerder van Rode & Genote.

Ten spyte van die moeilike makro-ekonomiese omgewing het Hyprop Vrydag ’n stewige stel resultate vir die jaar tot einde Junie bekend gemaak. Die fonds het ’n totale jaarlikse dividend van 756,5c per aandeel verklaar, 8,8% hoër as verlede jaar. Sy vooruitskatting vir die jaar wat voorlê, is ’n meer versigtige 5% tot 7%, hoofsaaklik weens die gedempte verbruikerslandskap in die land.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.