Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Eiendomsektor se wenslys vir begrotingsrede

Die eiendomsektor is in sy skik oor Donderdag se staatsrede wat die vooruitsig vir veral kommersiële eiendomme verbeter het.

Tito Mboweni, minister van finansies, met die mediumtermynbegrotingsraamwerk-toespraak, 24 Oktober 2018 in Kaapstad.Foto: Getty Images

Die bedryf hou nou duimvas sy wenslys vir aanstaande week se begrotingsrede word ook waar, wat sal dui op ’n totale herontwaking van die hele eiendomsbedryf.

John Jack, uitvoerende hoof van Galetti Corporate Real Estate, glo dat die staatsrede se fokus op beleggings en planne om die ekonomie te verbeter langverwagte nuus is wat die hele eiendomsektor sal versterk.

“Die staatsrede is baie goed ontvang, veral deur die eiendomsbedryf wat vir ’n geruime tyd ’n positiewe hupstoot nodig gehad het,” sê Jack.

“Kommersiële eiendomseienaars hoop al lank om te sien dat die hoë vlakke van vakatures omgekeer word, en Ramaphosa se toespraak was beslis die positiewe nuus wat die bedryf nodig gehad het.

“Dit sal ondernemings nou aanmoedig om hulself te posisioneer vir groei.”

Jack noem dat veral die aankondiging van ’n uitbreiding van die landboubedryf asook die ontdekking van aardgas deur Total ’n goeie impak sal hê op die prestasie van die eiendomsektor.

Lees meer: Total se ontdekking kan tot stormloop lei

Volgens Andrew Golding, uitvoerende hoof van Pam Golding, hoop die bedryf dat die begrotingsrede kommer oor Suid-Afrika se ekonomiese toekoms sal laat afneem.

Maar Golding sê dat die stappe wat nodig is vir so ’n ommekeer nie maklik gaan wees nie, aangesien Tito Mboweni, minister van finansies, ’n baie moeilike balans moet handhaaf.

“Hy moet ’n begroting op die vooraand van ’n nasionale verkiesing lewer wat ’n groot begrotingstekort moet takel én vertroue herstel.

“Mboweni word ook gekonfronteer met verbruikers wat gebuk gaan onder hoë belasting, insluitend ’n toename in BTW, asook die aanhoudende styging in die prys van kos, water, elektrisiteit en brandstof.”

Volgens die verbandmakelaar Ooba is die bedryf uiteindelik besig om te herstel tot dieselfde vlakke wat laas voor die resessie van 2008 gesien is.

Meer as die helfte van al Ooba se verbande is vir nuwe kopers wat die eerste keer ’n eiendom aanskaf.

Al is die deposito wat dié voornemende kopers as persentasie van die koopprys kan lewer ál laer, word hul lenings steeds goedgekeur.

Dié lenings is ook nou op gemiddeld die laagste konsessie bo die prima rentekoers wat dit nog gehad het sedert April 2011, en staan nou op 0,1%.

Golding sê die eiendomsektor kan baat by vyf spesifieke stappe wat in die begroting uitgelig kan word:

  • 1. Afname in oordragkostes: Oordragkoste van eiendomme maak ’n beduidende bydrae tot staatskoffers, en ’n deurlopende verlaging van dié kostes sal toelaat dat die aantal transaksies in die sektor toeneem, wat eindelik kan lei tot ’n netto toename van staatsinkomste.
  • 2. Geen verhoging van belasting: Die positiewe effek op verbruikers- én sakevertroue sal die belangrikste drywers van die eiendomsbedryf – eerste kopers en die jeug – ondersteun om meer aktief aan die mark deel te neem.
  • 3. Belastingaansporings vir kleinsake: Sulke aansporings kan broodnodige kontant losmaak onder entrepreneurs om uit te brei en die ekonomie te steun, wat ook direk verband hou met die prestasie van die eiendomsektor soos wat ondernemings groei.
  • 4. Moedig omgewingsvriendelike konstruksie aan: Die koste om selfs bestaande geboue aan te pas om omgewingsvriendeliker te wees is uitsluitend hoog, en ook in die bekostigbare eiendomsmark is die finansieringsopsies vir voorafvervaardigde geboue afwesig, veral as dié strukture volhoubare ontwerp toepas. Met goeie beleidsrigting sal banke maniere vind om finansiering vir sulke projekte aan te bied.
  • 5. Hersien heffings vir ontwikkelings: In KwaZulu-Natal word belasting op vakante grond vyf keer hoër as vir woonhuise gehef, met die gevolg dat kopers wat onbeboude grond in nuwe ontwikkelings koop, buitensporige fooie betaal. In plaas daarvan moet daar spesiale ontwikkelingsbedelings wees om die tariefbasis te verhoog.

Mboweni lewer sy begrotingstoespraak op 20 Februarie.

Meer oor:  Pam Golding  |  Begroting 2019  |  Tito Mboweni  |  Andrew Golding  |  Belasting  |  Ontwikkelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.