Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Eiendomspraatjies: Jóú plig om seker te maak

In die vorige Eiendomspraatjies wat op 14 Julie verskyn het, het ons begin gesels oor ’n paar minder bekende struikelblokke wat ondervind kan word tydens die koopproses. Vandag fokus ons op nog twee van dié moontlike probleme:

Fokus op die bouplanne

’n Belangrike kwessie om te onthou is dat die deeltitelskemas, bouplanne en deelplanne van die skema in orde moet wees.

Hier moet jy sorg dat jou uitbreidings of aanbouings op die bestaande planne bygevoeg word. Die sonering van die skema, die bouplanne en die deelplanne moet ooreenstem voordat goedkeuring toegestaan sal word en jou aanbouings wettig is. Hier moet art. 28(9) ingevolge Tshwane se 2016-grondgebruiksbestuursverordening nagekom word.

’n Landmeter sal soms aangestel moet word om die korrekte grenslyne te bepaal. Indien daar enige strukture oor die grenslyne gebou is, sal dit verwyder moet word. Foto: iSTOCK

Hou in gedagte dat die metroraad jou kan dagvaar as daar onwettige bouwerk gedoen is, en daar sal ’n slopingsbevel teen jou uitgereik word.

Die mening bestaan dat planne wat vernietig is in die brand by die Munitoria-gebou jare gelede nie meer saak maak nie.

Dit is egter heeltemal verkeerd. Dit is nie die metroraad se plig om afskrifte van jou bouplanne te bewaar nie, die onus rus op jou as eienaar.

Diegene wat aanneem dat daar nou enige aanbouing en verbeterings aangebring kan word sonder om dit op die plan aan te dui omdat die planne vernietig is, loop die risiko dat enige sulke verbouings of aanbouings onwettig is en ’n klomp onaangename gevolge kan hê.

Dit is ook geen verskoning in die geval waar jy ’n eiendom gekoop het en aangeneem het al die planne en aanbouings is in orde nie. Jy as koper moet eerder self seker maak dat die regulasies en artikels ten opsigte van aanbouings, boulyne en serwitute nagekom is voordat jy die koopkontrak teken.

In die geval waar daar aansoek vir ’n verbandlening by ’n bank gedoen word, sal die bank aandring op goedgekeurde planne wat die huidige strukture aandui. Indien die planne nie op datum is nie, sal die bank die aansoek afkeur en dit sal tot nadeel van die koper en die verkoper wees.

Die grenslyne van jou eiendom moet verkieslik ook nagegaan word, veral in die ouer woonbuurte.

’n Agent wat sy of haar sout werd is, sal vooraf seker maak van veranderings en of dit aangedui en goedgekeur is sodat die
kliënt vooraf ingelig kan word en nie later teleurstellings beleef nie.

Indien jy ’n eiendom wil verkoop, is dit wenslik dat jy jouself vergewis van die bogenoemde feite ten opsigte van jou eiendom. Daar is groot finansiële implikasies as jou eiendom nie voldoen aan al die wette, reëls, regulasies en artikels nie.

Ek stel voor, as jy nie seker is nie, om ’n geregistreerde aktevervaardiger of professionele stadsbeplanner te nader om seker te maak jou eiendom voldoen aan al die vereistes voordat jy die eiendom verkoop.

My raad aan enige koper en verkoper is om vooraf seker te maak dat die eiendom voldoen aan al die voorskrifte voordat jy koop of verkoop.

Onthou die grenslyne

Die grenslyne van jou eiendom moet verkieslik ook nagegaan word, veral in die ouer woonbuurte. Eienaars was nie altyd bewus van die presiese grenslyne nie en het na goeddunke skermmure en strukture gebou.

Indien die eiendom vandag verkoop word en daar word gevind dat die grenslyne oorskry is, sal dit baie onaangenaamheid en verdere koste-implikasies meebring.

In so ’n geval sal ’n landmeter aangestel moet word om die korrekte grenslyne te bepaal en indien daar enige strukture oor die grenslyne gebou is, sal dit verwyder moet word.

My raad aan enige koper en verkoper is om vooraf seker te maak dat die eiendom voldoen aan al die voorskrifte voordat jy koop of verkoop. ’n Kooptransaksie kan gekanselleer of vertraag word as daar slegs een van die bogenoemde situasies voorkom en dit is tot albei partye se nadeel, om nie eens te praat van die koste wat dit meebring nie.

Skakel my by Isabel Jacobs Properties as jy ’n eiendom wil aankoop of bemark en onseker is of daar aan al die vereistes voldoen word.

Ons professionele eiendomspraktisyns het die nodige kundigheid, vaardigheid en kennis en kan jou verwys na enige van ons professionele medewerkers indien jy sulke dienste sou benodig.

  • Hefer is ’n professionele eiendomspraktisyn by Isabel Jacobs Properties. Kontak hom by 082 555 0762 of robin@ijprop.co.za.
Meer oor:  Huiskoop  |  Huis Verkoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.