Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Eiendomsreg en huiseienaar

Om ’n huiseienaar te word is ’n mylpaal in die meeste mense se lewens. Met eiendomsreg in ’n vaste eiendom kom sekerheid en stabiliteit. Eienaarskap skep welvaart in die samelewing.

Ferdi Verryn

Die eienaarskap van ’n vaste eiendom gaan ongelukkig gepaard met veelvuldige implikasies wat insluit sekere regskwessies.

Hierdie kwessies kan soms kompleks en selfs oorweldigend wees.

Daar is verskeie wette wat ’n rol speel by die eiendomsreg van vaste eiendomme en die oordrag daarvan.

Die gemenereg speel ook ’n rol en verskeie hofuitsprake kan ook van toepassing wees.

Die Akteregistrasiewet reguleer die registrasie van regte op grond en ander vaste eiendom. Suid-Afrika het ’n lang geskiedenis van grondregistrasie en spog met een van die mees effektiewe en gesofistikeerde registrasiestelsels vir grond in die wêreld.

Die primêre doel van die registrasiestelsel is om kennis aan die publiek te gee van eiendomsreg op grond en ander saaklike regte.

Die registrasie van eiendomsreg in die Aktekantoor skep regsekerheid. Registrasie teken die regte van die publiek aan en beskerm dit.

Elke stuk grond in Suid-Afrika word aangetoon op ’n kaart of algemene plan wat geregistreer is by die landmeter-generaal se kantoor.

Eienaarskap van hierdie stukke grond is aangeteken (geregistreer) by een van die plaaslike aktekantore.

Die publiek het toegang tot hierdie rekords.

Die aktekantoor vorm deel van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming en is ’n staatskantoor waar die rekords van eiendomstransaksies en ander saaklike regte op onroerende goed gehou en geregistreer word.

Ferdi Verryn

Een van die belangrikste beginsels by die vervreemding van grond is dat so ’n transaksie op skrif moet wees en dat gemelde skriftelike dokument/kontrak deur die partye onderteken moet wees.

Art. 2 van die Wet op Vervreemding van Grond, bepaal dat enige vervreemding van grond ongeldig is tensy dit vervat is:

  • in ’n vervreemdingsakte; en
  • die akte onderteken is deur sowel die koper as verkoper.

’n Vervreemdingsakte sluit ’n aanbod om te koop en koopkontrak in.

Eiendomsreg word dan oorgedra van die verkoper na die koper deur middel van ’n titelakte wat deur die registrateur van aktes onderteken en geattesteer is.

Die volgende regsbeginsels en wetgewing kan ’n rol speel by eiendomsreg van vaste eiendomme (die lys is nie volledige nie):

  • Grondwet;
  • Akteregistrasiewet;
  • Belastingwetgewing: inkomstebelasting, hereregte, kapitaalwinsbelasting;
  • Kontraktereg;
  • Verhuringsreg;
  • Munisipale wetgewing en regulasies;
  • Omgewingswetgewing;
  • Die Wet op Basiese Beroepsgesondheid en -veiligheid;
  • Huweliksreg;
  • Testamente en boedels;
  • Wetgewing van toepassing op sogenaamde saamwoongemeenskappe;
  • Onteieningswetgewing; ensovoort.

Daar is ook ’n verskeidenheid van partye en organisasies wat betrokke kan wees by die oordrag van eiendomsreg op vaste eiendomme, naamlik:

  • Eiendomsagente;
  • Finansiële instellings (banke);
  • Verbandmakelaars;
  • Versekeringsmaatskappye (kort termyn en lang termyn);
  • Aktevervaardigers;
  • Aktekantore;
  • Munisipale owerhede;
  • Suid-Afrikaanse Inkomstediens;
  • Meester van die hooggeregshof;
  • Regspersoon by Deeltitelskemas;
  • Huiseienaarsverenigings; ensovoort.

Die behoud en oordrag van eiendomsreg op vaste eiendom kan ingewikkeld wees.

Dit is dus noodsaaklik dat die dienste van ervare en bekwame adviseurs bekom word.

Meer oor:  Huiskoop  |  Huisgids  |  Ferdi Verryn  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.