Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Eiendomstories: Die rooi ligte van die Rio-ramp

Gustaf Pienaar skryf oor die bewaring van museumskatte op eie bodem soos Arbeidsgenot op Oudtshoorn ná die verwoestende brand in die Nasionale Museum in Rio de Janeiro.

Sket: Hanlie Malan

Ek het Maandagaand met hartseer gekyk na die nuusbeelde van die vlammesee wat die Nasionale Museum in Rio de Janeiro verswelg het.

Pres. Michel Temer het die vernietiging van maklik soveel as 20 miljoen argeologiese en historiese voorwerpe in die museum as ’n “ongekende verlies vir Brasilië” bestempel. “Tweehonderd jaar se navorsing en kennis is verlore,” het hy bygevoeg. Ek hoop dat voorvalle soos dié kuratore van ons eie museums en kunsgalerye ’n slapelose nag of twee sal besorg.

Soos Eureka Barnard, voorsitter van die Langenhoven­gedenkfonds, my gedurende ’n telefoniese onderhoud vertel het, is dit “bykans onmoontlik” om honderd persent seker te maak dat ’n kosbare museum soos Arbeidsgenot op Oudtshoorn nie ook eendag die pad van die Rio-museum sal volg nie.

Tog kan heelwat méér nog gedoen word om veral brandskade te beperk.

Ek gebruik Arbeidsgenot as voorbeeld: Die aanbring van watergedrewe brandblussers sal straks net soveel skade as die brand self aanrig.

Self het ek egter al by ander museums meer gesofistikeerde toerusting gesien wat (as ek dit reg verstaan) byvoorbeeld suurstof onttrek aan ’n vertrek waar ’n brand uitbreek. Dít het Arbeidsgenot helaas nie; die koste daarvan is eenvoudig te hoog.

’n Ander opsie is om die waardevolste artikels in ’n museum minstens tydelik elders veilig te berg totdat die gebou beter teen ’n vernietigende brand beskerm is. Weer Arbeidsgenot as voorbeeld: Dit huisves talle eerste uitgawes van Langenhoven se boeke wat hy telkens eiehandig met leer oorgetrek het en – met ’n minsame inskripsie in sy eie handskrif voorin – aan sy “vroutjie” geskenk het. Vergeet ook nie sy onvervangbare vertaling in Afrikaans nie van minstens gedeeltes van die Rubáiyát van Omar Khayyám wat in ’n pragtige houtkissie – wat dié sagmoedige man self gemaak het – in die voorhuis geberg word.

Ek is by geleentheid toegelaat om daardeur te blaai: Dit is ’n kunswerk van hoogstaande gehalte.

“Die probleem is ’n tekort aan geld,” mor die Langenhoven­gedenkfonds se Barnard. Arbeidsgenot moet dringend gerestoureer word teen ’n koste van minstens R300 000. “Ons het nie daardie soort geld nie. Ons sukkel om selfs net ons mees basiese maandelikse uitgawes – personeel, waterverbruik, elektrisiteit – te dek. Laat staan nog gesofistikeerde brandbestrydingstoerusting.”

In die verlede het Naspers ruim bygedra tot die vestiging van die teater- en kantoorkompleks by Arbeidsgenot. Nou wonder ek maar net of daar nie nóg ’n paar oulap uit daardie oord – en verskeie ander soortgelyke oorde – kan kom nie.

Trouens, bykans elke plattelandse dorp het sy eie Arbeids­genot wat ewe hard worstel om kop bo water te hou – as dit nie weens ’n gebrek aan geld is nie, dan weens ’n gebrek aan leierskap wat van integriteit getuig:

Só wag Brandfort byvoorbeeld steeds op die beloofde museum om Winnie Mandela se nalatenskap te verewig.

Sulke plekke – wat vir ons vertel wie ons is en waarvandaan ons kom – durf tog nie die Rio-pad van vernietiging te volg nie, of hoe?

Die oogmerke van die tweede regulasie hou verband met die verskynsel dat Suid-Afrika jaarliks deur uitvoere kosbare erfenisskatte verloor.

Nóg oor museums en die behoud van historiese skatte Op 24 Augustus het in die Staatskoerant konsepregulasies van die departement van kuns en kultuur verskyn wat die noukeurige aandag van museums en bewaringsinstansies regverdig.

Die eerste stel regulasies hou breedweg verband met die teruggawe deur staatsondersteunde instansies – soos museums – van bepaalde roerende erfenisvoorwerpe in hul bewaring, aan eisers wat ’n bona fide-belang by sulke voorwerpe kan bewys.

Dit sluit in argeologiese, geologiese en paleontologiese voorwerpe, meteoriete, etnografiese kuns, militêre, wetenskaplike en tegnologiese voorwerpe, boeke en historiese dokumente, fotografiese materiaal – ag, die lys is lank.

Onder “restitution” (terug­gawe) word verstaan: “ . . . the return of an object to the success­ful claimant who lost ownership of the object during a period in the history of South Africa, when ownership was denied.”

Dít is ’n mondvol en vertel nóg ’n sensitiewe storie van ons land se verlede.

Die konsepregulasie maak voorsiening vir ’n prosedure waarvolgens ’n eis bewys moet word, asook vir ’n moontlike daaropvolgende appèlprosedure.

Die oogmerke van die tweede regulasie hou verband met die verskynsel dat Suid-Afrika jaarliks deur uitvoere kosbare erfenisskatte verloor.

Dit sluit in kunswerke, meubels, militêre items, klerasie, musiekinstrumente, gereedskap, herwonne boumateriaal, boeke, manuskripte, seëlversamelings, geld, medaljes.

Weer eens: Die lys is lank en kan straks nog langer gemaak word – byvoorbeeld met die insluiting van antieke en klassieke motorvoertuie wat tans nie uitdruklik in die konsepregulasies vermeld word nie.

Sulke gelyste voorwerpe mag nie sonder ’n permit uitgevoer word nie.

Die twee regulasies is allermins woord- en begripmatig sekuur opgestel.

Ek wil kundiges in bewaringskringe dus aanmoedig om dit te bestudeer en daarop kommentaar te lewer.

Wat ek tóé van die tegniese aspekte van rugby af geweet het – en selfs vandag nog – is gevaarlik. Ek sukkel nóú nog om begrippe soos “afbreekpunte” en “voordeellyn” te verstaan, maar ek besef darem al as jy met ’n bal in die hand gelak word, en jy klou daaraan vas, is ’n strafskop teen jou span wis en seker.

Dit kan besigtig word by www.gpwonline.co.za met verwysing: Goewermentskennis­gewing GN 869, Staatskoerant nr. 41854 van 24 Augustus 2018.

Totsiens, Ouboet!

In verlede Sondag se Rapport Weekliks het Louis de Villiers ’n nostalgiese essay oor sy persoonlike herinneringe aan die Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth gelewer.

Dié landmerk word tans gesloop om plek te maak vir die een of ander ontwikkeling. Wat dit gaan behels, is nog onseker.

Ek het self ’n paar “Boet Erasmus-momente” gehad gedurende die vier jaar dat ek die Afrikaanse Radiodiens – RSG se voorloper – se verteenwoordiger in die Oos-Kaap was.

Die bekende rugbykommentator Gerhard Viviers het my by meer as een geleentheid ingespan om tydens ’n rugbywedstryd waaroor hy kommentaar gelewer het, die “opsommings” gedurende rustyd en ná die wedstryd te doen.

Wat ek tóé van die tegniese aspekte van rugby af geweet het – en selfs vandag nog – is gevaarlik. Ek sukkel nóú nog om begrippe soos “afbreekpunte” en “voordeellyn” te verstaan, maar ek besef darem al as jy met ’n bal in die hand gelak word, en jy klou daaraan vas, is ’n strafskop teen jou span wis en seker.

Spiekeries – gentleman wat hy was – het my pogings altyd ruimhartig verduur.

“Lak” – wat ’n lekker Afrikaanse woord! Daar is nog talle sulke Afrikaanse juwele: “pypkan”, “steelkant”, “doelskop”, “pale toe!”

Wat my by ’n ander uitsaai­legende bring – die onvergeetlike Pierre Marais. Ek het ook by geleentheid daar vir hom “opsommings” gedoen.

Wat my altyd sal bybly, is die netjiese pakkie Afrikaanse rugbyterme wat voor hom gelê het.

As hy gedurende sy kommentaar ’n bepaalde term gebruik het, sou hy dit eenkant sit en dan ’n geskikte plek vir die volgende een in die pakkie soek. Die oogmerk was om onnodige, vervelende herhalings te voorkom.

Ek wens omroepers en televisieaanbieders wil hierdie voorbeeld volg – dan hoor ons straks minder dikwels dinge soos “Slegs op RSG/net op kykNET”; “Bly net waar jy is”; “Moenie weggaan nie”; “ . . . knap ná ses­uur tot skuins voor seweuur”; “Hartlik welkom by . . .”; en die liewe “ . . . met trots geborg deur . . .”

Straks het jy jou eie lysie
gunstelingirritasies.

Hoe lyk dit dus met ’n paar vars Afrikaanse lentebriesies oor onse etergolwe?

  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. Hy gee nie persoonlike regsadvies nie, maar beantwoord algemene vrae. Stuur e-pos vir hom na: guspienaar@gmail.com.

Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Versekering  |  Bewaring  |  Museums  |  Eiendomstories
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.