Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Die water is vir almal - of hoe?

Gustaf Pienaar kyk na mededeelsaamheid – veral wat ons waterbronne betref – en wat die Waterwet daaroor sê. Hy deel ook ’n staaltjie van ’n jong fotograaf wat gedurende ’n staptog onbaatsugtige mededeelsaamheid aan die Transkeise kus beleef het. 

  

Toe hy hom weer kom kry, het hulle een van die twee hutte ontruim en daarin vir hom slaapplek vir die nag voorberei. Op die koop toe het hulle een van die werfhoendertjies geslag – as aandete vir hom. Skets: Hanlie Malan

Iewers in 2010 loop ons hier op Vleesbaai se strand ’n bebaarde jong man, ’n aanvallige vrou aan sy sy en ’n energieke skaaphond raak.

Hulle is klaarblyklik op ’n staptog, want hulle dra swaar aan hul rugsakke. Eers dog ons dis Europese toeriste wat strandlangs van Mosselbaai af stap. “Do you speak English?” vra ek. “Afrikaans, oom,” antwoord die jong man en stel hom as Erlo Brown bekend. Die mooi vrou is sy verloofde, Lauren, en die skaaphond heet Zeta.

Erlo is deesdae ’n bekende en bekroonde professionele fotograaf van Hermanus. In 2010 het hy strandlangs van Kosibaai aan die grens met Mosambiek tot by Alexanderbaai aan die Namibiese grens gestap – ’n volle 3 200 km.

Hy het as deel van sy BTech-graadkursus in fotografie hierdie ambisieuse staptog aangedurf. Sy doel was om deur sy foto’s vir ons te wys hoe ryk geskakeerd Suid-Afrika se uitgebreide kus is.

Lauren (hulle is intussen getroud) het gedurende haar vakansies saam gestap, maar meestal was dit net Erlo en Zeta.

Sy doel was om deur sy foto’s vir ons te wys hoe ryk geskakeerd Suid-Afrika se uitgebreide kus is.
Gewoonlik het hy hom saans gemaklik probeer maak in ’n piepklein tentjie, maar soms het gasvrye Suid-Afrikaners hulle oor die stapgroepie ontferm.

Van die baie verhale wat Erlo vertel het, het veral een vlak in my geheue vasgesteek.

Iewers aan die Transkeise kus het hy en Zeta een laatmiddag by ’n klein gehuggie aangekom wat die woonplek was van ’n Xhosa-gesin – pa, ma en twee dogters.

Op die werf het ’n paar hoendertjies rondgeskrop; straks was daar ook enkele kleinvee. Hulle was klaarblyklik brandarm.

Soos wat sy gewoonte was, het Erlo toestemming gaan vra om daar naby hulle te oornag.

Toe hy hom weer kom kry, het hulle een van die twee hutte ontruim en daarin vir hom slaapplek vir die nag voorberei. Op die koop toe het hulle een van die werfhoendertjies geslag – as aandete vir hom.

Hierdie onbaatsugtige mededeelsaamheid het klaarblyklik ’n diep indruk op Erlo gemaak.

Ek het aan hierdie verhaal gedink toe ek ’n paar weke gelede dr. Handré Brand se interessante artikel “Hoe kan ons water suksesvol deel?” in Die Burger se tweeweeklikse Landbou-bylae gelees het.

Sy aanknopingspunt was die voortslepende droogte wat die afgelope paar jaar landbougemeenskappe oor die land heen uitgemergel het. Dit het opnuut ons land se grondwaterbronne onder die soeklig geplaas. Brand vertel ’n paar mooi verhale van mededeelsaamheid met water wat jou aan Erlo se verhaal uit die verre Transkei herinner. Iewers – Brand sê nie waar nie – is daar ’n dorpsboorgat wat ’n enorme 12 000 liter per uur lewer. Die eienaar van die betrokke erf deel hierdie genadegawe met sy bure.
Brand vertel ’n paar mooi verhale van mededeelsaamheid met water wat jou aan Erlo se verhaal uit die verre Transkei herinner.
En dan is daar die plaas met sy vier standhoudende boorgate wat goeie gehalte water lewer wat ook ruimskoots met die buurplaas gedeel word. Só sou ’n mens die voorbeelde kon vermenigvuldig. Natuurlik is daar ook verhale van mense wat aan “hul” water vasklou. Brand noem dit “sielkundige eienaarskap”, want in werklikheid het ons reg nog nooit eiendomsreg in water erken nie. Wat wel in die verlede erken is (en steeds word), is die reg om water te kan gebruik.

Die Waterwet van 1956 het drie soorte gebruiksregte erken: (1) die eksklusiewe benuttingsregte van ’n oewereienaar – iemand wie se grond aan ’n stroom gegrens het; (2) die regte gebaseer op sogenaamde “private water” wat op private eiendom was: vleie, fonteine, damme, boorgate, watertenks en dies meer; (3) gebruiksregte wat voortgespruit het uit serwitute verleen deur die eienaars vermeld in (1) en (2).

Die Nasionale Waterwet van 1998 het ’n volkome nuwe era ingelui.

Die idee van private water en die regte van oewereienaars is afgeskaf en vervang met die konsep van billike toegang tot water vir almal. Die staat word aangestel as “openbare trustee” (en nogal nie die “eienaar” nie) van Suid-Afrika se waterhulpbronne. Artikel 4 van die wet handel met die verskillende aansprake op watergebruik.

Vir die meeste van julle sal veral artikel 4(1) van belang wees. Dit bepaal dat ’n mens nie magtiging nodig het vir die gebruik van water vir redelike huishoudelike doeleindes, die maak van tuine, dieresuipings, die bestryding van brande en beperkte ontspanningsgebruike (soos ’n private swembad) nie. Vir alle ander gebruike – byvoorbeeld deur nywerhede en kommersiële boere – word ’n stelsel van lisensiëring deur die Nasionale Waterwet in die lewe geroep.

Kom ons bepaal ons egter by die gebruike van artikel 4(1), saamgelees met bylae 1 tot die wet, waarvoor magtiging nie nodig is nie.

Ter sprake is ’n private boorgat op ’n stedelike erf of op ’n (niekommersiële) plaas wat die eienaar met sy bure wil deel.

  • Daaroor vra Brand ’n paar belangrike vrae: Behoort formele kontrakte tussen die delers van grondwater oorweeg te word?
  • Wat van kwessies soos die instandhouding van pompe, lekkasies binne die boorgate en die hoeveelheid water per tydeenheid waarop deelnemers geregtig is?
  • Wat sou die posisie wees wanneer ’n eiendom met ’n boorgat verkoop word? Sou ’n boorgatserwituut die antwoord wees?
  • In watter “area” van die reg val die hele kwessie van die vrywillige verdeling van grondwater – die publiekreg of die privaatreg?

Ek het die (vir my taamlik ingewikkelde) Waterwet gefynkam en kon nêrens ’n bepaling vind wat iemand verbied om sy artikel 4(1)-gebruiksregte – daardie regte waarvoor ’n vergunning nie vereis word nie – met iemand anders te deel nie. As ’n mens die primêre oogmerk van die Waterwet in gedagte hou – billike toegang tot water vir almal – lyk dit nie vir my dat om so ’n gebruiksreg met iemand anders te wil deel ’n oortreding van die wet sal wees nie. Hoe kán so iets onwettig wees?

Vir alle ander gebruike – byvoorbeeld deur nywerhede en kommersiële boere – word ’n stelsel van lisensiëring deur die Nasionale Waterwet in die lewe geroep.
Terselfdertyd dink ek dat ten einde ’n mate van volhoubaarheid en sekerheid aan die deel van gebruiksregte te verleen, ’n formele ooreenkoms tussen die eienaar van die boorgat en die begunstigde(s) ’n goeie ding sal wees. Soos ek die posisie verstaan, sal die boorgateienaar nie geregtig wees om “sy” water te verkoop nie; hy mag slegs maar ’n redelike vergoeding eis vir die geriewe om die water tot die beskikking van sy bure te stel: die koste van en instandhouding van die boorgattoerusting; die bedryfskoste; kleppe, pypleidings en dies meer.

In beginsel behoort ’nboorgatserwituut dus ook moontlik te wees, maar daarvoor sal – soos ek die wet verstaan – die goedkeuring van die betrokke minister verkry moet word.

Laastens: As daar ’n geskil tussen die deelnemende bure ontstaan, sal dit “privaatregtelik” besleg moet word. Die publiekreg het te make met geskille tussen private indiwidue (of regspersone) aan die een kant en ’n owerheidsliggaam aan die ander kant (natuurlik ook tussen owerheidsliggame onderling).

  • Bron: ’n Video oor Erlo Brown se merkwaardige staptog kan besigtig word by www.erlobrownphotography.co.za.
  • Gustaf Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. Hy gee nie persoonlike regsadvies nie, maar beantwoord algemene vrae. Stuur gerus e-pos na: guspienaar@ gmail.com.
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Droogte  |  Waterwet  |  Eiendomstories  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.