Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Einde van Covid-19-Ters kos mense hul werk

Die regering dra regstreeks tot werkverliese by deur die beëindiging van die Covid-19-Ters, blyk uit ’n handelsverklaring deur Tsogo Sun Hotels.

Montecasino, waar Tsogo Sun Hotels se Palazzo-hotel geleë is.

Die hotelgroep, wat onder meer die Southern Sun- en Garden Court-hotelle bedryf, sê hoewel hotelle weer besoekers mag ontvang, is daar so min mense wat inboek dat hy eenvoudig nog nie al sy personeel kan laat terugkeer werk toe nie.

Altesame 20 van Tsogo se 92 hotelle in Suid-Afrika het ook nog nie hul deure heropen nie – byna agt maande nadat hulle weens die Covid-19-pandemie moes sluit.

Herstrukturering word nou opnuut oorweeg spesifiek omdat die Covid-19-Ters beëindig is, sê die maatskappy.

Covid-19-Ters was die Werkloosheidsversekeringsfonds se uitbetaling aan mense wat tydelik afgelê is omdat hulle nie tydens die inperking kon werk nie. Daar is onlangs aangekondig dit gaan slegs uitbetaal word vir die tydperk tot 15 September, selfs al is voorheen belowe dit sou geld so lank as Suid-Afrika in ’n ramptoestand is.

Die groep sê hy het begrip daarvoor dat dit ’n uiters stresvolle tyd vir werknemers is. “Ons is daartoe verbind om oop en eerlik met hulle in gesprek te tree.”

Alle personeellede het reeds salarisverminderings aanvaar, insluitend die topbestuur en direksie. Salarisverhogings vir 2021 en bonusuitbetalings vir 2020 is uitgestel.

Die groep het sedert einde Maart die minimum personeel by sy hotelle gehad. Alle werwing en opleiding is opgeskort.

Die groep sê die Covid-19-Ters was van onskatbare waarde om sy kontant te bewaar terwyl die inkomste byna opgedroog het. R103 miljoen se uitbetalings is deur die hulpskema aan personeel gedoen.

“Met dié bystand wat tot ’n einde kom en met geen verwagting dat besettingsvlakke op kort termyn gaan verbeter nie, sal die groep verdere bedryfsherstrukturering moet oorweeg om die personeelgetalle met handelsvlakke in pas te bring.”

Die groep gee geen aanduiding hoeveel mense se werk in gedrang is nie.

Tsogo sê hy word erg geknou deurdat toeriste van Duitsland, Brittanje, Frankryk en die VSA – die lande waarvandaan die meeste van sy oorsese gaste gewoonlik kom – nie die land mag inkom nie. Dié lande is weens hoë infeksiekoerse op die sogenaamde rooi lys, wie se inwoners nie hier mag kom vakansie hou nie.

Die kansellasie van die Africa Oil Week en Mining Indaba, wat albei in Februarie 2021 gehou sou word, gaan veral die groep se Kaapse hotelle knou. Dit sluit in die Southern Sun Cullinan.

“Sonder internasionale reisigers sal die Kaapse streek na verwagting ’n trae herstel beleef.”

Ook plaaslike besoekers bly beperk. “Baie maatskappye het reisperke ingestel en gaan kantore tot Januarie 2021 toe hou ten einde sosiale interaksie te beperk. Saam met die regering wat beperk reis en konferensies hou, sal die groep oor die volgende paar maande grootliks op plaaslike ontspannings- en sportreisigers moet staatmaak.

“Die vraag van dié segmente sal na verwagting bydra tot die groep se kus en afgeleë eiendomme, maar baie van die groep se groter Gautengse hotelle, wat korporatiewe en regeringsgroepgeleenthede en konferensies aanbied, gaan na verwagting tot die eerste kwartaal van 2021 gesluit bly.”

Tsogo Sun Hotels reik sy resultate vir die ses maande van April tot einde September op 13 November uit. Vir meer as vier maande van dié halfjaar was vakansies verbode en was slegs enkele hotelle oop, vir noodsaaklike werkers en vir oorsese toeriste wat op repatriasievlugte gewag het. Enkele hotelle is ook as kwarantyngeriewe gebruik.

Vir dié halfjaar gaan die groep se inkomste met tot R1,8 miljard minder wees as in dieselfde ses maande van 2019, ’n daling van tot 87%.

Die maatskappy gaan ook volgens alle maatstawwe ’n verlies ly. Die verlies voor rente, belasting, waardeverminderings, afskrywings en huur (ebitdar) gaan tot R224 miljoen beloop, teenoor verlede jaar se R559 miljoen wins. Die wesensverlies per aandeel kan tot 43c beloop, teenoor verlede jaar se wesensverdienste van 10c.

Meer oor:  Tsogo Sun  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Hotelle  |  Toerismebedryf  |  Wvf  |  Covid-19-Ters  |  Covid19ters  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.