Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Elektroniese akte-registrasies

Wetgewing vir die elektroniese akte-registrasiestelsel kan in die nabye toekoms die registrasie van aktes in Suid-Afrika wesenlik verander.

Hierdie wet het ten doel om die administratiewe prosesse rondom die registrasie van titelaktes te verbeter deur die ontwikkeling, vestiging en instandhouding van ’n elektroniese akte-registrasiestelsel.

Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies maak voorsiening vir ’n sogenaamde gevorderde elektroniese handtekening.Foto: iSTOCK

Die doel van die voorgestelde rekenaarstelsel of akte-registrasiestelsel sal wees om die doeltreffendheid en akkuraatheid van inligting ten opsigte van die bestuur van grond in Suid-Afrika te verbeter.

In terme van hierdie wetgewing sal die hoofregistrateur van aktes die elektroniese akte-registrasiestelsel moet ontwikkel en onderhou, in oorleg met die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies deur gebruik te maak van inligtings- en kommunikasietegnologie vir die voorbereiding, indiening, registrasie, uitvoering en berging van aktes en dokumente.

Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (Wet 25 van 2002) het op 30 Augustus 2002 in werking getree. Hierdie wet reguleer die elektroniese sluiting van kontrakte in Suid-Afrika.

Tans word akte-registrasies in Suid-Afrika gereguleer deur die Wet op die Registrasie van Aktes (Wet 47 van 1937, soos gewysig) en die Wet op Deeltitels (Wet 95 van 1986, soos gewysig). Hierdie wette sal van krag bly tot en met die elektroniese akte-registrasiestelsel ten volle in werking is.

Die elektroniese akte-registrasiestelsel sal voorsiening maak vir onder meer die volgende:

  • Die effektiewe registrasie van hoë volumes aktes.
  • Verbetering in die omkeertye vir die registrasie van aktes en lewering van dokumente aan kliënte.
  • Om landwye toegang te gee aan akte-registrasiedienste.
  • Verbeterde akkuraatheid by die ondersoek en registrasie van titelaktes.
  • Beskikbaarheid van inligting aan die publiek.
  • Om sekerheidskenmerkende data daar te stel wat insluit vertroulikheid, nie-repudiëring, integriteit en beskikbaarheid.

Die elektroniese akte-registrasiestelsel hoop om ’n vinniger en meer effektiewe proses daar te stel vir die registrasie van eienaarskap van grond in Suid-Afrika. Dit het ten doel om die registrasie van hoë volumes van aktes moontlik te maak met ’n akkurate proses by die ondersoek en registrasie van titelaktes.

Die vraag is egter of die elektroniese akte-registrasiestelsel die huidige tydrowende eiendomsregistrasieproses gaan versnel.

In ’n onlangse verwikkeling is daar vir die eerste keer in Suid-Afrika ’n elektroniese getekende eiendomstransaksie in ’n aktekantoor geregistreer.

Dit duur tans tussen 60 tot 90 dae vanaf die verkoopdatum om ’n eiendom in die naam van die koper te registreer in die aktekantoor. Die rede hiervoor is die ingewikkelde proses en die verskeie rolspelers wat betrokke is.

Hierdie rolspelers sluit in privaat asook openbare instansies. En sluit onder meer in aktevervaardigers, finansiële instellings, plaaslike owerhede, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die aktekantoor, en nog meer.

Aan die positiewe kant sal ’n elektroniese aktekantoorstelsel vir plattelandse aktebesorgers toegang gee tot die akte-registrasiestelsels. Hierdie elektroniese registrasiestelsel kan moontlik daartoe lei dat daar in die toekoms slegs een aktekantoor is Suid-Afrika sal wees.

In ’n onlangse verwikkeling is daar vir die eerste keer in Suid-Afrika ’n elektroniese getekende eiendomstransaksie in ’n aktekantoor geregistreer. Die Bloemfonteinse aktekantoor het in Julie ’n eiendom oorgedra waar die Volmag om Transport te gee elektronies deur die verkoper en die aktevervaardiger onderteken is.

In hierdie geval het die elektroniese ondertekening plaasgevind ooreenkomstig die bepalings van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies. Hierdie wet maak voorsiening vir ’n sogenaamde gevorderde elektroniese handtekening, wat ’n baie betroubare vorm van ’n handtekening is. Die dokumente moes egter steeds per hand by die aktekantoor ingedien word.

Met die toepassing van die nuwe wetgewing sal Suid-Afrika hopelik in die toekoms kan spog met ’n volledige elektroniese databank van eiendomsbesit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.