Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Emigrasie kom teen prys

Brittanje bly die mees gesogte emigrasiebestemming vir Suid-Afrikaners wat eie bodem vir die sogenaamde groener weivelde in die buiteland verruil.

In 2017 het rofweg 900 000 Suid-Afrikaners in ander lande gewoon, waarvan ’n totaal van 210 000 in Brittanje nesgeskop het, blyk uit nuwe navorsing van die Amerikaanse navorsingsgroep Pew Research.

Altesame 190 000 het in Australië gewoon, 100 000 in die VSA en 60 000 in Nieu-Seeland.

Londen bly ’n gesogte emigrasiebestemming vir Suid-Afrikaners ten spyte van die hoë eiendomspryse. Foto: iStock

Voor voornemende emigrante egter die land van biltong en braaivleis verlaat, moet hulle besef dat emigrasie teen ’n prys kom en dat hulle behoorlik gaan opdok vir intreevlak-eiendomme in die buiteland.

“Voornemende huiskopers moet die slaggat vermy om pryse in rand om te skakel, omdat hulle in die nuwe land se geldeenheid gaan verdien,” sê Adrian Goslett streeksdirekteur en uitvoerende hoof van Re/Max Suider-Afrika.

Die voorste bestemming vir Suid-Afrikaners in Brittanje is Londen, waar eiendom meer as ’n plaas se prys kos. In Sentraal-Londen verkoop ’n eenpersoonwoonstel vir sowat £300 000, sê Roger Collings van Re/Max Central.

“Gebiede aan die buitewyke van die stad soos Watford bied beter waarde vir geld, maar is 20 minute per trein weg van die sentrale deel van die stad.”

Sydney en Brisbane in Australië is gesog onder Suid-Afrikaners, maar blyplek in veral Sydney kós. In dié toeristestad is die mediaanprys van ’n huis – die middelste prys, waar die helfte goedkoper is en die helfte duurder – sowat A$1,1 miljoen. In Brisbane is dit ’n meer bekostigbare $665 000.

Josh Davoren, direkteur van Re/Max Australië, sê die land het die afgelope drie jaar rekordlae rentekoerse gehad, wat huispryse in veral Sydney en Melbourne opgestoot het. Met van die land se groot banke wat deesdae strenger uitleenpraktyke aanhang, begin van die markte ’n prysplato bereik, sê hy.

Ook verkoop sommige huiseienaars hul huise om na goedkoper liggings te migreer. Hy verwag egter dat pryse in Sydney en Melbourne in die afsienbare toekoms hoog sal bly.

In die tweede kwartaal van vanjaar het emigrasieverkope tot 7,8% van die totale huisverkope gestyg, blyk uit First National Bank (FNB) se eiendomsagente-opname.

In die VSA is Florida en Kalifornië die twee state met soortgelyke klimate as Suid-Afrika, wat dit twee aantreklike bestemmings vir emigrasie maak.

Volgens die webwerf van die California Association of Realtors is die gemiddelde prys van ’n intreevlakhuis in Los Angeles tans $530 000 en $1 620 000 in San Francisco.

In Florida is pryse meer bekostigbaar. In Miami kos ’n intreevlakhuis sowat $283 000 en in Orlando $240 000. John Rainey, streeksadjunkpresident van Re/Max Florida, sê daar is tans ’n klein aanbod, wat dit ’n verkopersmark maak.

In Auckland, die duurste huismark in Nieu-Seeland, is die gemiddelde huisprys NZ$845 000. In Wellington is dit ’n meer bekostigbare NZ$531 000, volgens die Global Property Guide.

Goslett waarsku Suid-Afrikaners om nie oorhaastig huis te koop nie. “My raad is om eers vir ’n paar maande te huur voordat daar besluit word waar om ’n permanente woning te koop.”

Die persentasie Suid-Afrikaners wat hul huise verkoop met die doel om te emigreer neem steeds toe.

In die tweede kwartaal van vanjaar het emigrasieverkope tot 7,8% van die totale huisverkope gestyg, blyk uit First National Bank (FNB) se eiendomsagente-opname. In die eerste kwartaal was dit 7,4%. Dit is egter heelwat minder as die hoogtepunt van 20% in die derde kwartaal van 2008. Daar moet in ag geneem word dat die hoë persentasie in ’n tyd gemeet is toe volumes klein was, sê John Loos, verbruiker- en eiendomstrateeg van FNB. Hy skryf die voortdurende styging toe aan onsekerheid oor toekomstige beleid en die swak ekonomiese vertoning sonder dryfkrag wat dit betekenisvol gaan verander.

Meer oor:  Adrian Goslett  |  Huisverkoop  |  Emigrasie  |  Huiskopers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.