Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
FNB: Só gaan Covid-19 huismark knou

Covid-19 het reeds ’n impak op die huismark deurdat transaksievolumes daal, sê FNB in sy jongste eiendomsbarometer.

Daar was reeds voor die pandemie druk op die ekonomie en die huismark en Siphamandla Mkhwanazi, senior ekonoom van FNB, sê hulle verwag nou ’n kortstondige, maar skerp ekonomiese inkrimping van 4,5%.

Die Covid-19-pandemie gaan ’n negatiewe invloed op die Suid-Afrikaanse huismark hê. Foto: Pixabay

Huisprysgroei sal waarskynlik verlangsaam in die lae en middelsegmente van die mark, terwyl huispryse in die hoër segmente sal daal, skryf Mkhwanazi in die barometer.

Gegrond op die aard van die markskok wat die staat van inperking veroorsaak en die ervaring in China, verwag FNB egter dat die impak op die huismark van relatief korte duur sal wees. Die impak kan wel langer duur as likiditeit opdroog en leningskriteria strenger word as wat tans verwag word.

Die pandemie het skielike veranderings in die optrede van huiskopers en -verkopers meegebring, skryf Mkhwanazi.

Daar is anekdotiese bewyse dat vrese oor die impak van die virus daartoe gelei het dat verkopers hul huise van die mark haal en te midde van die staat van inperking doen minder kopers ook navraag oor huise.

Voorlopige data van die akteskantoor wys dat daar in die eerste kwartaal 40% minder oordragte op ’n jaargrondslag was.

“Om dit in konteks te plaas – transaksievolumes in China het te midde van hul inperkings daar met meer as 90% op ’n jaargrondslag gedaal, maar het herstel nadat die inperkings opgehef is,” skryf Mkhwanazi.

Tydens die resessie van 2009 is 50% minder huise in die tweede kwartaal verkoop as in die ooreenstemmende kwartaal in 2008. Dit het eers weer teen die derde kwartaal van 2010 begin herstel toe 46% meer huise op ’n jaargrondslag verkoop is.

Die statistieke wys egter dat druk op huismarkte weens die wydverspreide uitbreking van siektes gewoonlik van korte duur is.

Gedurende die voëlgriep-uitbreking in Hongkong in 2003 het die getal huiskooptransaksies met tussen 33% en 72% geval. Die huismark het egter kort nadat die uitbreking onder beheer gebring is, vinnig herstel. Huispryse is ook nie wesenlik deur die uitbreking benadeel nie.

FNB sê hy verwag dus in Suid-Afrika gaan daar gedurende die Covid-19-pandemie minder huise verkoop word, maar dat pryse nie regtig drasties gaan daal nie. Die bank verwag wel dat pryse stadiger gaan styg.

Meer oor:  Fnb  |  Huismark  |  Huispryse  |  Eiendom  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.