Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Geen nuwe huise vir armes, sê regering nou
HOP-huise in Soweto. Die regering sê hy kan nie meer nuwe HOP-huise bou te midde van die resessie en Covid-19-pandemie se rampspoedige effek op die staatskas nie. Foto: Getty Images

Provinsiale departemente van menslike nedersettings se hande is afgekap om nuwe huise ingevolge die heropbou-en-ontwikkelingsprojek (HOP) te verskaf.

Dit kom nadat die nasionale departement hul sakeplanne vir aanstaande jaar afgekeur het.

In ’n brief wat Netwerk24 onder oë gehad het vanaf Mbulelo Tshangana, direkteur-generaal van die nasionale departement, aan die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings sê Tshangana die huidige ekonomiese klimaat se rampspoedige effek op begrotings het die verskaffing van behuising aan armes “fiskaal onvolhoubaar” gemaak. Dis weens die gekombineerde uitwerking van die resessie en Covid-19-pandemie.

Die Wes-Kaapse departement, en soos Netwerk24 verstaan ook alle ander provinsies, se sakeplanne vir 2021 is dus afgekeur.

Die nasionale departement sê summier: “Geen nuwe kontrakte vir projekte vir behuisingseenhede mag aangegaan word nie.”

Nuwe eenhede mag nou net onder streng voorwaardes gebou word en die nasionale departement moet dit nou self goedkeur in ’n sentralisering van besluitneming waaraan die provinsiale departemente nie gewoond is nie.

Die brief sê die projek vir die opknapping van informele nedersettings en die verskaffing van dienste aan bestaande huise moet nou prioriteit geniet.

’n Boukontrakteur wat daarin spesialiseer om laekostebehuising vir die staat te bou, en wat naamloos wil bly, sê dis nie net ’n terugslag vir die armes nie, maar ’n hengse hou vir die boubedryf.

“Dit is ’n direkte teenstelling van wat ons president gesê het,” sê die kontrakteur met verwysing na pres. Cyril Ramaphosa se belofte dat infrastruktuur oor die komende maande en jare sentraal gaan staan tot sy heropbou-en-herstelplan vir die ekonomie.

Ramaphosa het in sy toespraak oor die plan verwys na “maatskaplike infrastruktuur” soos skole, hospitale en huise.

Bestaande projekte

Bestaande projekte word ook gestaak.

Slegs nuwe huise spesifiek vir bejaardes, militêre veterane, mense met gestremdhede of huishoudings wat deur kinders gelei word, word gebou.

Die nasionale departement van menslike nedersettings het by navraag bevestig dat daar op ’n vergadering tussen Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, en LUR’e besluit is om begrotings te sny en besluitneming te sentraliseer in ’n poging om projekte te herprioritiseer in die lig van die beleërde staatskas.

“Dit is algemeen bekend dat regeringsbegrotings beperk is, en dit beïnvloed die geld wat beskikbaar is vir alle provinsies.”

Die Wes-Kaapse departement sê: “Om dit eenvoudig te stel, moet ons nou die beste doen wat ons kan met die hulpbronne wat ons het.”

Jacqueline Samson, hoof van die departement, sê hul mandaat is in gedrang weens die enorme begrotingsbesnoeiings.

“Die uitdaging wat ons moet hanteer, is om te fokus en te prioritiseer te midde van die begrotingsbesnoeiings.”

Die totale behuisingsagterstand in die Wes-Kaap is tans meer as 550 000, waarvan meer as 300 000 in Kaapstad self is.

Nasionaal is daar ’n agterstand van tussen vyf en sewe miljoen huise, berig Bloomberg.

Die waarskynlikheid om in die volgende tien jaar ’n huis te kry, was vir die meeste al reeds voor die begrotingsbesnoeiings baie skraal, berig die nuusdiens GroundUp.

Meer oor:  Ekonomie  |  Behuising  |  Maatskaplike Toelaes  |  Begroting  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.