Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
George se strydende raadslede gaan hof toe
Hoe onbenullig was dié politici se gekibbel oor parkeerplek? Die hof sal beslis. Illustrasie: Hanlie Malan

Vroeër vanjaar, in Die ABC van parkeer, het ek die storie vertel van twee DA-raadslede van die George-stadsraad wat oor ’n parkeerplek handgemeen geraak het. Dié onderonsie het gelei tot ’n hofsaak wat vanselfsprekend voorbladnuus geword het.

Die kern van die rubriek was egter die verskynsel dat sakelui dikwels in stedelike gebiede parkeerplekke by hul ondernemings vir die eksklusiewe gebruik van hul kliënte reserveer. Ek het toe aangetoon dat só ’n praktyk normaalweg ontoelaatbaar is omdat die eienaars van geboue verplig is om parkeerplekke vir die algemene publiek – en nie slegs vir kliënte nie – te voorsien.

Daar is wel uitsonderings: ’n Munisipaliteit mag, byvoorbeeld, parkeerplek vir sy raadslede reserveer; ’n hospitaal mag parkeerplekke vir dokters en noodvoertuie opsysit; ’n skool mag plekke aandui waar slegs skoolbusse en ouers wat kinders op- of aflaai, mag stilhou en/of parkeer.

Die meeste grondgebruikskemas bevat ’n formule om te bepaal hoeveel parkeerplekke deur ondernemings voorsien moet word.

Die oppervlak van ’n gebou speel ’n sleutelrol, maar so ook die aard van die besigheid wat daar bedryf word en die aantal werknemers wat daar in diens is.

Aanrandingsklag

Maar terug na die twee strydende George-raadslede. Een van hulle het ’n aanrandingsklag teen die ander ingedien, en die beskuldigde sal glo eerskomende Maandag weet of die staat met ’n vervolging sal voortgaan.

Volgens berigte het sy regsverteenwoordiger vertoë tot die staat gerig om die vervolging op grond van die leerstuk de minimis non curat lex te staak. In gewone Afrikaans beteken dit dat die reg hom nie aan beuselagtighede steur nie.

Die onderonsie tussen die twee lede van dieselfde politieke party was net dit – ’n onderonsie – word aangevoer. Om die agbare lid dáárvoor te vervolg is beuselagtig, sê sy prokureur.

Die de minimis-reël kom nie dikwels in strafhowe ter sprake nie, maar tog is daar ’n paar interessante voorbeelde, waarvan ek spesifiek een kan onthou.

’n Jong kêrel het toegekyk hoe ’n kuiergas in sy woonstel vir hom ’n daggazol rol.

Die gas het drie daggapitjies laat rondlê, en dit het die nuuskierigheid van die woonstelbewoner geprikkel. Hy het die pitjies in ’n rooi blompot geplant en dit maar net een keer natgegooi. Hy is daarna met vakansie.

Lang storie kort: Die polisie het van sy natuurstudieprojek te hore gekom en hy is van handel in dagga aangekla. Volgens die destydse geldende wet was iemand wat hom met die “verbouing” van dagga besig hou, aan die vry ernstige misdryf van handel in dagga skuldig. Daarvoor het die wet ’n minimum vonnis van vyf jaar voorgeskryf.

Die jong kêrel is skuldig bevind en deur ’n landdros vir vyf jaar tjoekie toe gestuur. Gelukkig het ’n regter op appèl ingegryp. Hy het daarop gelet dat die landdros die kêrel se getuienis dat hy die drie pitjies maar net één maal natgegooi het, aanvaar het.

Die regter het die de minimis-reël toegepas. Hy het beslis dat die vervolging beuselagtig is en die beskuldigde gewaarsku en ontslaan.

Dit beteken nie dat hy onskuldig bevind is nie; slegs maar dat sy oortreding só gering is dat sy vervolging waarlik beuselagtig is. Ons howe het immers belangriker sake om hulle mee besig te hou.

Nou wonder ek wat die volgende episode in George se DA-parkeersage gaan wees . . .

Bron: S v Van Zyl 1975 (2) SA 489 (NPA).

Om ’n verband te kanselleer: die Wet van Transvaal

Pierre Joubert skryf hulle het hul seun gehelp om ’n meenthuis te koop nadat hy begin werk het. ’n Bekende handelsbank het aan hom ’n verband toegestaan.

Hy het daarna ’n betrekking in Nederland bekom en het nou genoeg euro’s gespaar om sy lening af te los.

Hy was ontsteld om te verneem dat daar aansienlike kostes betrokke is by die “toemaak/aflos”, soos Pierre dit stel, van sy verband.

Pierre het toe self die betrokke tak van die bank besoek om uit te vind wat dié koste als behels. Tot sy verbasing sou hy hoor dis die regskoste van die prokureurs wat die eiendom nou van die bank na hul seun moet oordra.

Pierre wou toe weet of hy reg verstaan: As iemand – soos sy seun – ’n eiendom koop, is daar mos oordragkoste om die eiendom in sy naam te registreer, nie waar nie? Daarmee het die bankamptenaar saamgestem.

“En as hy die plek klaar betaal het,” wou Pierre weet, “betaal hy die oordragkoste van die bank af na sy naam?”

Wéér het die bankamptenaar met hom saamgestem.

“Wel,” sê Pierre, “vir my klink dit na uitbuiting. Ek is so bly dat ek nie my brood hoef te verdien deur ander in te loop nie.”

Pierre, ek is seker die bankamptenaar had die kat aan die stert beet, maar om die saak beter te verduidelik het ek jou brief na Leanne Howell, ’n aktesprokureur van Raubenheimers Ingelyf in George gestuur vir ’n antwoord.

Leanne skryf: Jy is heeltemal reg: Dit is skrikwekkend dat ’n bank iemand so verkeerd inlig.

Wanneer ’n verband gekanselleer word, is daar twee kostes ter sprake:

1. Die eerste een is die kansellasieprokureur se koste, wat deur die Wetsgenootskap voorgeskryf word en wat betaalbaar is ongeag of die verband reeds afbetaal is of nie. Die voorgeskrewe tarief beloop tans R2 250 plus R320 vir die kansellasie van elke verdere verband teen dieselfde titelakte. Die kansellasieprokureur sien toe tot die hele proses: Kry die oorspronklike aktes van die bank af, stel die nodige toestemmings op wat deur die bank geteken moet word, en dien die dokumente by die aktekantoor in.

2. Die tweede koste is die kansellasiesyfers, met ander woorde die bedrag wat regstreeks aan die bank betaalbaar is. Dit gebeur normaalweg wanneer iemand sy eiendom verkoop, maar nog geld daarop skuld. Die kansellasiesyfers bestaan uit die volgende:

  • Die bedrag wat nog uitstaande is op die lening;
  • Een maand se paaiement;
  • Die dienstarief op die rekening, en dan ook
  • “Boeterente”.

Indien die verband reeds afbetaal is, sal daar natuurlik nie ’n uitstaande bedrag wees wat by die kansellasiesyfers ingesluit word nie. Ook nie boeterente nie.

Die boeterente – dit wil sê wanneer geld nog geskuld word – word drie maande vooruit bereken. Byvoorbeeld, indien die verbandkansellasie ná twee maande vandat dit aangevra is van die kansellasiesyfers geregistreer word, sal die bank aan die verkoper ’n krediet betaal, en wel vir daardie twee maande (wat reeds verby is) se boeterente.

Daar is geen “oordrag” van die bank af aan ’n kliënt in die posisie van Pierre se seun nie. Dit is egter vir kliënte wie se lenings ten volle afbetaal is frustrerend om te hoor dat hulle nogtans vir die kansellasie daarvan moet betaal.

Dankie, Leanne. Pierre – ek hoop dit beantwoord jou navraag. Die laaste sin in Leanne se antwoord is klaarblyklik op jou seun van toepassing.

  • Gustaf Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. Hy gee nie persoonlike regsadvies nie, maar beantwoord wel vrae van ’n algemene aard. Stuur e-pos vir hom na: guspienaar@gmail.com.
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Huis Verkoop  |  Huisverband  |  Parkeerplek  |  Eiendomsreg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.