Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
GEPF dok byna R2 mjd. op vir blink Deloitte-gebou

Staatsamptenare se pensioenfonds gaan byna R2 mjd. opdok in 'n eiendomstransaksie om die spoggerige Deloitte-kantoor in Midrand te bekom.

Dis nie aldag dat ’n eiendomstransaksie met die GEPF in soveel detail openbaar gemaak word nie.

’n Foto wat Atterbury Property verlede jaar Februarie op Twitter gedeel het toe die daknatmaak van die nuwe hoofkantoor van Deloitte gehou is.

Die genoteerde eiendomsgroep Attacq het beleggers in detail ingelig oor die transaksie en die prys.

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het in ’n verklaring bloot die transaksie aangekondig, maar niks oor die prys gesê nie.

Die aankondiging oor die ontwikkeling van die blink kantore vir Deloitte Suid-Afrika in die gesogte Waterfall-gebied in Midrand was in 2017 groot nuus.

Die gebou is ontwikkel as deel van ’n gesamentlike onderneming tussen filiale van die eiendomsmaatskappye Attacq en Atterbury en is in Januarie verlede jaar voltooi. 

Die gebou van 42 500 m² is teen nagenoeg R1,3 miljard ontwikkel, toon die aankondiging.

Deloitte het ’n huurkontrak vir 12 jaar vir die gebou gesluit.

Wat is die prys?

Die totale aankoopbedrag wat die GEPF betaal, is R1,7 miljard.

Wat verkry is, is die huurpagreg op die erf van 2,3 hektaar en die vaste eiendom op die grond.

Filiale van Attacq en Atterbury het in Januarie 2018 die huurpagreg ingevolge ’n notariële huurkontrak met die grondeienaar van die erf gesluit. Die huurpag geld vir 99 jaar.

’n Verhuringsonderneming is ook tussen hulle geskep vir die eiendom wat ontwikkel sou word.

LEES OOK: Blink hoofkantoor kos Discovery R23 m. per maand

Die GEPF word met die transaksie die alleenhouer van die huurpagregte en verhuringsonderneming.

Die GEPF verkry die verhuringsonderneming as ’n lopende saak, wat insluit:

• die vaste en roerende bates (behalwe die grond);

• die klandisiewaarde met betrekking tot die huurkontrak;

• die regte, titel en belang in en op die huurkontrak; en

• die regte, titel en belange in en op alle dienste, onderhoud en verskaffingskontrakte tussen die verkopers en enige derde partye wat vir die doeleindes van die verhuring aangegaan is.

Die huurpagreg wat bekom is, sluit in die reg om die eiendom te gebruik, te verhuur en te bewoon, asook verbeterings daarop.

Voordeel vir aftreefonds

Abel Sithole, uitvoerende hoof van die OBK, sê in ’n verklaring die verkryging gaan voordelig wees vir die GEPF omdat dit meer as tien jaar kontantvloei uit huur gaan gee.

Hy sê dit sal inkomste en kapitaalgroei tot die GEPF se beleggingsportefeulje bydra.

“Dit sal die OBK se blootstelling verhoog aan premiegraadbates in belangrike strategiese omgewings.

“Waterfall City is ’n groeiende kommersiële omgewing wat ontwikkel is as ’n plek om te woon, werk en speel.”

Toegang tot die eiendom is van die N1-hoofweg en Allandale-wisselaar af moontlik en dis naby aan openbare vervoer en ander geriewe.

Volgens hom lok die Waterfall-distrik steeds groot internasionale en plaaslike maatskappye.

’n Ander voordeel is dat die eiendom gereken word as ’n belegging wat punte kry vir omgewingsvriendelikheid.

Die eiendom is omgewingsvriendelik ontwerp en met tegnologie wat energie- en waterkoste beperk.

Skuld verminder

Attacq en Atterbury kry elk 50% van die aankoopbedrag, naamlik R850 miljoen.

Die verkoop vorm deel van Attacq se voorheen aangekondigde strategie om sy skuld te verminder.

Die opbrengs word aangewend om skuld te vereffen waarvan R580 miljoen spesifiek betrekking het op die eiendom.

Sy deel van die beraamde ontwikkelingskoste by voltooiing word as R675,7 miljoen aangedui in die aankondiging, wat die totale ontwikkelingskoste dus op R1,35 miljard te staan bring.

RMB Beherend Beperk het ook in ’n verklaring aan beleggers gesê hy trek voordeel uit die transaksie deur sy 27,5%- indirekte belang in Atterbury.

Armond Boshoff, uitvoerende hoof van Atterbury Suid-Afrika, sê: “Wat hierdie transaksie uniek maak, is dat daar min kopers in die mark is met die middele om in ’n enkele transaksie so ’n hoë gehalte en wesenlike bate te bekom.”

Boshoff meen die gebou is een van die beste wat in Suid-Afrika ontwikkel is. “As die transaksie al die nodige goedkeurings kry, sal dit ’n groot aanwins vir GEPF wees.” 

Hy sê Atterbury het ’n uitstekende, lang verhouding met Attacq en Deloitte. “Hoewel ons ooreengekom het om hierdie bate te verkoop, sien ons daarna uit om hierdie vennootskappe voort te sit.”

Meer oor:  Deloitte  |  Staatspensioenfonds  |  Openbare Beleggingskorporasie  |  Attacq  |  Gepf  |  Obk  |  Atterbury  |  Eiendom  |  Pensioenfonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.