Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Gids help jou aktiewe burger wees

Gustaf Pienaar skryf onder meer oor ’n spesiale opleidingsgids vir buurtwagte in die Wes-Kaap wat in 2018 gepubliseer is, en die belangrike inligting wat dit bevat.

eiendomme
Skets: Hanlie Malan

Een ding waaroor ek persoonlik diep dankbaar is, is dat ons gesin nooit in buurte gewoon het waar dit gevaarlik was nie.

Die verskynsel van buurtwagte is dus vir my betreklik onbekend. Ja, ons het wel met die landwye onrus in die middel 1980’s beurte gemaak om ’n ogie oor ons kinders se laerskool te hou.

Ek herinner my dat vrywillige ouers vir ’n week of twee roosters opgestel en nagekom het vir die patrollering van die skoolterrein snags. Gelukkig was daar geen insidente wat ons vaardigheid – en dapperheid! – op die proef gestel het nie.

My swaer, wat indertyd in ’n ietwat “gevaarliker” dorp gewoon het, vertel dat hy ook op dié manier snags patrolliediens by sy kinders se skool gedoen het. Hy en sy medewag het ge­durende hul beurt die skoolterrein met ’n enkele trapfiets ge­patrolleer.

My swaer is nie groot van postuur nie, en het voor op die trapfiets in ’n soort mandjie gesit met ’n brandende flitslig in die een hand en ’n kleinkaliber­pistool in die ander.

Ook in hul geval het daar gelukkig niks gebeur waaroor ek vandag verslag hoef te doen nie. 

Tye het egter verander. In ’n kennisgewing in ’n onlangse uitgawe van die Wes-Kaapse Provinsiale koerant het ek tot my verbasing gemerk hoeveel ge­akkrediteerde buurtwagte daar reeds in die Wes-Kaap is: om en by 350, as ek reg onthou.

Die buurtwagstelsel word ge­reguleer deur die Wes-Kaapse Wet op Gemeenskapsveiligheid, Wet 3 van 2013. Dit is op 5 April 2013 gepubliseer in die Buiten­gewone provinsiale koerant 105/2013.

Van groter belang is die opleidingsgids vir buurtwagte wat in 2018 gepubliseer is en gelees kan word by bit.ly/Buurtwag.

Sover ek kon vasstel, is die gids tans net in Engels beskikbaar, maar dit bly die moeite werd om daarvan kennis te neem vir almal wat daarin belang stel om ’n buurtwag waar ook al te begin. 

Ook in hul geval het daar gelukkig niks gebeur waaroor ek vandag verslag hoef te doen nie.

Die gids begin by ’n ambisieuse uiteensetting van wat die Wes-Kaapse provinsiale regering met buurtwagte beoog: om elke gemeenskap in die provinsie ’n veilige plek te maak om in te kan leef, werk en onderrig ontvang.

Buurtwagte, sê die gids, is instrumente vir die mobilisering van ’n gemeenskap se versamelde kennis en vaardighede, ten einde die veiligheid van sodanige gemeenskap op te skerp.

Tweedens poog die gids om vrywilligers te laat besef wat dit behels om ’n “aktiewe burger” te wees: wat jou regte is; van watter dinge jy kennis behoort te dra; en hoe ’n mens te werk kan gaan om veiligheidsbewustheid in ’n woonbuurt te kweek.

Die modules van die gids verduidelik verder wat die bou­stene van ’n veilige gemeenskap is. Soveel kennis as wat moontlik is oor die woonbuurt moet ver­samel word.

’n Opname moet gemaak word van die grondliggende oorsake van probleme: rommel wat opgaar, geboue wat verlate en verwaarloos is; ongewenste elemente soos leeglêers; dwelmmisbruik; lede van ’n gemeenskap wat om welke rede ook al besonder kwesbaar is – ouderdom, ongesteldheid, vereensaming en dies meer.

Nóg ’n module beklemtoon die noodsaak van ’n gedragskode vir lede van ’n buurtwag, terwyl ’n ander module onderrig in praktiese dinge gee soos die han­tering van ’n misdaadtoneel en die rapportering van voorvalle.

Die laaste module handel oor die nakoming van die vereistes van die betrokke wetgewing: dinge soos die verpligte akkreditasie van ’n buurtwag en hoe te werk gegaan moet word om aansoek te doen vir finansiering en toerusting.

Dit is werklik die moeite werd om hierdie gids deeglik te bestudeer in aanloop tot die vestiging en registrasie van ’n buurtwag. Oorweeg dit gerus as by jou nog nie ’n buurtwag is nie. So nie, gaan sluit aan!

Wildernis se waternood

Dit gebeur só dikwels dat woonbuurte se infrastruktuur in duie stort – gewoonlik vanweë ouderdom en ’n gebrek aan instandhouding – dat ’n mens nie meer daaroor skryf nie.

Tog wil ek iets vertel van wat onlangs gebeur het by Wildernis en om­gewing – daardie bekende fraai dorpie tussen George en Sedgefield.

Baie lesers sal vertroud wees met die historiese treinbrug oor die Kaaimansrivier wat helaas in onbruik geraak het nadat grondstortings die spoorlyn erg beskadig het.

Dié brug is onlangs tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Wat ek nie geweet het nie, is dat die brug ook die roete verskaf vir ’n reusepyp wat water vir Wildernis en omstreke verskaf. Dis ’n ou pyp wat vroeg in Oktober finaal gebreek het, met potensieel rampspoedige gevolge vir die mense van Wildernis.

Wat my mateloos beïndruk, is hoe die munisipaliteit van Georg­e die krisis bestuur het.

By haas elke woning is ’n netjiese, beknopte tweetalige kennisgewing afgelewer wat die publiek volledig en omvattend ingelig het van wat die krisis veroorsaak het; wat dit vir in­woners inhou; hoe die herstelproses gaan verloop; en wat inwoners se bydrae kon wees om die ongerief vir almal sover moontlik te verlig.

Alle werkers sal met veiligheidstoue aan die brug vas­gemaak word terwyl hulle werk, en touwerk-veiligheidsbeamptes sal toesig hou.

Veral die paragraaf wat in “goeie” Afrikaans vertel van die herstelproses verdien om herhaal te word: “Herstelwerk sal begin wanneer die brug struk­tureel veilig is. Pype sal oor gevaarlike terrein gedra en aan die brug geheg word – nadat alle nodige strukturele verbeterings aan die brug aangebring is.

“Alle werkers sal met veiligheidstoue aan die brug vas­gemaak word terwyl hulle werk, en touwerk-veiligheidsbeamptes sal toesig hou.”

Die kennisgewing verduidelik noukeurig waar waterpunte opgerig sou word; dat die proses op die munisipaliteit se Facebook-blad en ander sosiale media gevolg kon word; en hoe lank die herstelwerk na verwagting sou duur.

Die datum van 20 Oktober is in die vooruitsig gestel en – jou werklikwaar – teen 22 Oktober het die water weer fluks gevloei.

Welgedaan, George-munisipaliteit!

Dít is hoe ’n plaaslike owerheid mos met sy burgers en belastingbetalers behoort om te gaan. Dit is ’n uitmuntende voorbeeld vir ander munisipaliteite.

’n Ou kiestand en ’n windverwaaide 100-jarige

Vriend Callie se een kiestand het op die vooraand van ’n oorsese reis middeldeur gebreek. Daar was nie tyd vir ’n uitgerekte proses om die tand te probeer red nie.

“Trek maar, dokter” was sy opdrag aan die jeugdige tandarts. En hét die mannetjie gespook! Later probeer Callie hom gerus stel: “Onthou, jong man, hierdie tand sit al 70 jaar daar op sy plek.”

Onthou, jong man, hierdie tand sit al 70 jaar daar op sy plek.

Uiteindelik is die tand uit en kon my vriend vliegtuig toe verkas.

Dit laat my dink aan ’n insetsel wat ek onlangs op ’n Amerikaanse televisiekanaal gesien het. Ter viering van ’n bekkige dame se 100ste verjaardag is met haar ’n onderhoud gevoer.

Sy vertel van hoe ’n sterk wind haar skirtjie opgelig het, maar hoe sy eerder verbete haar hoedjie vasgeklou het.

Toe ’n jeugdige verbyganger haar aanraai om die hoed te laat gaan en liewer die skirtjie betaamlik te maak, was haar antwoord dat alles wat hy doer onder kon sien al ’n eeu oud is, “. . . but this is a brand new hat!”

Plesierige naweek. 

  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. 
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.